Karel Combrinck: Britse onttrekking geen verlies vir Europa

Die besluit van die Britse volk om hulle land uit die Europese Unie te onttrek is, saam met die val van die Berlynse muur, sekerlik die belangrikste politieke gebeurtenis in die Westerse wêreld sedert die tweede wêreldoorlog.

Die goeie nuus is dat daar vir die eerste keer in sewentig jaar ‘n betekenisvolle, selfs beslissende bres geslaan is teen die Nuwe Wêreldorde wat sedert die tweede WO volksidentiteite stelselmatig onderdruk het, grense probeer uitwis het en nasionale soewereiniteit ondermyn het, alles ten bate van ‘n finansiële en burokratiese oligargie wat vir die wil van die mense en dus vir werklike demokrasie geen flenter omgee nie. Dis eienaardig dat die deurbraak sou kom van die Engelse van wie ‘n mens die teendeel sou kon verwag. Die stempatroon toon egter duidelik dat dié wat gestem het om in die Europese Unie te bly, hoofsaaklik woonagtig is in die groot finansiële sentra in en rondom Londen, terwyl die plattelandse gebiede oorwegend ten gunste van wegbreek gestem het. Dis ‘n patroon wat in die komende maande ook op die Vasteland gevolg gaan word..

Die Europese Unie het in 1957 tot stand gekom met die ondertekening van die Verdrag van Rome deur (Wes)-Duitsland, Frankryk, België, Nederland, Luxemburg en Italië. Ses lande dus met ‘n sewende lid, Brittanje, wat in 1973 toegetree het.

Die Franse President, genl. De Gaulle, het die toetrede van Brittanje tot die Unie jare lank teengestaan en selfs sy veto meer as een keer gebruik om Britse toetrede te verhoed. Sy motivering het daarop neergekom dat Britse politieke en finansiële instellings, tradisionele handelspatrone en verbintenisse nie met dié van die Europese vasteland versoenbaar was nie. Die Engelse het van die begin af eintlik ook maar langtand aan lidmaatskap van die EU gebyt en hulle deelname was deurgaans halfhartig en louwarm. Die Engelse het nou uiteindelik ingesien en toegegee dat genl De Gaulle uit die staanspoor reg was: hulle plek is nie in Europa nie.

Nogtans is die besluit van Brittanje, die tweede grootste ekonomie in Europa en vyfde in die wêreld, ‘n genadelose slag vir die EU. Ekonomies sal die Britse uittrede verreikende gevolge hê, maar die grootste verlies vir die EU is egter die politieke implikasies. Die voortbestaan van die Europese Unie is oral onder druk met groot dele van hulle bevolkings wat die Europese Unie net nie meer aanvaarbaar vind nie. In 2005 het beide die Franse en Nederlandse bevolkings oortuigend téén aanvaarding van die Europese grondwet gestem. In ‘n sin het hierdie volkstemmings reeds gedui op die begeerte om nie lid van die Europese Unie te wees nie. Die volkswil is egter nie deur die regerings van die onderskeie lande eerbiedig nie, wat ‘n ernstige vergryp teen die demokrasie was, waarvoor die Franse en Nederlanders hulle regerings nie vergewe het nie. Dit is dus duidelik dat die Europese Unie geruime tyd reeds op wankelmoedige bene staan en dat Brittanje uit die staanspoor die Achilleshiel was.

Die gedagte van ‘n Europese unie is gebore uit die ontsaglike lewensverlies en materiële skade van die twee wêreldoorloë. Die hoofoogmerk was om toekomstige konflikte te voorkom deur die Europese lande, vyande van gister, sover as moontlik ekonomies en polities saam te snoer om sodoende oorlog eintlik onmoontlik te maak. Dit was ‘n lofwaardige oogmerk, maar in die proses is egter onherstelbare foute gemaak.

Waar die Europese Unie aanvanklik uit ses en later, met die toetrede van Brittanje, uit sewe lidlande bestaan het, het dit mettertyd aangegroei tot 28 lidstate. Dit beteken dat terwyl die Unie oorspronklik bestaan het uit lande wat nagenoeg dieselfde ekomiese peil van ontwikkeling en die dieselfde kulturele waardes gehad het, dit ontwikkel het tot ‘n roesemoes van lande wat in al hierdie opsigte uitlopend en selfs onversoenbaar was.

