Turkye se ‘staatsgreep’ lyk na Islamitiese suiweringsveldtog

Deel op

Nagenoeg drieduisend vermeende militêre samesweerders is in Turkye in hegtenis geneem, ná ‘n mislukte staatsgreep Vrydagnag.

Duisende regters, staatsaanklaers, militêre leiers en soldate is gevange geneem en lasbriewe vir die ander se inhegtenisname is uitgereik.

Verskeie regsgeleerdes, onder wie tien regters en twee lede van die die grondwethof word ook aangehou in wat deur ontleders bestempel word as ‘n Islamitiese oorname van ‘n sekulêre staat wat deur die president self gelei word.

Rusland het Turkye vroeër daarvan beskuldig dat hulle ISIS steun deur die internasionale terreurgroep se gesteelde olie te herverkoop.

Die Turkse president, Tayyip Erdogan het intussen gewaarsku dat daar streng opgetree sal word teen diegene wat die staatsgreeppoging aangehits het.

Vrese dat Erdogan met mening gaan toeslaan op sy sekulêre teenstanders, het intussen opgevlam.

Minstens 265 mense is dood toe rebellesoldate Vrydagaand tenks, helikopters en vegvliegtuie ingespan het in ‘n powere poging om Erdogan se regering omver te werp.

Min van die vereistes vir ‘n suksesvolle staatgreep is egter nagekom en die vermeende poetsjiste het glo selfs gesorg dat die president nie tuis is nie. Hulle het ook geen ander leier in sy plek voorgestel nie.

Volgens die jongste syfers is 265 mense dood, wat 104 samesweerders insluit.

Die Amerikaanse president, Barack Obama het intussen sy land se steun aan die Turkse regering herbevestig.

Die president van die Turks-Suid-Afrikaanse Vriendskapsinisiatief, Abubekir Salim, het die mislukte staatsgreep veroordeel.

Salim sê hulle sal voortgaan om enige “demokratiese metodes” te ondersteun om die situasie te stabiliseer. Hy het Turkse burgers by die ambassade in Pretoria toegespreek.

Salim het ook gesê hulle sal “enige verkose regering” in Turkye steun.

Chaos het ten minste agt uur lank in Istanboel en Ankara geheers terwyl rebelle brûe, die parlementegebou en ander sleutelgeboue probeer beset het.

Van die soldate wat gevang is, het gesê hulle was onder die indruk dat hulle aan ‘n militêre oefening deelneem.

Die Turkse president het beroep op Amerika gedoen om Fethullah Gulen, sy eertydse bondgenoot, uit te lewer omrede Gulen glo die staatsgreep “georkestreer” het.

Gulen het die aantygings met minagting verwerp.

Erdogan het by sy vakansiebestemming geskuil toe hy op sosiale media ‘n beroep op die publiek gedoen om hom te steun. Duisende Turke het hierop die strate ingevaar om die rebellesoldate te konfronteer.

Die rol wat moskees regoor die land gespeel het in die mobilisering van Erdogan se ondersteuners soos die staatsgreep ontvou het, was deurslaggewend, maar ook ‘n teken van die ondergang van sekulêre Turkye.

Honderde Erdogan-ondersteuners het Saterdagaand op pleine, die lughawe in Istanboel en buite sy paleis bymekaargekom om hul steun te wys.

Turkye, ‘n lid van NAVO met graag deel van die Europese Unie (EU) wil word, is die deurgang vir die miljoene migrante wat jaarliks na die EU stroom.

Tans pers die president die EU af vir hulpgeld om die migrantestroom onder beheer te hou, maar met die jongste gebeure wat lyk na ‘n gereëlde toneelopvoering om van sekulêres ontslae te raak, kan die immigranteprobleem in Europa verder vererger.

Onstabiliteit in Turkye, wat as buffer tussen Europa en Sirië dien, kan met die voortslepende vlugtelingkrisis enorme gevolge vir Europa inhou.

Die Turkse Grondwet is intussen verander om net verwysings na Allah alleen te bevat.

Gulen het die staatsgreep veroordeel en bygevoeg dat dit aan Erdogan ‘n verskoning bied om met mening op enigeen toe te slaan wat van hom verskil in wat hy as ‘n suiweringsveldtog bestempel eerder as ‘n staatsgreep.

John Kerry, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het gesê Washington sal met die Turkse owerheid saamwerk, maar dat Gulen nie uitgelewer sal word sonder bewyse dat hy betrokke was nie.

Kerry het ook verbaas gereageer op hoe onbeholpe die vermeende staatsgreep uitgevoer is.

Honderde soldate word in Ankara aangehou, onder wie die bevelvoerder wat spesifiek in beheer is van die beveiliging van Turkye se grens met Sirië, Irak en Iran.

Erdogan se Islamitiese ideologie is in stryd met die weermag, wat al meermale staatsgrepe gebruik het om moderne Turkye se sekulêre grondslag te beskerm.

Die Franse regering het gewaarsku dat die mislukte staatsgreep nie president Recep Tayyip Erdogan rede gee om van die opposisie ontslae te raak nie.

Die minister van buitelandse sake Jean-Marc Ayrault het aan die Franse media gesê daar moet binne die raamwerk van die wet opgetree word.

Vanoggend het die Turkse nuusagentskap gesê bykomende polisiebeamptes is na Istanbul ontplooi in die lig van Vrydag se mislukte staatsgreep.

Hulle patrolleer die strate en het opdrag gekry om enige helikopter af te skiet wat oor die stad vlieg.

Die Turkse president oorweeg tans om die doodstraf weer in te stel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.