Leon Lemmer: Die koelbloedige reeksmoorde op Afrikaans

Deel op

Sedert sy diensaanvaarding as rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) verlede jaar is Wim de Villiers se slagspreuk: Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie. Hy is toegelaat om sy ondermyning van Afrikaans in woord en daad uit te leef. Ek wonder dikwels: Wat sou sy pa, ‘n behoudende Afrikaner, van US-Afrikaans se laksmannetjie gedink het? Seker nie iets vleiends nie. Voor sy benoeming het De Villiers aan die lede van die aanstellingskomitee egter die versekering gegee dat die posisie van Afrikaans aan die US vir hom ononderhandelbaar is (Eikestadnuus, 19.11.2015, p 1). As US-rektor het Chris Brink met soortgelyke leuenagtigheid weggekom (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 76-77). Sover bekend is Brink en De Villiers nooit werklik gekonfronteer met die doelbewuste valsheid van hulle aanvanklike versekerings nie. Iets soortgelyks het aan die Universiteit Vrystaat gebeur met Jonathan Jansen wat in sy intreerede as rektor belowe het dat Afrikaans onder sy leiding veilig sou wees. In al drie gevalle het die teenoorgestelde geblyk waar te wees.

Reeds in 2004 het Chris Brink met die storie van die Kaapse groen papegaai gekom. Hierdie voëls se voortbestaan word bedreig omdat hulle leef van die sade van geelhoutbome, wat egter een na die ander uitgekap word. Waarop Brink gesinspeel het, is dat Afrikaners by veranderde omstandighede moet aanpas; dus, om te oorleef, moet Afrikaners van Afrikaans afsien en Engels as hulle stapelvoedsel aanvaar (Kapp, p 101-102, 105). Die geelhoutbome is die Afrikaanse universiteite wat stelselmatig vernietig word en die nuwe dieet wat ter oorlewing gevreet moet word, is Engels. Die veranderde omstandighede is die heeltemal onverdiende swart dominansie wat deur dwase politici aan ons opgedring is. Die reaksie van die eens Afrikaanse universiteite hierop is algehele ANC-gedienstigheid en gevolglik verengelsing. Reeds in 1996 was daar Blade Nzimande “se ondubbelsinnige uitspraak dat hy gekant is teen die bestaan van Afrikaanse skole en universiteite” (Kapp, p 65). In werklikheid het die ANC geen besitreg op Afrikaanse skole en universiteite nie.

Onder Wim de Villiers se leiding het die US-bestuurskomitee, sonder om vooraf US-raadsgoedkeuring te verkry, wederregtelik ‘n nuwe taalbeleid opgestel en sommer met die toepassing daarvan begin. Dit het aanleiding tot duur hofsake gegee, waarin die US skuld erken het. Die vraag is: Waarom word De Villiers & kie nie verplig om in hulle persoonlike hoedanigheid hierdie regskoste te betaal nie? Hulle het immers opsetlik strydig met die wense van die US-raad opgetree. Sodanige geld kan dan gebruik word om studiebeurse vir bv Afrikanerstudente te befonds.

Die US-raadsvoorsitter, George Steyn, het daarna van die US-bestuur die versekering ontvang dat raadsbesluite eerbiedig en dus uitgevoer sou word. Die voorgestelde en sterk verengelste De Villiers-taalbeleid het toe die eufemistiese status van ‘n werksdokument gekry. Maar hierdie werksdokument is na geringe/kosmetiese aanpassings en sonder dat insette tot die teendeel behoorlik oorweeg is, met ‘n oorweldigende meerderheid deur die US-senaat en op 22 Junie ook deur die US-raad as die nuwe taalbeleid aanvaar.

‘n Ideaal wat lank in polities linkse geledere gekoester is, is hiermee amptelik verwesenlik. Hou in gedagte dat die US aanvanklik begin het om Engels as onderrigtaal in te voer om blanke Engelssprekende studente te trek. Eers later is begin om bruin studente te werf. Deur met tweetaligheid te begin, was noodlottig en sal uiteindelik tot die ondergang van Afrikaans aan die US lei.

