Dan Roodt: Afrikaans gaan onder weens linksheid van Afrikaner-elite

Deel op

In die verre verlede toe Beeld nog my briewe geplaas het, was daar ‘n polemiek tussen my en Willie Esterhuyse waarin hy die Afrikaanse taaldebat as “verslane bier” afgemaak het. Op 19 Februarie 2000 het Esterhuyse in sy wysheid geskryf:

“Maar op kultuur-politieke terrein sukkel ons om vordering met debat te maak. Die sogenaamde debat op hierdie terrein, soos die politieke debat onder Afrikaners, is van dieselfde gehalte as ‘n glas bier wat ‘n hele dag in die son gestaan het.

Een van die redes hiervoor is dat ons nog nie die slegte gewoontes van die verlede afgeleer het nie. Byvoorbeeld om van slegsê-tegnieke en skeltaal gebruik te maak en dit as polemiek voor te hou. En dan is daar een tegniek wat ons sedert die dae van apartheid nog nie ontgroei het nie: Verdagmaking.”

Uit hierdie woorde van Esterhuyse, ‘n lid van die (verloopte) Afrikaner-elite, spreek sy minagting vir Afrikaners en ons intellektuele vermoëns helder. Daarom het ek hom ‘n paar dae later op 24 Februarie 2000 met die volgende brief geantwoord:

Afrikaanse denkstorm wóéd

DAN ROODT, Dainfern, skryf:

‘n Mens kan nie anders as om te reageer op een van die mees arrogante en stiksienige artikels wat daar onlangs in Beeld verskyn het nie. Dit is die een onder die opskrif Warm en ou bier deur prof. Willie Esterhuyse wat iewers teen die Simonsberg vaskyk en onbewus is dat daar wel tans ‘n denkstorm in Afrikaans los is soos nog nooit tevore nie.

Die magdom artikels, briewe, konferensies, filosofiekafees, seminare, radiogesprekke, die bestaan van die filosofietydskrif Fragmente, LitNet en ander lewendige webwerwe waarin daar as ‘t ware koorsagtig gedink, geskryf, geargumenteer, gefilosofeer en gedebatteer word, vergelyk hy met “ ‘n glas bier wat ‘n hele dag in die son gestaan het”.

Spesifiek op kultuurpolitieke terrein, waar ons volgens hom “sukkel om vordering met debat te maak”, het mense soos Breyten Breytenbach, Ampie Coetzee, Van Zyl Slabbert, Hein Willemse, Z.B. du Toit, Heindrich Wyngaard, Danie Goosen, Johann Rossouw, Hermann Giliomee, Chris Louw, Deon Geldenhuys, Elirea Bornman, Clinton du Plessis, Joan Hambidge, Koos Kombuis, Peter Louw, Johann Lodewyk Marais, Juanita van Rensburg, Wimpie de Klerk, om maar enkeles te noem, reeds ‘n verskeidenheid insette tot die kultuurdebat gelewer waarin daar heftige meningsverskille bestaan.

Die idee van mense wat mekaar “warm broei en mekaar se ego’s masseer” of “merendeels met mekaar praat” is omtrent so vreemd aan hierdie debat soos goeie ekonomiese bestuur in Zimbabwe die afgelope twintig jaar.

Die ‘gehalte van die debat” mag benede prof. Esterhuyse se eie hoë peil wees, maar dan is dit heel aanvaarbaar vir die invloedrykste lewende filosoof, Jacques Derrida, wat reeds bygedra het tot Fragmente en in Januarie ‘n groepie Afrikaanse denkers in Parys verwelkom het vir ‘n gesprek rondom Heidegger.

Hierdie suurderige afwys van wat ‘n mens eietydse kultuurpolitieke denke in Afrikaans kan noem, sou miskien nog vir onsegbare mistiek kon deurgaan, en kon suggereer dat daar elders gróter woelings van die gees aan die gang was, maar Esterhuyse plaas sy hoop op die sakesektor waar ‘n “lewendige debat” sou plaasvind.

Tensy ons die advertensiespreuk “one nation one beer” as denke beskou, dink ek nie ‘n mens sou debat daar met ‘n mikroskoop kon vind nie.

