Afrika gaan sukkel na Brexit sê ontleders

Deel op

Brittanje sal eers wanneer David Cameron se plaasvervanger die leisels oorneem, art. 50 van die Verdrag van Lissabon aktiveer, maar ontleders waarsku reeds dat Afrika gaan sukkel na Brexit.

Luidens ‘n verklaring is dit te vroeg om te sê of die onderhandelinge handelsooreenkomste sal beïnvloed, insluitend die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EPA) wat onlangs tussen die EU en lande binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) onderteken is.

Ontleders meen Afrika gaan die slegste van Brexit afkom omdat die EU hulp aan die vasteland gemodereer het. Die Britte sal waarskynlik nie so vrygewig wees nie.

Sulke ooreenkomste soos die EPA sal voortaan bilateraal herbeding moet word met elk van die ander 162 Wêreldhandelsorganisasie-lede en skep groot onsekerheid.

Dit is kragtens hierdie artikel 50 waarvan die formele, wettige wegbreekonderhandelinge van die Europese Unie (EU) sal geskied.

Dié proses sal twee jaar duur, met Brittanje wat in die tussentyd ’n volle lid van die EU sal bly.

Dié verdrag, waarna ook soms as die EU se grondwet verwys word, is in 2007 in Lissabon, Portugal, deur die lidlande onderteken en het op 1 Desember 2009 van krag geword.

Art. 50 van die verdrag handel oor die formele onttrekking van ’n lidland uit die EU. Dit bepaal ’n lidland wat uit dié magsblok wil bedank, moet kennis gee van sy voorneme en het dan twee jaar tyd om sy betrekkinge met die EU en sy lidlande te onderhandel.

Indien Brittanje nie die sperdatum aan die einde van die twee jaar tydperk haal nie, verval die lidmaatskapwaarborge tensy elkeen van die lidlande individueel instem om die spertyd te verleng.

Dit is nog te vroeg om te sê wat die uiteinde van die onderhandelinge gaan wees, maar die Britse regering is glo van voornemens om een van die wêreld se ses sterkste ekonomieë te bly.

Brittanje sal steeds ’n lid van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad bly, asook van die G7, G20, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) en die Gemenebes.

Voormalige sekretaris-generaals van NAVO het voorheen gewaarsku dat Brittanje die Weste se vyande sal bevoordeel indien hy aan die Europese Unie onttrek.

In ‘n afsonderlike pleidooi het dertien voormalige Amerikaanse verdediging- en beleidshoofde gesê dat Brittanje se internasionale stand ondermyn sal word indien hy die EU verlaat.

Die voormalige Britse minister van verdediging, Liam Fox het die Brexit-teenstand as outyds afgemaak. Fox sê hy meen ‘n onafhanklike Brittanje kan ‘n nuwe aspek tot NAVO bydra.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.