Die meerderheidsteun ten gunste van verengelsing in die US-senaat kan verklaar word deur die US se gevestigde beleid om dosente eerder op grond van ras- en geslag as akademiese meriete aan te stel en te bevorder. ‘n Belangrike oorweging vir dosente is ook dat tweetaligheid meer werk as enkeltaligheid meebring. Die stemming van 17 teenoor 9 in die US-raad kan enersyds gewyt word aan die sitting wat ANC-gedienstige US-bestuurslede daar het en andersyds aan die heeltemal onnodige en dwase onlangse vermeerdering van 3 tot 5 in die getal raadslede wat deur die ANC-regering, dus deur die kommunis Blade Nzimande, benoem word.

Die slegte gewoonte het ontstaan om sakemanne (of -mense), soos George Steyn (van Pep Stores-faam) aan die US en voor hom Edwin Hertzog (van Mediclinic-faam), as voorsitters van universiteitsrade aan te stel, onder die voorwendsel dat universiteite in die eerste plek sake-ondernemings is. In werklikheid is universiteite veronderstel om oorweldigend opvoedkundig-kulturele inrigtings te wees. Wanneer ideologiese sake (soos die euwel van kommunisme en die ANC-regering) en kulturele sake (soos onderrigtale) ter sprake kom, is die waters heeltemal te diep vir sakemense. Reeds in 2006 het Hertzog gesê: “As US 80% Engels en 20% Afrikaans is, is hy gelukkig” (Kapp, p 152).

Dat hierdie hele skandalige anti-Afrikaansproses eerder polities as akademies gemotiveerd is, behoef geen betoog nie. Dit is eers na De Villiers se diensaanvaarding op 1 April 2015 dat beweer is dat die meerderheid US-studente eerder Engels- as Afrikaanssprekend (of -magtig) is. Dié beweerde meerderheid kan hoogs waarskynlik toegeskryf word aan Afrikaanssprekende bruin studente se bekende neiging tot dislojaliteit jeens Afrikaans. Desnieteenstaande is daar by diegene wat vir Afrikaans veg die wydverspreide gewoonte om in hulle pleidooie die belange van bruines voorop te stel.

My standpunt is dat Afrikaans as onderrigtaal aan tradisioneel Afrikaanse universiteite onverminderd voortgesit moet word omdat Afrikaners dit heeltemal tereg so wil hê. Ook dat eens Afrikaanse universiteite eerder getransformeer moet word om hulle Afrikaanse karakter te herwin as om van nuuts af elders ‘n volwaardige Afrikaanse universiteit tot stand te probeer bring.

Indien so ‘n universiteit blyk suksesvol te wees, loop hy die wesenlike gevaar om ten prooi van die anargie-wekkende swart regering te val; na analogie van die Universiteit Fort Hare wat destyds deur die blanke regering onteien is en sedert 1960 as ‘n staatsuniversiteit funksioneer.

Die statistiek soos amptelik deur die US bekend gemaak, waarvolgens die meerderheid studente deesdae Engels verkies, is nie noodwendig betroubaar nie omdat die US ‘n politieke agenda het wat naarstiglik nagejaag word. Die US doen deesdae alles in sy vermoë om weg te kom van sy trotse akademiese beeld van weleer toe hy ‘n Afrikaanse universiteit vir blankes was. Anton van Niekerk beskou ‘n Afrikaanse en veral ‘n blanke US as tekenend van ‘n “etniese enklave” waarvan glo ten alle koste weggekom moet word (Die Burger, 18 Junie, p 11).

Die ideaal, soos ook gestel deur Russel Botman in sy intreerede as rektor in 2007, is dat die US en die dorp Stellenbosch soos die res van die nuwe Suid-Afrika moet lyk. Maar diesulkes verstaan dan kamma nie waarom daar ‘n nuwe verskynsel kop uitgesteek het nie. Dit word die US se verkragtingskultuur genoem, wat sekerlik (ten minste in ‘n mate) met transformasie in verband gebring kan word. Die historiese US, daardie “etniese enklave”, moet volgens die transformeerders vervang word met die soort beeld wat die nuwe Suid-Afrika oproep en ook in Afrika en die hele wye wêreld weerspieël word. In hierdie konteks sal Europa (as nog te blank) egter nooit by die naam genoem en tot voorbeeld verhef word nie.

