Namibiese hof knip SA hoenderbedryf se vlerke

Deel op

Die aansoek deur Suid-Afrikaanse pluimveeprodusente teen die invoerbeperkings wat in Namibië ingestel is om die plaaslike bedryf te beskerm, het in Windhoek se hoërhof misluk.

‘n Namibiese regter het Vrydag beslis die aansoek van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging en vyf ander maatskappye betrokke in die buurland se pluimveebedryf teen die beperkings op invoere wat gedurende April 2013 ingestel is, was te laat ingedien.

Die gronde vir die regsgeding is die kennisgewing wat gedurende April 2013 deur die minister van handel en nywerheid gepubliseer is en waarvolgens sekere kwantitatiewe beperkings op die invoer van pluimveeprodukte na Namibië ingestel is.

In terme van hierdie beskermingingsmaatreël vir Namibië se ontluikende pluimveebedryf mag nie meer as 900 ton pluimveeprodukte per maand na Namibië ingevoer word nie.

Ueitele het die aansoek deur die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging en die Suid-Afrikaanse pluimvee-uitvoerders Astral Foods Beperk, Crown Chickens (Edms.) Bpk., Sovereign Foods, Agri Poultry (Edms.) Bpk. en Rainbow Farms (Edms.) Bpk. teen Namibië se minister van handel en nywerheid, die regering, die Namibiese Pluimveebedryf (Edms.) Bpk. en die Namibiese Vleisraad van die hand gewys.

Die Suid-Afrikaanse aansoekers het die hof versoek om die beperkings op hoenderinvoere na Namibië te hersien en op te hef, sonder sukses.

Die aansoekers is ook beveel om respondente se regskoste te betaal.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.