Die Engelse sokkerspan het gisteraand met 2-1 teen Ysland, een van die kleinste volkere ter wêreld, in ‘n uitspeelwedstryd vir die Europese sokkerbeker verloor. Ysland beskik oor net meer as 300 000 burgers teenoor Engeland se 55 miljoen mense wat in die suide van Groot Brittanje woon.
Op die vooraand van die wedstryd het die Sun-koerant geskryf: “Vir Engeland om teen Ysland te verloor, sou die grootste verleentheid OOIT wees.”
Na afloop van die wedstryd het Engelse ondersteuners gesing: “Julle is dit nie werd om die trui te dra nie.” Die Engelse afrigter, Roy Hodgson, het direk na die wedstryd op sy swaard geval deur sy bedanking in te dien. Ysland sal Sondag in die laaste-agt teen Frankryk, die gasheerland, te staan kom.
Ysland is 34ste op die wêreldsokkerranglys. Wat dit nog erger maak, is dat hulle oor geen professionele sokkerliga beskik nie. Trouens, die Yslanders kan net vir ‘n paar maande per jaar sokker speel as hul sokkervelde nie toegesneeu is nie. Dis ook nie eens hul nasionale sport nie. Hulle verkies handbal en visvang bo sokker.
Nadat Wayne Rooney vir Engeland ‘n strafdoel in die eerste paar minute aangeteken het, kon Engeland vir presies 34 sekondes feesvier totdat die Yslandse voorspeler Ragnar Sigurdsson dit gelykop 1-1 gemaak het, vanaf ‘n lang ingooi deur Gunnarsson.
In die agtiende minuut het Kolbeinn Sigthorsson die Engelse doelwagter Joe Hart gepypkan en die tweede doel in die hoekie van die net ingerol.
Na afloop van die wedstryd was die Engelse span so verslae dat hulle net op die veld bly lê het, terwyl die hele Ysland met reguit arms in die lug hande geklap het in wat die “Yslandse haka” genoem word. Dit was dié klein Skandinawiese landjie se beste vertoning nog in internasionale sokker deur “elf Engelse miljoenêrs in kortbroeke” te wys waar Dawid die wortels gegrawe het.
Op Twitter en ander sosiale media het Engelse sokkerondersteuners hul misnoeë betoon. Baie het getwiet dat hulle nou “Wallis toe wil emigreer”. Wallis is na dese die laaste span uit die Britse koninkryk wat nog nie uitgeskakel is nie.