Bob blameer ‘derde mag’ vir opstand in Zim

Deel op

Verslae uit Zimbabwe sê ten minste 30 mense is in hegtenis geneem oor gewelddadige betogings Maandag in die land.

Die regering het gesê hulle sal ‘n moontlike derde mag agter die onlangse betogings wat opgevlam het, ondersoek.

Vrydag is ‘n regeringspakhuis by Beitbrug afgebrand, ‘n kitskoswinkel is geplunder en verkeersligte is ook gevandaliseer.

Die betogers het die stoor afgebrand oor Zimbabwe se besluit om ‘n verbod op ‘n groot aantal invoere te plaas.

Betogers in die hoofstad het op ‘n vernietingstog gegaan met klippe en brandende bande om paaie na die middestad van Harare af te sper.

Hulle het gesê hulle sal nie toelaat dat enige voertuie die stad bereik totdat die polisie hul daaglikse padblokkades staak nie.

Frustrasies oor die vinnig verswakkende ekonomiese omstandighede in Zimbabwe, tesame met ontevredenheid oor beweerde regeringkorrupsie en onbevoegdheid, het tot byna daaglikse betogings in onlangse weke gelei.

PRAAG het met swart reisigers in Zimbabwe gesels wat beweer dat die polisie glo ‘n aanslag op Mugabe vrees. Hulle stel egter met dié verskoning padblokkades op om buitelanders se besittings en geld te eis.

Die betogers eis ook dat korrupte polisiebeamptes wat geld vra by die padblokkades in hegtenis geneem word.

Protes is aangemeld in Ruwa, Zimre Park, Hatfield, Epworth en Mabvuku waar paaie met klippe afgesper is en enige voertuie wat die stad wou bereik, met klippe bestook is.

Intussen het Zimbabwe se minister van arbeid Supa Mandiwanzira staatsamptenare gevra om geduld te gebruik as hul nie hul salarisse ontvang nie.

Hy het gesê die regering het geen kontantvloei nie, maar dinge sal binnekort terugkeer na normaal.

Intussen is verneem dat ten minste 71 mense reeds in hegtenis geneem is in verband met betogings die naweek aan die grens tussen Zimbabwe en Suid-Afrika.

Beitbrug-grenspos is sedertdien gesluit.

In ‘n afsonderlike verwikkeling het staatsdokters en ander regeringswerkers gesê hulle sal staak omdat die regering nie daarin kon slaag om hul Junie-salarisse betyds te betaal nie.

Die minister van finansies, Patrick Chinamasa, het by Westerse lande gepleit om finansiering in die vorm van lenings wat meer as twee dekades gelede gestaak is, aan Zimbabwe toe te staan.

Internasionale finansiering het opgedroog toe Zimbabwe nie in staat was om sy buitelandse skuld terug te betaal nie asook weens internasionale sanksies wat vanweë kommer oor die skending van demokratiese regte ingestel is.

Verlede maand het ‘n anti-regeringbetoger krete in die ingangsportaal van ‘n luukse hotel in Harare geskree en die polisie uitgejou totdat hulle inbeweeg en hom weggesleep het.

Die aktivis het sy woede betoon teenoor die visepresident, Phelekezela Mphoko, wat glo vir 18 maande in ‘n hotelsuite in Harare teen ‘n koste van US$400 per nag tuisgegaan het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.