Hoekom het die US verengels en verswart? Omdat die US dit sy politieke en nie-akademiese missie gemaak het om nie-Afrikaanse en veral nie-wit studente te werf en te befonds. Hoekom? Om onvoorwaardelik en met oorgawe gedienstig aan die “voorbeeldige” ANC te wees. Edwin Hertzog, wat jare lank die voorsitter van die US-raad was, het erken dat die US die opdragte van die ANC-regering sonder meer uitvoer (Die Burger, 17 Junie, p 15). Ten bate van die kunsmatig gefabriseerde meerderheid studente moes Engels opsluit die hoofonderrigtaal word. Toe Afrikaanssprekende studente in die meerderheid was, is Afrikaans as hoofonderrigtaal egter nie geduld nie en is ‘n beleid van gelyke regte vir Afrikaans en Engels aanvaar. Nou is die taalvoorkeur van die meerderheid studente (dalk) omgekeer, maar gelykberegting van Afrikaans en Engels geld nie meer nie.

In die praktyk is egter al lank voorkeur aan Engels en swart studente gegee. Hoe die wind waai, het onlangs duidelik geblyk toe die pos van US-studentedekaan geadverteer is. Van aansoekers word verwag: “Uitstekende mondelinge en skriftelike kommunikasievaardighede in een of meer van Suid-Afrika se amptelike tale, benewens Engels” (Rapport, Sake, 15 Mei, p 07). Doeltreffende skakeling met studente wat Engels magtig is, is daarvolgens vir die US-bestuur ‘n prioriteit maar nie kommunikasie met Afrikaanssprekende studente nie. Die belange van swart studente weeg vir die US swaarder as dié van wit studente, terwyl blankes juis diegene is wat histories op die US-kampus hoort. Hoekom hierdie voorkeur vir swartes? Omdat die ANC Suid-Afrika gewelddadig “bevry” het en omdat eerder swart as wit studente die bewese potensiaal het om hulle wil gewelddadig af te dwing.

Veral sedert die Chris Brink-era (2002-2007) is dit die gevestigde gebruik aan die US om Afrikaans minder en Engels meer tot sy reg te laat kom as wat die amptelike taalbeleid voorskryf. Oor die werklike taalsituasie op die kampus is die US-raad dikwels doelbewus mislei of in die duister gelaat. Nie net moet onderrig nou in groter mate in Engels as in Afrikaans aangebied word nie. Nee, vorentoe moet alles in Engels beskikbaar wees. Hoekom? Omdat Afrikaans glo sommige studente uitsluit en die koloniale troeteltaal van die myns insiens onwettige ANC-bewind dit glo nie doen nie. Let op hierdie absurde redenasie: Inklusiwiteit word bevorder deur Afrikaanssprekendes se taal al hoe meer uit te sluit. Om die pil van Engels as die hoofonderrigtaal te versuiker, beweer De Villiers nou dat lesings maar ‘n klein deel van die leerproses is. Maar dan kan daardie lesings mos maar ook in Afrikaans wees en is die protes en oproer oor Afrikaans mos heeltemal oordrewe.

Die US het in 1918 danksy ‘n groot skenking van Jan Marais tot stand gekom. Sy uitdruklike stigtingsvoorwaarde is dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie. Die jongste US-raadsbesluit maak Engels amptelik die hoofonderrigtaal met Afrikaans wat ‘n mindere posisie beklee, sonder enige waarborg teen die verdere afskaling en selfs afskaffing van Afrikaans. Maar selfs die onomstootlike feit dat Engels die US se hooftaal is, word steeds nie uitdruklik amptelik erken nie. Daar word eerder doekies omgedraai met holle beloftes van hoe Afrikaans steeds ‘n plek(kie) aan die US het en bevorder gaan word.

