VN-konvensie oor volksmoord glo nie terugwerkend

Deel op

“Vergoeding” en “reparasie” is volgens die Duitse regering nie van toepassing op die geskiedkundige konteks van die volksmoord tussen 1904 en 1908 van die Ovaherero en Nama in Namibië nie.

Dit blyk uit die antwoord van ‘n woordvoerder van die Duitse federale kantoor van buitelandse sake, dr. Martin Schäfer.

Hy sê die posisie van die Duitse regering is onveranderd en die regering stem saam dat ‘n oorlog van uitwissing ooreenstem met oorlogsmisdade en volksmoord en dat dit inderdaad die regering se posisie is.

‘n Woordvoerder van die kantoor van buitelandse sake, me. Sawsan Chebli, het op 13 Julie gesê die Duitse regering het hom reeds vantevore duidelik oor die volksmoord uitgespreek.

Volgens die Duitse regering kan die Verenigde Nasies (VN) se konvensie op volksmoord nie terugwerkend toegepas word nie. Desnieteenstaande kan die definisie volgens die VN-konvensie, as maatstaf vir nie-wetlike ontledings van geskiedkundige gebeure soos die volksmoord in openbare geskiedkundig-politieke debatte gebruik word.

“Die Duitse regering is van mening dat uit hierdie geskiedkundig-politieke konteks die term ‘volksmoord’ geen wetlike gevolge kan inhou nie.

“Die regering het ook bevestig dat die terme ‘reparasies’ en ‘vergoeding’ nie van toepassing is op die geskiedkundige agtergrond en in die konteks van Duits-Namibiese onderhandelinge nie,” het ‘n Duitse regeringswoordvoerder gesê.

Op die vraag of die Herero- en Nama-slagoffergroep in die bilaterale onderhandelinge ingesluit gaan word, het die Duitse regering by wyse van ‘n verklaring vrygestel deur middel van die Duitse ambassade in Windhoek, gesê: “Die betrokkenheid van die slagoffergroepe is ‘n interne aangeleentheid vir die regering van Namibië.”

Chebli het ook aan die media gesê die Duitse en Namibiese regering werk aan ‘n gesamentlike verklaring met ‘n gemeenskaplike “taal” oor die geskiedkundige gebeure en ‘n Duitse verskoning wat deur Namibië aanvaar moet word.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.