Ons is al gewoond daaraan dat ekonome die rigting van die aandelebeurs of rentekoerse verkeerd voorspel, dat uitvoerende hoofbeamptes beslissings neem of hofsake voer waarin hul eie ego’s ‘n groter rol speel as enige logika, maar om sakelui as die voorste denkers van ons tyd aan te bied, is ‘n nuwe een.

Vele maatskappyhoofde weet nie eens hoe om ‘n strikdas te knoop nie, wat nog te sê enige Gordiaanse knope van ons samelewing te ontknoop.

By sommige nuutgestigte ondernemings in Johannesburg word daar ‘n verbod geplaas op die woord “bestuur”, omdat dit ‘n gestigmatiseerde term geword het en iets ouderwets en outokraties aandui.

Ek merk dat prof. Esterhuyse verbonde is aan ‘n “Bestuurskool” en dus ewe uit voeling is met die sakesektor as met die Afrikaanse kultuurdebat.

Wat verstommend is, is dat die Afrikaner-elite, waaronder die rubriekskrywers van Beeld, aanhou om hul omhelsing van linkse denke te verdedig deur op die “ou bier” of geyktheid van die argument vir Afrikaans te wys. Intussen is die (sogenaamd “regse”) argument vir Afrikaans en taalvryheid veel meer genuanseerd en intellektueel begrond as die linkse aandrang op Engels en eenvormigheid.

So pas hierdie week het Gerhard van Huyssteen ewe hard as Esterhuyse gekla oor al die artikels ten gunste van die Afrikaanse taalstryd in wat hy “koerante” noem. Blykbaar lees hy nie webblaaie nie, anders sou hy seker nóg moedeloser gewees het, veral as hy Leon Lemmer se uitgebreide reeks artikels oor Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch sou gelees het. Van Huyssteen gebruik ‘n ander metafoor as Esterhuyse, nie “warm en ou bier” nie, maar “snuiwer as snuif”:

Snuiwer as snuif – só is die universiteitetaalkwessie al getrap. As ek ’n koerant oopslaan en nogmaals ’n analise, artikel, brief of rubriek sien, wil ek weemoedig in my hande ween.

Een van die cliché-besware van Suid-Afrikaanse Engelse teen Afrikaners en Afrikaans is dat ons “parogiaal” is; hulle behoort tot die Empaaier en ‘n universele kultuur, terwyl ons bloot Suid-Afrikaans en plaaslik is. Die Afrikaner-elite het bewustelik of onbewustelik dié beswaar oorgeneem, want in 2000 skryf Willie Esterhuyse in sy Beeld-rubriek:

“In die meeste gevalle behoort die “debatteerders” tot dieselfde kaste. Hulle broei mekaar warm en masseer mekaar se ego’s.”

In dieselfde trant meen Gerhard van Huyssteen in sy Beeld-rubriek vandeesweek:

“Ironie: ’n Groot deel van die huidige taaldebat word in Afrikaans gevoer. Al die slim praatjies en gewigtige argumente is dus in wese ontoeganklik vir die ander partye in die debat.

Ons praat onsself lekker warm.”

Ons weet nie wie “die ander partye in die debat” is nie. Vermoedelik is dit die EFF se “studentebevel” met sy #Afrikaansmustfall-veldtog. Die EFF stel nie belang om te debatteer oor die voortbestaan van Afrikaans nie; die taal moet eenvoudig voor die gebalde swartmagvuis verdwyn. ‘n Debat met die EFF sou neerkom op wat die Franse ‘n “dialoog van dowes” (dialogue de sourds) noem, ‘n gesprek tussen mense wat mekaar nie wil of kán hoor nie. Of dit in Engels of Afrikaans geskied, sou sekerlik geen verskil maak nie.

Ek weet nie in watter sin Van Huyssteen die woord “ironie” gebruik nie, maar sou dit nie soveel te meer ironies gewees het indien ons oor die ondergang van Afrikaans op Engels sou moes debatteer nie? Asof die invloed van Afrikaans so gering geraak het dat ons Engels nodig het om die taal te red, ‘n bietjie soos die Skotte en Walliesers in die Verenigde Koninkryk wat hul vurige nasionalisme meesal in Engels uitdruk omdat die meerderheid van hulle deesdae slegs Engels magtig is en hul moedertale verloor het.