Die versuim van die US om Afrikaans sy regmatige plek te gun, word op ‘n skandalige manier gekamoefleer met die mite dat die plek wat Afrikaans vorentoe aan die US gaan beklee, afhang van die mate waarin studente die beperkte getal Afrikaanse klasse bywoon. Tolkdienste van Engels na Afrikaans sal (teoreties en in beperkte mate) beskikbaar wees mits dit afdoende gebruik word; ‘n voorwaarde wat nooit vir tolkdienste van Afrikaans na Engels gestel is nie. Dit is gewoon oneerlik om te belowe dat daar Afrikaanse opsommings aan die einde van Engelse lesings gaan wees, dat Afrikaanse vrae in Afrikaans in die klasse beantwoord sal word, dat studente take en eksamens in Afrikaans kan voltooi, ens, omdat daar sedert die Russel Botman-era (2007-2014) glad nie meer soos voorheen van dosente verwag word om Afrikaans magtig te wees of spoedig te word nie.

Jan Marais se standbeeld staan steeds prominent op die Marais- of Rooiplein op die US-kampus as ‘n daaglikse hoogs sigbare herinnering aan die verraad wat op 22 Junie gepleeg is. Maar nóg die US-raad, nóg Wim de Villiers as rektor en tans die hoofdrywer van die anti-Afrikaansveldtog, nóg die uitgelese etikus Anton van Niekerk wat hom veral sedert 2000 onvermoeid vir die verkleinering van Afrikaans beywer, het (myns insiens) die elementêre integriteit om openlik en onomwonde die etiese implikasies van die jongste US-raadsbesluit met verwysing na die Marais-voorwaarde aan te spreek. Die Marais-aangeleentheid word doelbewus doodgeswyg.

Marais is ‘n dooie, wit, Afrikaanssprekende man, dus iemand wat in die nuwe Suid-Afrika vanweë daardie vier kenmerke maar geminag kan word. Marais was ‘n Afrikaner in murg en been wat hom nooit aan oproer, brandstigting, vandalisme, misdaad, geweld, terreur, ens, skuldig gemaak het nie. Hy kwalifiseer nie vir verering in die nuwe Suid-Afrika nie. Sy standbeeld is opgerig in ‘n era toe Europese waardes plaaslik aangehang is. Om deesdae vir ‘n standbeeld, selfs talle standbeelde, te kwalifiseer, moet jy in ander “deugde” uitmunt, met terrorisme as seker die prominentste “deug”. Marais se sigbare nalatenskap is ‘n universiteit waarin daar ten spyte van al die politiekery steeds prysenwaardige akademiese werk deur sommige individue verrig word. Nelson Mandela se jongste sigbare nalatenskap na meer as twee dekades van “vryheid en demokrasie” is bv die ruïnes van twee dosyn afgebrande skole in Limpopo omdat sommige mense in navolging van Mandela steeds die geweldopsie kies.

Daar is twee Jan Marais-fondse waaruit oor die afgelope eeu miljoene der miljoene rande na die US gekanaliseer is. Hiervoor ontvang Marais nou stank vir dank. Dit is vanselfsprekend dat hierdie Marais-fondse na die jongste US-raadsbesluit heeltemal van die US losgemaak moet word.

Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF) word deur ‘n raad van trustees beheer. In hierdie raad dien mense (bv die voorsitter, Niel Krige) wat in diens van die US is. Daar is selfs ‘n US-dosent en trustee, Michael le Cordeur, wat openlik ten gunste van die verengelsing van die US is. Dit het noodsaaklik geword dat al die trustees heeltemal vry van enige verbintenis met die US moet wees en dat hulle Marais se wense moet eerbiedig. Die raad van trustees sal dus opnuut saamgestel moet word sodat ooreenkomstig Marais se wense geld nie meer so geredelik aan die US bewillig word nie (verkieslik glad nie), maar eerder aan instansies en individue wat Afrikaans ag en bevorder.

Die ander fonds, Het Jan Marais Fonds (HJMF), word tans heeltemal deur die US beheer; iets wat glad nie meer toelaatbaar behoort te wees nie. Van die eerste take van HJMNF se nuut saamgestelde raad van trustees behoort te wees om HJMF van US-beheer te bevry (bv by wyse van ‘n hofgeding) en daardie geld in die HJMNF te stort. Dit is verblydend om te verneem dat talle donateurs die voortsetting van hulle skenkings aan die US summier beëindig het.

