Vier Suid-Afrikaners wat by ISIS wou aansluit vas

Deel op

Vier Suid-Afrikaners wat in verband met terreur aangekeer is, sal vandag in Johannesburg en aan die Wes-Rand in die hof verskyn.

Die drie mans en een vrou is almal in hul vroeë twintigs en vermoedelik Moslems.

‘n Woordvoerder van die Valke, Hangwani Mulaudzi sê hulle is Saterdag in Azaadville in Krugersdorp en Newclare in Randburg in hegtenis geneem voordat hulle na Sirië kon vertrek.

Die Valke het beslag gelê op ammunisie, skokgranate, rekenaars en dokumente, het RSG berig.

Twee van die verdagtes sal in Johannesburg in die hof verskyn en die ander twee in die landdroshof in Kagiso.

Buitelanders stroom na Sirië om by die Islamitisese Staat (ISIS) aan te sluit teen betaling.

Vroeër is berig dat ten minste 140 Suid-Afrikaners reeds by ISIS aangesluit het.

Veiligheidsamptenare sê egter geen militante groepe is sover bekend, in Suid-Afrika aktief nie.

Brittanje en Amerika het verlede maand waarskuwings gerig oor moontlike aanvalle op buitelanders in Suid-Afrika, maar Moslems is slegs 1,5% van die land se bevolking.

Die vier wou vermoedelik in Sirië gaan veg. Hulle is aangekeer voordat hulle die naweek sou vertrek en die lugredery waarmee hulle sou reis is ook kennis gestel.

ISIS het dié naweek ‘n helikopter afgeskiet van die Russiese lugmag naby die stad Palmyra in Sirië. Twee Russiese vlieëniers is dood toe hulle deur ‘n TOW-missiel getref is.

Dié Amerikaanse missiele wat deur ISIS bekom is, het tot vrae gelei oor die VSA se houding teenoor die terreurgroep.

President Vladimir Poetin se woordvoerder het nalv NAVO-oefeninge in Oos-Europa gesê dit is verbasend dat NAVO oos kyk en nie suid nie na waar die terreurbedreiging van ISIS groei.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.