’n Griekse hof sal Donderdag uitspraak lewer oor die lot van agt Turkse militêre offisiere wat met ’n helikopter land uit gevlug het ná die mislukte staatsgreep in Turkye.
Die agt staan tereg op klagte dat hulle die land onwettig binnegekom het en die Griekse lugruim geskend het, het AFP berig.
Die agt weermaglede het om asiel in Griekeland aansoek gedoen en hou vol dat hulle nie deel van die komplot was om die Turkse regering omver te werp nie. Hulle sê die polisie het op hulle geskiet en hulle het gevlug om hul lewens te red.
Nagenoeg 7 500 mense onder wie baie militêre personeel word in Turkye aangehou. Byna 9 000 offisiere is die naweek sedert die mislukte komplot ontslaan.
Die Turkse mans wat tereg staan in Griekeland, het Saterdag met ’n militêre helikopter in die noordelike stad, Alexandroupolis, 300 kilometer van Istanboel, aangekom nadat hulle ’n noodsein uitgestuur het.
Die agt mans het Maandag in die hof verskyn en bly in aanhouding.
Turkye se kommerwekkende suiwering van amptenare in die lig van Vrydag se mislukte staatsgreep het nou ook na die onderwysterrein uitgebrei.
Die ministerie van onderwys het meer as 15.000 werknemers geskors, en volgens die staatsnuusagentskap het die Hoër Onderwysraad opdrag gegee dat meer as 1500 Dekane by privaat en staatsuniversiteite afgedank word.
Die VN se hoof van menseregte, Zeid Ra’ad Al Hussein, sê hy is baie bekommerd oor Turkye se massaskorsing van regters en aanklaers na die staatsgreeppoging.
Hy het ook die moontlike herinstelling van die doodstraf as ‘n stap agteruit bestempel.
Intussen het die VSA nog nie ‘n formele aansoek ontvang vir die uitlewering van die uitgeweke Moslemkerkleier, Fethullah Gulen nie.
Die Turkse president Tayyip Erdogan hou vol dat Gulem die baasbrein agter die naweek se mislukte staatsgreep is. Meer as 200 mense is in die geweld dood.