In ‘n opvolgrubriek deur Barnard Beukman beaam hy Van Huyssteen (en Esterhuyse) se mening(s) dat “die taaldebat… uitgeput” is. Die bier is oud en warm, en ons is flou. Beukman gaan steek kers op by die bedenklike Britse leuenaar Tony Blair van “wapens-van-massavernietiging”-faam en die idee van ‘n “derde weg” uit die huidige taalbedeling. Soos dit vir my voorkom, lyk die “derde weg” na ‘n soort draadsittersposisie tussen die stryders vir Afrikaans en die stryders vir Engels. Dit herinner my aan die omie van die FAK wat destyds toe ons Parmalat geboikot het omdat hy Afrikaans van die jogurthouers afgehaal het, geen gelykberegtiging teenoor Engels nie, maar “net ‘n ou klein bietjie Afrikaans” bepleit het. En soos in die handel, sal die “ou klein bietjie Afrikaans” op universiteit al minder en minder word totdat daar uiteindelik niks van oor is nie.

Ook Van Huyssteen, wat hom elders vir ‘n groot kenner van Afrikaans uitgee, is geen taalstryder nie; hy neem bloot aan die taaldebat deel “soos ’n rugbyma wat Saterdag ná Saterdag op die paviljoen sit en brei terwyl sy haar kind se vertoning belangstellend oor die rand van haar bril volg…” Self voel hy hom nie betrokke nie. Amper soos Peter Blum se “rooinekke op Hermanus”

wat koel staan teenoor óns rumoer, kil-vreemd
– nie aanvoel wat óns bedoel, ín ons woel:
hartstog-verleerde, wrok-onbegrypende
sege-moeg, effens geaffronteerde
see-afkykers, agterland-afgekeerdes
wat hoegenaamd niks nie brandelik begeer.

Sekerlik staan die Afrikaner-elite – tans soos in die verlede – onbegrypend teenoor ons “regse harstog” oor ons taal, ons grond, ons land, ons tradisies, ons skole en universiteite wat nou alles voor die onverbiddelike gang van die linkse revolusie moet wyk.

Ná die Brexit-referendum, asook die opkoms van Donald Trump as VS-presidentskandidaat, word daar wêreldwyd gepraat van “die opstand van gewone mense teen die elite”. Self wonder ek wanneer Afrikaners in opstand gaan begin kom teen óns elite wat ons kort-kort en beterweterig teregwys of aansê om in die ry te staan terwyl ons “transformasie” en verengelsing moet ondergaan soos beeste of skape wat gedip gaan word. Dit was Chris Louw se beswaar in sy Boetman-brief, en byna twee dekades later geld dit steeds.

In Beukman se rubriek is daar skielik so ‘n Freudiaanse glips as hy die volgende kwytraak oor diegene wat dalk nie die “derde weg” van iewers in die middel soos ‘n koel en kalm rooinek op Hermanus sou wou inslaan nie:

Volgens die ontleders is dit die ou linkses, want hulle kon nog nooit iets laat werk nie. En die nuwe regses, want hulle kon nog nooit iets doen wat werklik goed is nie.

Hierdie sinnetjie word nie verder omskryf nie, en die leser moet wonder wie die “ou linkses” en “nuwe regses” binne (Suid-)Afrikaanse konteks sou wees. Is Willie Esterhuyse ‘n “ou linkse”? Vir seker het Willie Esterhuyse en ‘n groot deel van die ou NP-Broederbond-elite die marxistiese leerstellinge van Joe Slovo, Harold Wolpe en Rusty Bernstein omhels. Soos Jakes Gerwel, in lewe nog ‘n direkteur van Naspers, keer op keer aan ons verduidelik het, is die Afrikaner bloot ‘n “verbeelde gemeenskap” wat nie in die werklikheid bestaan nie. Trouens, soos die SA Kommunisteparty reeds jare lank argumenteer, is feitlik alles wat Afrikaans is die kunsmatige maaksel van die verderflike Afrikanernasionalisme – ook Standaardafrikaans – en behoort daarom van die aardbol te verdwyn.