Ek het die US hier as ‘n gevallestudie gebruik. Maar Afrikaans as onderrigtaal is onlangs ook aan die Universiteit Pretoria (UP) en die Universiteit Vrystaat (UV) afgeskaf. Aan die Universiteit Johannesburg (UJ), voorheen die trotse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, die enigste universiteit met Afrikaans in sy naam), oorleef Afrikaans in ‘n uiters beperkte mate. Op Potchefstroom, voorheen die Potchefstroomse Universiteit (PU), word die voortbestaan van Afrikaans met verswelging bedreig weens ‘n polities gemotiveerde beleid waarvolgens die drie kampusse van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom, Mafikeng, Vanderbijlpark/Vaaldriehoek) vereenders (dus oorwegend verswart en verengels) gaan word. Die US was eintlik die enigste universiteit waar daar ‘n realistiese moontlikheid vir die oorlewing van Afrikaans as universitêre taal was, onder meer omdat dit in ‘n oorwegend Afrikaanssprekende omgewing gesetel is. Daardie moontlikheid is nou onder die leiding van misleide Afrikaanssprekende blankes (wat ek voorheen hanskakies genoem het) verydel. Die vyf tradisioneel Afrikaanse universiteite was US, UP, UOV, RAU en PU. Almal het Afrikaans gefaal of is ywerig besig om dit te doen.

Naas die vyf tradisioneel Afrikaanse universiteite was daar drie tweetalige universiteite waar onderrig in sowel Afrikaans as Engels aangebied is. Die Universiteit Port Elizabeth is getransformeer tot die Nelson Mandela Metropolitan University (al was Mandela volgens eie erkenning ‘n vrot student) en het eentalig Engels geword. Die Universiteit van Wes-Kaapland was oorwegend ‘n Afrikaanse universiteit, maar onder die leiding van twee Afrikaanssprekendes, Jakes Gerwel as rektor en Jaap Durand as viserektor, het dit ‘n eentalige Engelse universiteit geword.

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) is, anders as die genoemde residensiële universiteite, ‘n instansie wat tradisioneel ‘n suiwer afstandsuniversiteit was en waar iedere student die reg gehad het om in die taal van sy keuse (Afrikaans of Engels) te studeer. Unisa se voortreflike akademiese invloed het sowel landswyd as wêreldwyd gestrek. In ooreenstemming met wat aan die residensiële universiteite in die nuwe Suid-Afrika gebeur, is weens die bedenklike skoolonderrig al hoe meer akademies swak toegeruste studente deur Unisa aanvaar. In afstandstudie is diesulkes in selfs groter mate as hulle eweknieë aan residensiële universiteite verlore in ‘n onredbare situasie. Soos aan die residensiële universiteite het Unisa se akademiese standaarde gedaal. Weens die vooroordeel wat daar teen sodanige studie by werkgewers kan bestaan, kan Unisa so iets akademies glad nie bekostig nie. ‘n Vorige rektor, Samuel Pauw, het destyds van die Unisa van weleer ‘n gerespekteerde akademiese inrigting gemaak deur eerder hoër as laer standaarde van sowel dosente as studente te vereis.

Hierdie groter wordende akademies swak toegeruste studentekorpus het veroorsaak dat Unisa met allerhande maatreëls gekom het wat hom al hoe meer geresidensialiseer het, wat die koste per student opgestoot het terwyl hy per student ‘n owerheidsubsidie ontvang wat minder as dié van die residensiële universiteite is. Soos aan die ander universiteite het studie aan Unisa vir baie mense onbetaalbaar duur geword, terwyl Unisa voorheen seker die goedkoopste tariewe in die wêreld gehad het en sy onderrig wêreldwyd in aanvraag was en sy kwalifikasies terselfdertyd akademies hoog aangeslaan is.