Maar daar was nog foute. Van die bedoeling om van die Europese Unie ‘n hegte eenheid te maak wat op ekonomiese en politieke gebied ‘n magsblok kon uitmaak vergelykbaar met die VSA en die voormalige Sowjetunie het min gekom. In stede daavan het die Europese Unie ontwikkel in ‘n klub wat vir groot finansiële instellings, veral banke en ander rykes en superrykes ‘n geleentheid geskep het om nog meer geld te maak. Die Europese politieke klas het nooit daarin geslaag om van die EU ‘n bolwerk te maak met ‘n eie gesamentlike buitelandse beleid en verdedigingstelsel nie. Inteendeel het Europa, veral na die uittrede van genl De Gaulle net nog meer aan die rokspante van die VSA verknog geraak, waaronder lidmaatskap van die Noord-Atlantiese Verdragsorganissie, iets wat genl De Gaulle met hand en tand beveg het. Die gevolg is dat Europa vandag bloot ‘n verlengstuk van Amerikaanse ekonomiese, militêre en politieke belange is. ‘n Voorbeeld is die totaal kunsmatige en aangestigte vyandskap van Europese lande teenoor hulle natuurlike bondgenoot, Rusland, ten einde die Amerikaners ter wille te wees.

Meningsopnames dui nou daarop dat die bevolkings van ‘n halfdosyn Europese lande ten gunste is van referendums met die oogmerk om die Europese laer te verlaat. Kortom, staan ons op die vooraand van die ineenstorting van die EU. In ‘n situasie waar die wêreldekonomie weens die vraatsugtigheid van die geldmagnate reeds in ‘n haglike toestand verkeer, kan ‘n ineenstorting van die Unie rampspoedige gevolge hê. Dis egter ‘n prys wat volkere skynbaar bereid is om te betaal vir vryheid en selfbeskikking. Mag die nuwe lente van vryheid en nasionalisme ook na ons oorspoel.

Die ernstigste klag teen die Europese Unie is egter die ondermyning van indiwiduele lidlande se reg om op demokratiese wyse oor hulle eie lot te kan beskik. Talle Europese lande vra hulleself die vraag af watter sin dit het om nasionale verkiesings te hou en dan regeer te word deur gesigloses in Brussel wat deur niemand verkies is nie. Die sogenaamd verkose regerings van indiwiduele lidlande dien weinig doel meer as om rubberstempels te wees vir besluite, opdragte en dekrete van die Brusselse burokrate.

Die EU het net nooit ontwikkel in ‘n instansie wat die openbare verbeelding aangegryp het of wat daarin kon slaag om die hart en hande en lojaliteite van die mense te wen en te inspireer nie. Die enigste beskrywing van die EU waaraan ‘n mens kan dink, is ‘n siellose klub van burokrate en bankiers.

Onder die eindelose lys moontlike gevolge van Britse onttrekking is die interessante situasie van Skotland. Lesers sal onthou dat die Skotte nie te lank gelede nie ‘n referendum gehou het oor die vraag of hulle nog deel van die Verenigde Koninkryk wil wees en dat hulle ja gestem het. Nou is die eienaardige posisie dat die Skotte binne die VK is, maar nie die Europese Unie wil verlaat nie. Is dit ‘n geval van jou brood aan albei kante gebotter te wil hê? Soortgelyk is die situasie in Noord-Ierland wat ook deel is van die VK, maar binne die EU wil bly en ten einde dit te bewerkstellig, by Ierland wil aansluit. Nog ‘n interessantheid is dat die Spanjaarde begin geluide maak dat hulle Gibraltar binne die EU wil hou, dws onafhanklik van Brittanje aan wie Gibraltar meer as tweehonderd jaar behoort.

Die teenwoordigheid van Brittanje in die EU was nooit sonder sy absurde momente ook nie, meesal voorspruitend uit ingebore Engelse opportunisme. As agterlike en onproduktiewe landbouland is Engeland nogtans geregtig op reuselandbousubsidies van die Europese Unie. Hiervan kry die Queen as grootste grondeienaar in Brittanje die leeue-aandeel. «Landbousubsidies» dus vir «landbougrond» waar die rykstes onder die rykes perdepolo kan speel en weerlose jakkalsies met honde en perde kan jag tot hulle longe bars, subsidies waarvoor die Europese belastingbetaler moet betaal.

Om gedurende die jare tot die aanloop van FW de Klerk se Uhuru in 1994 te wou praat van Afrikanernasionalisme of die Afrikanervolk was om jouself onmiddellik aan bespotting en verguising bloot te stel. Of miskien kan ‘n mens sê dat dit dieselfde effek gehad het as om te erken dat jy melaats was. Die gety in die Weste is aan die draai. Nasieskap en nasionalisme is weer aan die orde van die dag. FW de Klerk en sy lakeie, saam met ‘n swerm bruikbare idiote het gemaak dat ons die geleentheid wat gebied is deur die val van die Berlynse muur verpas het. Die Brexit kon vir ons ‘n tweede geleentheid gewees het, maar toe het ons mos gaan staan en kapituleer. Kom ons bly maar nogtans hoop dat daaruit vir ons ook iets goeds gebore sal word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.