Sewe in aanhouding na Nice-aanval

Deel op

Franse owerhede het nóg twee mense in hegtenis geneem in die ondersoek na die Bastille Dag vragmotoraanval in Nice waarin minstens 84 mense dood is.

Die jongste inhegtenisnemings bring die totale aantal verdagtes op sewe te staan.

‘n Amptenaar verantwoordelik vir nasionale terreurondersoeke by die aanklaer se kantoor in Parys, wat anoniem wou bly, het gesê ‘n man en ‘n vrou is vanoggend in hegtenis geneem in Nice.

Hy het bygevoeg dat vyf mense wat vroeër aangekeer is in aanhouding bly.

Owerhede probeer vasstel watter hulp die vragmotorbestuurder en inwoner van Nice, Mohamed Lahouaiej Bouhlel, gehad het.

Die internasionale terreurgroep ISIS het verantwoordelikheid aanvaar vir die 31-jarige Tunisiër se massamoord op burgerlikes Donderdagaand.

ISIS het aan die Aamaq-nuusdiens bevestig dat die vragmotorbestuurder ‘n “soldaat van ISIS” is.

Berigte dat die vragmotor wat Bouhlel bestuur het, toegerus was met koeëlvaste ruite, is intussen deur anonieme bronne na aan die ondersoek ontken.

Foto’s wat ná die tyd van die vragmotor se kajuit geneem is, toon duidelik dat verskeie skote deur die glas gedring het.

Die voorruit is nie daardeur nie versplinter nie, wat daarop dui dat dit nie ‘n koeëlvaste ruit was nie.

Die Tunisiër het die vragmotor by Location gehuur, nadat hy vir die grootste voertuig gevra het wat die bekende Franse verhuringsmaatskappy beskikbaar het.

Die maatskappy het die verhuring bevestig maar gesê amptenare van binnelandse sake het hulle nou belet om verder met die media te skakel.

‘n Werknemer het vertel dat die terroris die verhuringmaatskappy twee keer besoek het en alhoewel hulle nie kameras op die perseel het nie, kon hulle die dader presies beskryf.

Die Franse minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, het intussen gesê dit is in ‘n nuwe tipe bedreiging sonder die gebruik van outomatiese wapens.

Maar die familie van die Tunisiër wat 84 mense in Nice in Frankryk doodgery het, het onthul dat hy jare lank sielkundige behandeling ontvang het.

Selfs voordat hy Tunisië in 2005 verlaat en in Frankryk gaan woon het, is hy behandel. Dit mag dalk dui op psigiese voorbereiding vir die gru-daad wat hy verlede week uitgevoer het.

Mohamed Bouhlel se suster, Rheb, sê haar broer het sielkundige probleme gehad, en die familie het dokumente aan die Franse polisie gewys wat daarop dui dat hy psigiaters besoek het.

Intussen het besoekers aan die jaarlikse Bastillefees op Franschhoek in die Boland hulde gebring aan die slagoffers van die massaslagting deur ‘n internasionale terreurgroep by ‘n soortgelyke fees die afgelope week in Nice in Frankryk.

Veiligheidsmaatreëls by die plaaslike fees op Franschhoek is verskerp. Van die besoekers het gesê hoewel hulle die fees baie geniet, dink hulle aan wat in Frankryk gebeur het.

RSG het die massaslagting ‘n “vragmotorramp” genoem.

Die Franse anti-terreureenheid het ‘n SMS-boodskap op ‘n selfoon gekry wat aan die terroris behoort het wat lees: “Ek het die toerusting”.

Die nuutste onthulling van Franse ondersoekers dui heel waarskynlik op ‘n geheime ISIS-terreurnetwerk wat die aanvalle waarin 84 mense omgekom het, goed beplan het.

Wapens en handgranate was in die ruim van sy gehuurde vragmotor.

Hy het die Promenade des Anglais in Nice op Dinsdag 12 Julie en Woensdag, 13 Julie gaan verken en kan gesien word op geslotekring-TV waar hy die gebied met fyn belangstelling dophou, het Europ1 berig.

Een van die polisie-agente het aan L’Obs beskryf hoe hulle die terroris doodgeskiet het.

Hulle is per radio ontbied en toe hulle die vragmotor gewaar was dit nie vir die polisiebeamptes dadelik duidelik dat hulle met ‘n terreurdaad te make het nie.

“Ek het nie dadelik verstaan wat ek sien nie,” het hy gesê. Hy was ongeveer 15m van die vragmotor.

Een voetganger het op die vragmotor gespring en die bestuurder het ‘n handwapen uitgeruk.

Die bestuurder het op die beamptes begin skiet en hy is daarna doodgeskiet.

‘n Aantal beamptes het losgetrek op die wit vragmotor, maar is beveel om vuur te staak, nadat die bestuurder in die kop geskiet is en agteroor geval teen die passasiersvenster.

Idris Elba se jongste rolprent, Bastille Day, is aan teaters in Frankryk onttrek na Donderdag se dodelike vragmotoraanval in Nice.

Elba se rolprent, wat handel oor ‘n sameswering om ‘n bom in Parys te laat ontplof is Woensdag in Frankryk bekendgestel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.