Zimbabwe sukkel steeds met staatsdiensbetalings

Deel op

Die Zimbabwiese regering sukkel steeds om sy horde staatsamptenare te betaal. Tagtig persent van staatsuitgawes bestaan uit salarisse wat maandeliks ‘n allamintige $260 miljoen opslurp. Ná jare van “bevryding” is Zimbabwe se ekonomie nie veel groter as ‘n middelgrootte SA stad soos Rustenburg s’n nie, dus kan die land kwalik dié reusebedrae aan salarisse bekostig.

Volgens Zimbabwiese webblaaie was die Mugabe-bewind nie in staat om sy soldate op 14 Julie te betaal nie. Hulle word gewoonlik op die 14de van die maand betaal, maar banke het nie die geld vandeesmaand ontvang nie. Die lojaliteit van sy weermag is vir die Mugabe-bewind belangrik en daarom sou daar verwag kon word dat ten minste die soldate se soldy eerste betaal sou word.

Die staatsdiensminister, Prisca Mupfumira het gister aan die Daily News gesê dat die regering teen vandag “‘n duidelike padkaart” sal aankondig.

“Ons sal teen môre (vandag) in ‘n posisie wees,” het Mupfumira gesê sonder om enige verdere besonderhede te verskaf.

Vergaderings tussen die regering en staatsamptenare was tot dusver vrugteloos om die salarisprobleem te probeer oplos. Laat betalings van staatsdienssalarisse en pensioene vind reeds maande lank plaas. Veral pensioenarisse trek noustrop en betaaldatums word telkens verder en verder in die toekoms in verskuif.

Ook onderwysers is bekommerd oor hul salarisse, volgens die voorsitter van die onderwysersvakbond, Richard Gundani. Volgens hom wag hulle steeds op die regering om die betaaldatums aan te kondig.

Vroeër vandeesmaand het staatsdienspersoneel, waaronder onderwysers en mediese personeel begin staak wat hospitale en skole verlam het nadat die regering nie hul salarisse betyds kon betaal nie.

President Robert Mugabe, wat deur die toedoen van die Britse diplomaat Baron Robin Renwick die mag in die oud-Rhodesië verower het, is reeds 36 jaar aan bewind en het in dié tyd die eens veruitstrewende Rhodesië in die mislukte staat van Zimbabwe omskep.

Onlangs was daar ook ‘n wegbly-aksie wat deur pastoor Evan Mawarire georganiseer het, wat tot verspreide voorvalle van polisiegeweld teen inwoners gelei het.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.