Dan Roodt: Ná Nice lyk ANC-terreur en NP-oorgawe nóg skrikwekkender

Deel op

Donderdag se bloedige terreuraanval in Nice deur die Moslemvragmotorbestuurder Mohamed Lahouaiej-Bouhlel het oor die aardbol weergalm. Die aaklige gewetenloosheid van terrorisme is opnuut onder die kollig. Ironies genoeg het die leier van die ANC en president van Suid-Afrika, Jacob Zuma, sy medelye aan die Franse volk betuig.

Ironies, want nie lank gelede nie het die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty lustig van dié lafhartige metode van “oorlogvoering” gebruik gemaak. Die Kerkstraatbom, die Amanzimtoti-bom, Magoo’s Bar en baie ander voorvalle is nog vars in ons geheue.

za-nl_roodt-danDie enigste verskil met die huidige voorvalle in Frankryk (Parys, Nice) en die VSA (Orlando) is dat die hoofstroommedia terreur afkeur, waar hulle dit nie aan die “beskikbaarheid van wapens” toeskryf nie. Ná Nice sal van die meer liberale en linkse meningsprekers seker argumenteer teen “die beskikbaarheid van gehuurde vragmotors”.

Feit is egter dat daar onder gewone mense ‘n wêreldwye afkeer van terreur aanwesig is. Maar danksy die medepligtigheid van die hoofstroommedia, veral in Londen, met die ANC-SAKP in die tagtigerjare, is daardie terroristegroep se aanvalle op burgerlikes nie met dieselfde afgryse verwerp as wat tans die geval is nie. Selfs koningin Elizabeth II van Brittanje het oor die afgelope paar dae haar meegevoel met die Franse Republiek uitgespreek. Ek herinner my nie dat sy dieselfde meegevoel met die Republiek van Suid-Afrika ná 20 Mei 1983 betoon het toe die ANC die Kerkstraatbom in Pretoria laat ontplof het nie.

Gebeure wat so skokkend en radikaal is soos Nice of verlede jaar se aanvalle op die Bataclan-kafee en ander plekke in Parys, wat ongeveer 130 mense gedood het, verander die geskiedenis. Die hele verhaal van derdewêreldopstand teen die Weste is besig om voor ons oë herskryf te word. Die Westerling, die blanke, is skielik nie meer die dader of booswig nie, maar die slagoffer en lid van ‘n bedreigde spesie.

Wat vir die Franse geld, geld ook vir ons. Die terreur waarmee die ANC en die SA Kommunisteparty die land se futlose leiers destyds oorrompel het, was ewe immoreel en afskuwelik as Mohamed Lahouaiej-Bouhlel wat hele gesinne met hul ewe onskuldige kinders voor die voet met sy vragmotor en vuurwapen afgemaai het.

Mev. Marine Le Pen, die opkomende regse Franse politikus wat aanstaande jaar gaan poog om in die presidentsverkiesing die leisels by die uiters ongewilde Sosialis François Hollande oor te neem, het nie gehuiwer om ‘n baie sterk boodskap uit te stuur dat Frankryk haar met alle mag teen radikale Islamterreur moet verdedig nie. Sy eis dat die minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, wat ook met veiligheid belas is, moet bedank. Ook wil sy hê dat die militêre begroting tot 3% van die land se bruto nasionale produk verhoog moet word, dat die inligtingsdienste moet verbeter en dat daar ‘n spesiale polisie-eenheid teen terrorisme in die lewe geroep moet word.

Ons as Afrikaners kan net hoop dat sy, asook mnr. Donald Trump wat hom insgelyks teen Islamitiese terreur uitgespreek het, in hul onderskeie presidentsverkiesings sal slaag. Terselfdertyd kan ons nie anders as om weer die hoofstuk van mnr. FW de Klerk se onbesonne kapitulasie voor ekstremistiese terreur deur die ANC en Kommunisteparty te open nie.

Daar waar ander volkere bereid is om saam te staan en terreur met wortel en tak uit te roei, het die Afrikanerelite onder invloed van linkse buitelandse meningsvormers en die plaaslike media – wat nog altyd anti-Afrikaans en selfs anti-Suid-Afrikaans was – besluit om aan die duiwelse geweldenaars oor te gee.

Daardie oorgawe het geen vrede gebring nie, inteendeel. ‘n Mens kan die afgelope twee dekades van regering deur die voormalige terroristeorganisasie as die “voortsetting van terreur met ander middele” bestempel. In die plek van bomme op straat en in winkelsentrums het plaasmoorde, huisaanvalle en ongebreidelde misdaad gekom. In haar reaksie op die terreur in Nice, het mev. Le Pen ook klem gelê op die deels misdadige element van die terreur wat haar land tans teister sodat Franse gevangenisse “universiteite vir terreur” geword het. Arabiere en swartes wat vir gemeneregoortredings gevonnis word, word in die tronke verpolitiseer en geleer om die inheemse Franse te haat. Mohamed Lahouaiej-Bouhlel is so ‘n geval, wat reeds vir gewone misdaad gevonnis is, maar wat as immigrant nie uit die land gesit is nie en hom toe tot Islamitiese terreur gewend het.