Slovo en kie. se revolusie was seker die mees geslaagde in die twintigste eeu, want terwyl die kommunisme in Rusland tot niet is, stoom dit steeds in ons land voort, sy dit dan in ietwat aangepaste, “neo-linkse” gedaante. Ek sou dus reëlreg met Beukman wou verskil en sê dat die “ou linkses” juis die revolusie laat werk het en selfs die Afrikaner-elite oortuig het om hul gewig daarby in te gooi!

Trouens, die “liberale” Beeld is deesdae waarskynlik die mees beginselvaste mondstuk vir marxisme en neo-marxisme in die land, op enkele uitsonderinge soos die Mail & Guardian of die Daily Maverick-webblad na. Wat doen Max du Preez, Amanda Gouws en al die ander “meningsvormers” anders as om ‘n vulgaat-weergawe van Slovoïsme aan die volk op te dring? Lê jou neer by die revolusie en sy verskeidenheid “transformasies”, en aanvaar dit alles as “onvermydelik”, sê hulle. Marx en Engels se idee van die “onvermydelikheid van kommunisme as laaste fase van die geskiedenis” is sedert die val van die Berlynse Muur so effens weerlê, behalwe in Suid-Afrika. Hier volg die revolusie sy eie onverbiddelike logika en wee diegene wat probeer teëstribbel of kritiseer. Hulle sal vinnig die swye opgelê of as “rassiste” gebrandmerk word, wat op dieselfde neerkom.

Die ekstremistiese feminis Christi van der Westhuizen, ‘n vorige redaksielid van Beeld, asook ‘n Beeld-rubriekskryfster, is deesdae – bid jou dit aan – professor van sosiologie aan die Universiteit van Pretoria. In ‘n onlangse artikel wat selfs op die UP se webblad beskikbaar is, sê sy die volgende:

“Hoewel ek die posisie ondersteun dat wit mense, mans en straights in sommige situasies moet stilbly…”

Christi van der Westhuizen en Pierre de Vos: hulle mag maar praat, maar ek en u moet stilbly, synde "wit en heteroseksueel"
Christi van der Westhuizen en Pierre de Vos: hulle mag maar praat, maar ek en u moet stilbly, synde “wit en heteroseksueel”

Ja, u het reg gelees: indien u wit, manlik of heteroseksueel is, moet u liefs “stilbly”. Slegs gekleurdes, vroue en homoseksuele mag praat. Komende van ‘n vorige en dalk huidige verteenwoordiger van die Afrikaner-elite-media, spreek dit boekdele.

Dis nog ‘n ironie: die hoofstroommedia in ons land wat oor “sensuur” by die SAUK begaan is, maar daagliks die strengste moontlike sensuur handhaaf om te sorg dat geen polities onkorrekte mening in druk verskyn of op die lug gehoor geword nie.

Ek dink ons verstaan almal wat “ou links” beteken en dat die Afrikaner-elite hom daarmee versoen het. Maar wie is die “nuwe regses” waarna Beukman verwys?

Ek lei af dat Beukman nie by Wits of Kaapstad gestudeer het nie, dus is hy nie voorgraads met die beginsels van marxisme, in sy klassieke vorm as marxisme-leninisme of in “kulturele” gewaad as feminisme, anti-rassisme en die aftakeling van die blanke, heteroseksuele man, gebreinspoel nie. Soos die meeste ander lede van die Afrikaner-elite, is hy ‘n soort klakkelose linkse, iemand wat “die klok gehoor lui het, maar nie weet waar die bel hang nie”.

Vandaar dan ook sy ietwat lukrake verysing na die “nuwe regses”; dit lyk vir my so ‘n bietjie intellektueel slordig, sonder enige verwysing of selfs heenwysing. Op Twitter het ek hom gevra wat hy hiermee sou bedoel,

maar tot dusver geen antwoord ontvang nie.

Die “nuwe regses” kan seker enigiets vanaf die Franse nouvelle droite met die ongeveer 50 boeke wat iemand soos Alain de Benoist geskryf het om denke rondom identiteit, tradisie en gemeenskap te vernuwe, tot die onlangse “alternatiewe regse” of alt right-beweging in die VSA en Brittanje insluit. Om nie van die vermoorde Pim Fortuyn in Nederland te vergeet nie.

