Skokbesluit van Boris Johnson se vertroueling lei tot sy bedanking

Deel op

Een van die groot Brexit-voorstanders en Britse minister van justisie, Michael Gove, het in skokaangekondig verklaar dat hy verkiesbaar is om David Cameron as Brittanje se eerste mi­nister op te volg.

Hy het terselfdertyd ’n skerp aanval van stapel gestuur op sy referendum-bondgenoot, Boris Johnson, wat intussen sy uittrede aangekondig het.

“Ek wou help bou aan die span agter Boris Johnson sodat ’n politikus wat ten gunste van Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) ’n veldtog gevoer het, ons na ’n beter toekoms kan lei,” het Gove gesê.

“Ek het egter tot die slotsom gekom dat Boris nie die leierskap kan bied of die span kan bou vir die taak wat voorlê nie. Om dié rede het ek besluit om my vir die leierskap beskikbaar te stel,” het hy bygevoeg.

Die aankondiging is ’n gevoelige slag vir die voormalige burgemeester van Londen, wat ook sy kandidatuur wou aankondig.

Selfs meer dramaties nog: Teen 11:53 voormiddag, net sewe minute voor die afsnytyd om die Toryleierskapstryd te betree, het Johnson kop uitgetrek.

Gove was aanvanklik geoormerk as ’n potensiële minister van finansies in ’n Johnson-regering, maar die momentum het nou skerp in die rigting van die minister van binnelandse sake, Theresa May, geswaai. Sy het reeds haar kandidatuur aangekondig.

Boris Johnson het gesê die verantwoordelikheid vir die implementering van Brexit is nou aan “iemand anders” toevertrou na hy homself dramaties uit die wedloop onttrek het.

Op ‘n vraag of hy “verraai” voel deur sy langtermyn-vriend en kollega het hy geantwoord: “Ek kan ongelukkig nie verder gaan om te doen wat ek wou doen nie, so dit sal nou iemand anders wees en ek wens hom alle moontlike sukses toe.”

Johnson het gesê hy het geen berou oor die veldtog nie en vra mense om positief te bly. Hy het die kritiek Michael Heseltine as “volledige nonsens” afgemaak.

Aan die Arbeidersparty se kant staar Jeremy Corbyn, wat Dinsdag ’n gevoelige slag toegedien is toe partylede ’n mosie van wantroue teen hom aanvaar het, groot uitdagings in die gesig.

Albei partye is in chaos gedompel ná Donderdag se referendum waarin Britte gestem het om uit die Europese Unie te tree.

Die president van die Bank van Engeland het intussen aangedui dat rentekoerse aanstande maand waarskynlik verder verlaag sal moet word in reaksie op Brittanje se besluit om die Europese Unie te verlaat.

Die president, Mark Carney, sê die onsekerheid wat deur die onttrekking aan die EU geskep is, kan vir ‘n geruimte tyd nog ‘n uitwerking hê op die land se ekonomie.

Hy sê die sentrale bank sal alles in sy vermoë doen om dit teen te werk.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.