Polisie brand los op San-jagters in Namibië

Deel op

Die Namibiese polisie het op ‘n groepie Barakwena San in die westelike deel van die Zambezi-streek losgebrand terwyl hulle op ‘n oes-ekspedisie vir duiwelsklou was.

Die San het ‘n permit van die ministerie van die omgewing en toerisme om duiwelsklou in die Bwabwata nasionale park te oes. ‘n Paar mans, vroue en ‘n baba het die dag voor die skietvoorval in die veld in die omgewing van Chetto gekamp.

Namibië voorsien tans in 97 persent van die wêreldvraag na duiwelsklou wat veral in Duitsland verwerk word as ‘n kruiemedisyne teen onder meer rumatiek en ander gewrigkwale.

Een lid van die San wat in die bene geskiet is, verkeer in ‘n kritieke toestand.

Die San beplan om ‘n klag van poging tot moord teen die betrokke owerheid aanhangig te maak.

John Johannes is in albei bene gewond en is na die Andara-staatshospitaal gebring.

‘n Verteenwoordiger van die Barakwena-mense, John Mundai Sililo, sê die groep het uitgekamp toe die polisie op die toneel opdaag en sonder enige waarskuwing op hulle begin skiet het.

Die voorval is bevestig deur Mushavanga David van die Kwe San, wat ook op die raad van die Namibiese San dien.

David sê ongeveer 20 skote is sonder aansiens des persoons met outomatiese wapens op die groep afgevuur “soos in ‘n oorlog”.

“Die gemeenskap vrees nou vir hul fundamentele menseregte en wil regsadvies oor die aangeleentheid inwin,” het David aan Republikein gesê.

Hy sê die groep oes-insamelaars het op Vrydag 1 Julie gaan kamp toe hulle ongeïdentifiseerde voetspore opgemerk het. Hulle het die bewaringsbeampte telefonies van die Chetto-kliniek af hieroor ingelig.

Op Sondag 3 Julie het hulle op reaksie gewag, maar teen sonsondergang het niks nog gebeur nie. Hy sê die spesiale veldmag het die volgende dag omstreeks 08:00 by die kamp opgedaag en van tussen 20 en 30 meter af op die uitgelewerde groep San begin skiet.

“Wat die groep en die gemeenskap verwar, is die geskietery op mense tydens die seisoen om duiwelsklou te oes,” het David gesê.

Sililo sê diegene wat duiwelsklou oes, lig gewoonlik die plaaslike polisie en raadslede van die nedersetting in alvorens hulle in die bos ingaan.

Gevolglik moes die teenstroping-eenheid die plaaslike mense geraadpleeg het en die inligting gebruik het om te besef dat hulle waarskynlik op die duiwelklou-oes-insamelaars sou afkom terwyl hulle na die vermeende wilddiewe soek.

Dié plantsaad waarvan kruiemedisyne gemaak word en waarvan Namibië die wêreld se voorste uitvoerder is, is amptelik op ‘n skedule van die Konvensie oor Internasionale Handel in bedreigde spesies, CITES, geplaas ondanks verset deur Namibië.

Duitsland, die grootste invoerder van duiwelsklou het die aansoek teen Namibië in 2002 gebring.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.