‘n Breëkoparend uit die Kruger Nasionale Park, die ster van ‘n Britse bewaringstelevisiereeks Fierce, is deur bestaansboere in Mosambiek gejag, het navorsers van die Universiteit van Kaapstad bevestig.
Die wyfiebreëkoparend van 4,6kg is vroeër vandeesmaand tydens ‘n dokumentêre program deur ‘n bekende TV-aanbieder Steve Backshall aan kykers voorgestel.
Die voël is toe toegerus met ‘n GPS-toestelletjie onder die wakende oog van die Britse span wat hierdie seldsame groot roofvoëls kom verfilm het.
Maar net ‘n paar weke later het die geveerde ster in die strik ‘n honger jagter in landelike Mosambiek beland, het die Universiteit van Kaapstad se navorsers gesê.
‘n Navorser van die Percy FitzPatrick Instituut vir Afrika Ornitologie se Sentrum vir Uitnemendheid by die Universiteit van Kaapstad, sê die voël se daaglikse patroon het skielik verander en hulle het onraad vermoed.
Die span het deur onherbergsame terrein gereis om die reste van die arend te probeer opspoor.
Hulle het uiteindelik die voël gekry met sy nek in ‘n strik vas, waarskynlik gestel om klein wildsbokke te vang.
Dit is die derde volwassene arend uit agt wat toegerus was met GPS wat binne drie jaar dood is. Twee ander het ook in jagters in Mosambiek se kospotte beland.
Daar was nog geen uitbarstings deur glanspersoonlikhede oor dié verwikkeling nie.