Siriese konflik spoel oor na Libanon

Deel op

Altesaam vyf mense is dood toe selfmoordbomaanvallers Maandag die oorwegend Christen-nedersetting, Qaa in Libanon, ongeveer 100 meter van die grens met Sirië geteiken en hul plofstof ontsteek het.

Vier selfmoordbomaanvallers was by die aanval betrokke.

Geen groep het nog verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Inwoners van die nedersetting het onraad vermoed toe die aanvallers omstreeks 04:00 deur die dorp beweeg het. Toe ’n veiligheidswag hulle geroep het, het hulle ’n handgranaat gegooi en toe agtereenvolgend hulself tussen inwoners van die nedersetting opgeblaas.

Vier lede van die weermag is onder die 15 gewondes.

Qaa se burgemeester, Bashir Matar, het gesê die vierde aanvaller is deur veiligheidsmagte doodgeskiet. Hy sê ná die eerste ontploffing het mense op die toneel saamgedrom, waartydens ’n tweede en toe ’n derde ontploffing plaasgevind het.

“Terwyl ons besig was om van die gewondes te help, het ek die vierde aanvaller na my toe sien beweeg. Ek het op hom geskree,” het Matar gesê. “Ons het op hom begin vuur en toe blaas hy homself op,” het hy gesê.

Libanon beleef die afgelope jare toenemend oorspoel-geweldpleging uit Sirië se dodelike burgeroorlog en die Libanese owerheid is op ’n hoë gereedheidsgrondslag met verskerpte sekuriteitsmaatreëls wat die afgelope dae geld.

Al is dit nog nie duidelik wie die aanval uitgevoer het nie, het Libanese Christene in Qaa die wapen opgeneem en selfverdedigingseenhede op die been gebring om inwoners teen moontlike aanvalle deur Moslem-ekstremiste uit naburige Sirië te beskerm.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.