Die uitgebreide bedrog, diefstal, korrupsie en ander misdaad wat die ANC-terroristegroep pleeg sedert hy aan bewind gekom het, spreek van dieselfde “vloeibaarheid” tussen misdaad en politiek in Suid-Afrika. Die rede waarom “regimeverandering” in die vroeë negentigerjare hier by ons moes plaasvind, had min te make met die “politieke regte van gekleurdes” en meer met die wil om die staat, die munisipaliteite en selfs privaat bates na willekeur te kom stroop.

Terreur verteenwoordig ‘n internasionale misdaad, maar terreur werk ook ander soorte misdaad en geweld in die hand wat op die oog af nie polities of ideologies gemotiveer is nie. Dit maak van terreur inderdaad ‘n tweesnydende swaard wat op die duur vir state en volkere vernietigend is. Indien die Afrikanervolk in Suid-Afrika ophou bestaan, sal dit regstreeks aan terreur en die gevolge daarvan te wyte wees.

Anders as die negatiewe beeld wat die hoofstroommedia van haar skets, is mev. Marine Le Pen ‘n uiters bekwame politikus wat met streng logiese argumente poog om kiesersteun te werf. Enigeen wat Frans verstaan, kan haar TV- en radio-onderhoude aanlyn volg en moet onder die indruk van haar bedrewenheid as debatsvoerder kom. Dikwels ontwapen sy haar teenstanders met haar welsprekendheid, kwinkslae en kennis aangaande politieke en maatskaplike kwessies.

Dog mev. Marine Le Pen word gerugsteun deur honderde en selfs duisende Franse intellektuele, skrywers en meningsvormers wat te velde trek teen die dekadente toestand waarin dekades van lakse sosialistiese en hoofstroom- regse regering die land gelaat het.

In dié opsig kan Afrikaners maar net die Franse beny, al het ons nie onlangs onder ‘n massaterreuraanval deur die ANC-SAKP, APLA of ander ekstremistiese organisasies deurgeloop nie. Frankryk staar baie groot probleme in die gesig en word van alle kante bedreig, maar nogtans is daar sprake van ‘n rasionele reaksie by die bevolking en hul leiers.

Hier by ons is Afrikaners, ná twintig jaar van histeriese propaganda deur die einste gewetenlose terreurbeweging, soos slaapwandelaars wat besig is om op ‘n afgrond af te stuur. Van rasionele denke is daar min tekens. Erger, die oorblyfsels van die Afrikanerelite wat nog nie deur die meedoënlose “transformasies” van die ANC-SAKP-terroriste vernietig is nie, het vir alle praktiese doeleindes na die vyand toe oorgeloop.

Waar hulle nie letterlik by die ANC aangesluit het nie, tree hulle as meelopers van die huidige bewind op. Sulke meelopers maak jag op die enkele oorblywende figure of groepe wat poog om nog ‘n kersie van insig in die duisternis al flikkerende te laat brand.

Geen wonder dat die terreuraanval in Nice binne ‘n dag of so vanuit die plaaslike media verdwyn het nie, want ons joernaliste en meningsvormers verkies om as apologete vir terreur niks oor die aangeleentheid te sê nie. Hulle hoop dat niemand die parallel tussen die huidige Frankryk en Suid-Afrika in die tagtigerjare sal trek nie.

Die definisie van terrorisme soos dit in vele internasionale wette en konvensies, asook woordeboeke, opgesom word, is:

“Die gebruik van geweld en dreigemente om te intimideer of te dwing, veral vir politieke doeleindes.”

Tot Suid-Afrika se groot skande, is die land deur lafhartige terreur en intimidasie tot oorgawe gedwing. Sekerlik het die verraad van die Afrikanerelite ‘n groot rol daarby gespeel, maar dit neem nie weg dat ons in die eerste plek – soos Frankryk en ander lande tans – met terreur te kampe gehad het nie.

Daardie joernaliste, skrywers, akademici en meningsvormers wat aanhou om die ANC op te hemel en sy aanhoudende terreur en misdade te verskoon of te regverdig, is as meelopers ewe medepligtig aan terreur as die ANC en sy verwante organisasies self. Max du Preez, Adriaan Basson, Piet Croucamp, Christi van der Westhuizen, selfs meer “gematigde” of “behoudende” figure soos Leopold Scholtz of Tim du Plessis, is almal terroriste of terroristemeelopers. In vele Europese lande bestaan daar deesdae wetgewing wat terroriste en hul apologete of diegene wat terreur verdedig of aanhits, oor dieselfde kam skeer.

Dat ‘n kentering in die Westerse wêreld besig is om plaas te vind, is gewis. Sowel Donald Trump as Marine Le Pen mag dalk nie aan bewind kom nie. Nogtans sou ek uiters verbaas wees indien albei teen die gediskrediteerde links-liberale establishment in die VSA en Frankryk sou verloor, gegewe die tragiese terreurdade wat kort-kort plaasvind.

Die wiel draai stadig, maar hy draai. Die dag is dalk nie meer ver dat ons nie langer in die media gaan verneem dat Joe Slovo, Ronnie Kasrils en Aboobaker Ismail, asook Solomon Mahlangu na wie etlike strate in Pretoria vernoem is, nie blote “anti-apartheidsaktiviste” was nie, maar terroriste soortgelyk aan Mohamed Lahouaiej-Bouhlel.

As daardie dag aanbreek, sal ons ook met die terroristemeelopers afreken, wat elkeen etlike jare in die gevangenis verdien.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.