Nadat onderrig in Afrikaans aan Unisa in die nuwe Suid-Afrika al hoe meer afgeskaal is, is daar in April vanjaar besluit om sodanige onderrig heeltemal te staak. Hierdie proses is meegehelp deur die grootskaalse verswarting van Unisa se personeel (doserend en administratief), wat in 1994 in alle erns ‘n aanvang geneem het met die aanstelling van die transformerende Marinus Wiechers as rektor. Transformasie het onder meer behels dat daar nie meer van dosente verwag is om Afrikaans magtig te wees nie. In die vorige eeu het Unisa sy akademiese status te danke gehad aan sy blanke dosente wat oorwegend Afrikaanssprekend was. Dit was ook Afrikaanssprekende blankes wat nie net die tradisioneel Afrikaanse universiteite tot akademiese voortreflikheid uitgebou het nie, maar in baie gevalle ook die Engelse universiteite. Dit is immers algemeen bekend dat Afrikaners veral in die landbou en onderwys uitgemunt het en die Engelssprekende blankes eerder in die handel en nywerheid.

Die kosteprobleem van ons universiteite kom van twee kante af. Enersyds is daar die ANC-regering wat weens ondoeltreffendheid en korrupsie baie geld mors maar elke jaar die toedeling aan universiteite in reële terme verminder* en terselfdertyd van universiteite verwag om al hoe meer studente toe te laat en sertifikate aan hulle uit te deel. Andersyds bestee die universiteite al hoe meer geld aan nie-onderrig- en nie-navorsingsaktiwiteite, bv aan gemeenskapsdiens omdat die staat uitmunt in nie-dienslewering. Maar ook omdat talryke administratiewe poste geskep word wat voorheen nooit bestaan het nie. Die kern van ‘n universiteit behoort sy dosente en navorsers te wees en hieraan moet die oorwig van sy begroting bestee word, maar dit is in al hoe groter mate nie die geval nie. [* Juis daarom behoort universiteite die geleentheid aan te gryp om hulle al hoe losser van die ANC-regering te maak.Daar is egter geen werklike wil tot outonomie nie, wat tradisioneel ‘n gesogte kenmerk van universiteite was.]

In die nuwe Suid-Afrika was daar al gevalle waar ‘n rektor meer vergoeding as die staatshoof ontvang het. Daar was al heftige besware teen die bedrae wat aan rektorswonings bestee is en teen die luukse ampsmotors waarmee hierdie mense rondry. Sulke vergrype word na analogie van die president, visepresident en die ANC-regering se kabinet gedoen. Maar anders as die regering het universiteite in baie gevalle nie net een visehoof nie, maar talle viserektore en elkeen van hulle geniet allerhande duur voordele. Na analogie van wat ANC-ministers hulleself veroorloof, word duur reis- en verblyfkoste in universiteitsbestuursgeledere as ‘n reg beskou. In baie gevalle is daar geen of min sensiwiteit vir die hoë koste van buitensporige luukses; geld wat eerder tot akademiese voordeel aangewend kon word, bv vir laer klasgeld, meer studiebeurse, meer dosente, ens. Die Universiteit Kaapstad is tans besig met ‘n absurde proses waarvolgens dosente verminder en uit diens gestel word sodat werkers/hande-arbeiders teen beter salarisse en byvoordele ingekontrakteer kan word.

Die HAT definieer “koelbloedig” as “sonder tekens van gevoeligheid, onverskillig”. Die afskaling en veral vernietiging van Afrikaans aan ons universiteite kan gesien word as ‘n reeks koelbloedige moorde op bv die hoër funksies van Afrikaans. Soortgelyke reeksmoorde gaan nou met selfs groter aggressie in ons Afrikaanse skole voortgesit word. Afrikaanssprekendes mag glo darem nog onderling met mekaar Afrikaans praat, maar Afrikaners word voortdurend gemaan dat hulle nie hulle harte by bv private vleisbraaivure mag uitpraat nie. Jou terminologie moet polities korrek wees. Praat dus van bv sorghum en suurvye.

