Brief: My pa was ‘n donkie

Deel op

My Pa het my altyd vertel hoe hulle op skool ‘n bord met die woord “Donkie” om hulle nek moes dra elke keer as hulle swak gedoen het met die Engels. Nou vir ‘n jong Boere-lat was Engels nie die maklikste ding op aarde nie en die gevolg was dat hy menige pouses as ‘n “Donkie” saam met sy maats moes speel.

Snaaks hoe dit wat eens was, maar net weer is. Kyk mens na die hele taaldebakel op ou Afrikaanse universiteite wat moet verengels, sien mens hierdie selfde Engelse (imperialistiese) hovaardigheid al weer voor ons afspeel. Afrikaans word in debat na debat beskou as uitgedien in die nuwe wêreld en Engels, Engels, Engels, is al wat ons hoor. Wat skokkend is, is wanneer mens tot die besef kom dat die besluite oor die bestaan van Afrikaans nie geneem word deur Engelse mense nie, maar deur Afrikaanses. Dit wil voorkom of die Elite-Afrikaner tot die besef gekom het dat indien hulle hulle status wil behou, hulle moet wegbeweeg van die kombuistaal en meer gesofistikeerde Brits moet praat. In soveel woorde reken hulle Afrikaans is uitgedien en dat dit sinneloos is om aan te gaan om mense in die taal op te voed.

Dus- Die Afrikaner-/Afrikaanse akademiese elite se boodskap aan die res van ons is –“Julle tyd is verby”. Hulle het boedel oorgegee en ons moet aanbeweeg. Hulle besluit namens ons dat hierdie volk met hierdie taal se toekoms nie meer relevant gaan wees nie. Nou goed- my Engels is nie van die beste nie, maar hier is ‘n boodskap vir hulle in my beste Brits: “To hell with you!!” As mens dit moet vertaal in Afrikaans kan dit ook lees: “Vlieg binne julle moer in!”

Vir te lank sit ons mense met hierdie Calvinistiese minderwaardigheidskompleks waar jy inherente respek toon aan iemand wat geleerdheid het. Hierdie (ver-)leiers van die volk wat na ons belang moet omsien, verkoop ons keer op keer uit vir hulle eie persoonlike gewin of om hulle eie opinie te bevorder. Die tyd het gekom om ons rug te draai op hierdie mense wat nalaat om ons belange te beskerm wanneer hulle in sodanige posisies is om dit te doen. Die besef moet tot ons deurdring dat ons volkie se voortbestaan in ons eie hande is en dat enige iemand wat dit teenstaan as vyandig beskou moet word. Vir te lank blameer ons die regering, ander rasse en politieke partye vir die verlies van ons eie bates terwyl die grootste skade aangerig word deur die Afrikaner-/Afrikaanse Elite agter toe deure.

Een van die groot uitdagings van universiteite was nog altyd die gaping tussen die akademie en die praktyk. Studente leer ‘n ding in ‘n boek, maar as hy in die praktyk instap, is dit baie anders. Net so het hierdie Elite ‘n goeie akademiese punt, maar ons, die mense, is die praktyk en die twee is tans ver verwyderd.

Ons volk het nie onstaan uit geleerdes nie; dit was rowwe bliksems wat hier aangekom het, harde manne wat op die myne gewerk het, bywoners was, geboer het en transport gery het oor die vlaktes en berge. Harde werkers. Donkies. Nou, behalwe vir die feit dat ons Saligmaker op ‘n donkie die stad ingery het, is daar ‘n ander ding van ‘n donkie wat jy moet weet. Hy het ‘n wil van sy eie. So hard soos wat hy kan werk, net so steeks kan die donner word. Vir jare het hulle bordjies om ons nekke gehang en ons “Donkies” genoem. Dalk is dit tyd om hierdie realiteit te aanvaar. Dalk is dit tyd om te aanvaar dat ons ‘n hardwerkende, nederige, moedswillige volk is. Die tyd het gekom dat ons vassteek soos net ‘n donkie kan en weier om ‘n hel verder in die pad af te stap waarheen die Elite ons lei, ‘n pad waar Afrikaans nie meer relevant is nie, ‘n pad waar ons alles wat ons uniek maak, moet opoffer omdat dit akademies en polities nie aanvaarbaar is nie.

My Pa was ‘n “donkie”. Eerlik, hardwerkend en nederig. Hy het die spot as kind verduur en met sy eie hande vir hom en vir sy gesin ‘n lewe gemaak al was dit op daardie tydstip onaanvaarbaar om swak Engels te praat. Hy het gestaan by wat vir hom reg is, moedswillig en hardkoppig. Dalk is dit hoekom Oom Siener die volk altyd as donkies in sy gesigte gesien het. Die punt is – ek is eerder ‘n opregte, moedswillige plaasdonkie as ‘n geleerde joiner-elite. My pa was ‘n donkie en so is ek. Jy kan nou maar vir ‘n donkie lag, maar wee die dag as hy vir jou raakskop.

– Vannermerwe

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.