‘Afrikaner-elite’ kleef krampagtig aan verslete identiteit

Deel op

Die probleem met die Afrikaner-elite is dat hulle hulself as “progressief” beskou, maar in wese nie besef dat ons nie meer in die 80’s leef nie. Hul beweerde gronde vir hul verset teen die Afrikaner, nl. apartheid, het lankal verdwyn.

Hulle weier om te aanvaar dat die bordjies verhang is en dat om steeds hulself teen die Afrikaner te verset, dieselfde is as om ‘n eens magtige resiesperd, wat intussen geval het en nou op die grond lê, aan te hou skop.

Die Afrikaner-elite se grootste probleem is dat hulle hele identiteit sodanig saamgestel is om wit oorheersing af te takel. Wit oorheersing is al lankal ‘n vergetelheid, maar die Afrikaner-elite se identiteit het egter onveranderd gebly.

Nou dat die Afrikaner-elite nie meer hul identiteit kan manifesteer deur apartheid te probeer aftakel nie, omdat apartheid iets van die verlede is, probeer hulle allerhande nuwe maniere vind om relevansie aan hul identeit te verleen.

Dit is hoekom Max ons nog so nou en dan herinner hoe sleg apartheid was – om apartheid af te takel is al wat hy het en ooit sal hê en die enigste manier hoe hy kan waarde toevoeg tot die samelewing.

Dit is egter onverklaarbaar hoekom jonger generasie opkomende Afrikaner-elites, soos Adriaan Basson, die identiteit van ‘n anti-apartheid stryder probeer aanneem. In ‘n land waar al ons probleme te make het met die huidige regering en die onderontwikkeling in Afrika, moet ‘n mens hard probeer dink om te verstaan wat Basson en Kie. se insentief nou eintlik is om ‘n anti-Afrikaner propagandaveldtog voort te sit. Geld? Politieke druk?

Die kommentaarareas van Netwerk24 is altyd net vol kritiek teenoor die skrywers en menings wat gepubliseer word – niemand is meer lus vir verligte witmense se gesanik oor hoe jammer witmense moet wees nie en hoe alles witmense se skuld is nie. Die Beeld se lesertal het bv. met 40000 gedaal na die Beeld se skaamtelose gelykstelling van die Puk-kampus aan ‘n Nazi-opleidingskamp.

Klaarblyklik steur Naspers hulle nie aan al hul lesers se kritiek nie, want hulle ploeter net voort in dieselfde rigting. Inderdaad interessant.

My eintlike vraag is: hoe kan die “gewone” Afrikaner sy verset teen die verloopte Afrikaner-elite manifesteer? In Amerika is Donald Trump en in Engeland Brexit onderskeidelik die fasiliteerders vir die populistiese verset van hul “gewone” mense teen die elite. Wie/wat is die Afrikaner se fasiliteerder?

Wat my ook bekommerd maak, is die feit dat dit Amerikaners en Europeërs omtrent ‘n dekade geneem het om wakker te skrik en ‘n massiewe teenreaksie teen die elite se immigrasiebeleid en linksheid te toon. Wit Suid-Afrikaners word al vir twintig jaar gemarginaliseer en geteiken deur aggressiewe wetgewing, maar slegs enkele stemme het al in opstand daarteen gekom.

Die linkse propagandamasjien, Naspers, moet eenvoudig vervang word deur ‘n medium met ‘n meer gebalanseerde en pro-Afrikaner inslag. Ek meen, Beukman gebruik die woord “ironie”, maar besef hy nie dat die grootste ironie is dat ‘n Afrikaanse koerant, wat ten minste vir goeie besigheidsdoeleindes pro-Afrikaans behoort te wees, vir hom en sy meelopeers anti-Afrikaanse lugtyd gee.

Dit is net so goed KFC stuur ‘n veldtog van stapel om mense aan te moedig om op te hou hoender eet, omdat ‘n vegetariese lewenstyl beter is.

Basson en Gouws en Max se stemme moet versmoor word deur teenvoeterstemme van jong, pro-Afrikaanse, pro-Afrikaner mense wat ‘n nuwe mentaliteit ten toon stel.

Maar, wie kan Naspers, die elites van alle Afrikaner-elites moontlik vervang?

RSA Patriot

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.