Waar het hierdie proses begin? Met die roemlose, mandaatlose “onderhandelde revolusie” van FW de Klerk en sy trawante wat tot swart meerderheidsregering gelei het. Die skuld hiervoor lê myns insiens grootliks by die Klein Vyf: FW de Klerk, Pik Botha, Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers. Die ANC het vervolgens besluit dat hy die houvas wat hy as regering op owerheidsbesteding gekry het, gaan misbruik om Afrikaans, die kulturele kern van Afrikaners, te probeer uitwis. Dit word gedoen deur onderrig in net een voertaal te subsidieer en die ANC se taal van voorkeur is die koloniale taal Engels. Dit is waarom Wim de Villiers beweer dat Afrikaanse klasse die US R40 miljoen ekstra (blykbaar per jaar) kos.

Maar waar kom De Villiers aan die opvatting dat Engels deur die staat gesubsidieer word en nie Afrikaans nie? Dit kom van ‘n mede-blanke en mede-Afrikaanssprekende, Willie Esterhuyse, wat met hierdie redenasie in Die Burger (By, 12.05.2007, p 6; Kapp, p 158) vorendag gekom het. Esterhuyse kan ook op die twyfelagtige eer aanspraak maak dat hy die veldtog teen Afrikaanse universiteite begin het met sy artikel in ‘n Britse tydskrif, “Can South Africa afford five Afrikaans universities?” (The Times Higher Education Supplement, 24.02.1995; Kapp, p 63). Ek sou so graag wou verneem of mense soos Willie Esterhuyse, Anton van Niekerk en Wim de Villiers na die bogenoemde reeksmoorde op Afrikaans nou uiteindelik tevrede is. De Villiers beweer dat die druk nou van Afrikaans af is. In werklikheid verkeer hy in die waan dat die druk van militante groepe soos Open Stellenbosch nou van hóm af is. Hy sal vorentoe gou agterkom dat die oorwinning wat diesulkes met die verengelsing van die US behaal het as aansporing dien vir die stel van verdere eise. ‘n Reeks destruktiewe aksies word voorsien waaraan daar skynbaar geen einde gaan wees nie.

Volgens die HAT is ‘n doodsonde ‘n onvergeeflike fout of iets wat ewige straf verdien. Die tradisionele sewe doodsondes is: hoogmoed, hebsug, wellus, woede, vraatsug, afguns en luiheid. Hierdie lysie laat nie genoeg ruimte vir die soort sondes wat sedert 1990 teen Afrikaans en Afrikaners gepleeg word nie. Dit is glad nie heiligskennis om hierdie lysie vanweë veranderde omstandighede aan te vul nie. In die konteks van die Afrikaner se geskiedenis is die berowing van ons politieke mag ‘n kolossale doodsonde waarvan die skadelikheid kwalik oortref kan word. Diegene wat Afrikaners se kultuur ondermyn, soos die hedendaagse hanskakies wat Afrikaans afskaal en probeer vernietig, pleeg ook ‘n onvergeefbare doodsonde. Nêrens in die universitêre uitsprake teen Afrikaans die afgelope tyd is enige poging aanwend om die kulturele waarde van Afrikaans na waarde te oorweeg nie.

Kom ons kyk ter afsluiting na Suid-Afrika se geskiedenis in sy geheel. Watter etniese groep het deurgaans opbouend gefunksioneer? Sekerlik nie die swartes nie, want in menseheugenis wou hulle alles in die land afbreek en vernietig ten einde die politieke mag te bekom. Onder die blankes was daar ‘n soortgelyke afbrekende gesindheid toe die Engelse tydens die Anglo-Boere-oorlog ‘n beleid van verskroeide aarde toegepas het. Alles was onderhewig aan vernietiging ten einde ‘n Britse militêre oorwinning moontlik te maak. Die enigste bevolkingsgroep wat hom deurgaans konstruktief vir die ontwikkeling en verbetering van Suid-Afrika beywer het, is die Afrikaners. Dit is egter juis hulle wat by voorkeur ter benadeling in die visier van die ANC-regering en sy meelopers is. Ons geskiedenis en huidige situasie moet Afrikaners aanspoor tot groter eenheid, meer durf en kreatiwiteit en meer daadwerklike weerstand teen onreg. Ons verdien beter as wat aan ons opgedring word. Soos in Brittanje en Europa moet nasionalisme ook onder Afrikaners hernude momentum kry.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.