Tot my eie verbasing word my naam dikwels in dieselfde asem as dié van sekere “alternatiewe regse” figure in die VSA genoem. Maar soos die Franse skryfster en redaktrise van die tydskrif Causeur, Elisabeth Lévy, dit stel: “Aujourd’hui, ma seule identité politique, c’est d’être pas-de-gauche.” (Wat min of meer vertaal na: “Tans is my enigste politieke identiteit dat ek nie-links is.”)

Hiermee kan ek saamgaan: Daar is vir my niks aantrekliks aan Links nie. Die geskiedenis van linkse volksmoorde (Sowjetunie, China, Kambodja, Ethiopië, noem maar op) tydens die twintigste eeu, asook die terreur en halssnoermoorde van die ANC-SAKP hier by ons, was genoeg om my vir ewig van enige simpatie vir Links te genees.

Vandag, egter, is die Afrikaner-elite – in navolging van sy nuwe “ou-linkse” meesters in die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty – links, selfs erg links… Terwyl die Afrikaner-elite slegs minagting koester vir ons geskiedenis, identiteit, kookkuns, skilderkuns, argitektuur, monumente, selfs Standaardafrikaans, en die volk self, kan ek nie anders as om my juis aan die kant van die verdrukte, verguisde “gewone” Afrikaner te voel nie. En moet my asseblief nie, à la Gramsci, as ‘n “organiese intellektueel” tipeer nie!

Noem dit “Ockham se skeermes” of gesonde verstand, maar die taalprobleem is baie eenvoudiger as wat dit voorgestel word. Soos soveel keer in die verlede tydens tydperke van vreemde of Britse oorheersing, moet ons vandag kies tussen ons moedertaal en dié wat die owerheid met staatsmag op ons probeer afdwing. Die keuse vir Afrikaans is natuurlik en word gerugsteun deur ‘n magdom internasionale beginsels en voorbeelde, selfs deur die swak grondwet waarmee De Klerk en sy mede-elite-verraaiers ons opgesaal het.

Tydens hul stryd teen die Spaanse Ryk, het ons Nederlandse voorouers die skeldnaam “Geuse” naderhand hul eie gemaak. “Geus” beteken “bedelaar”, maar ook “skurk, skobbejak, misdadiger of deugniet”.

Gedurende die huidige taalstryd poog die vyand insgelyks om diegene wat vir Afrikaans en Afrikaanse instellings kies as “rassiste”, “Nazi’s”, “wit heerssugtiges” en wat nog te stigmatiseer. Dit is deel van die semantiese oorlog wat tussen Afrikaners en die SAKP, asook die (verloopte) Afrikaner-elite woed. Ons is rassiste en hulle is terroriste. Kom ons kyk wie dit die hardste kan skree.

Ten slotte, nog iets: Oor die afgelope aantal dekades het die Afrikaner-elite nog altyd die Afrikaner self as sy vyand gesien! Ons het oor ‘n weermag, polisiemag, buitelandse diens, inligtingsdiens, ens., beskik om ons vyande soos die ANC en SAKP mee te beveg, maar al daardie “wapens” is meesal ongebruik gelaat, of andersins aangewend om ander Afrikaners – veral diegene wat enige gevoel vir hul afkoms, taal en tradisies koester – mee te kasty.

Het dit nie tyd geword dat ons, na die voorbeeld van ons broers in die meeste Westerse lande, óók in opstand teen ons eie elite kom nie?

Want sonder die listige meelopery van die Afrikaner-elite sou die “ou-linkse” ANC-SAKP kwalik destyds in 1994 die land kon oorneem, wat nog te sê met behulp van die huidige mislukte staat kon aanhou regeer!

Miskien is dit die betekenis van ‘n “nuwe Regs”: om jou teen jou eie elite te verset. Téén Cameron en Merkel en Hollande en Hillary… en Willie Esterhuyse en sy geesgenote wat in 20 jaar geen sekerheid oor enigiets kon bereik behalwe dat Afrikaners behoort te verdwyn nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.