Veertien kom om in al-Sjabaab-aanval op Somaliese hoofstad

Deel op

Minstens 14 mense is dood toe die ekstremistiese, Islamitiese groep al-Sjabaab ’n hotel in Somalië se hoofstad, Mogadisjoe, beset het.

Die aanval het met ’n kragtige ontploffing by die ingangshek begin, het AP berig.

“Ons het uiteindelik die beleg beëindig. Die laaste militante is op die boonste verdieping van die hotel doodgeskiet,” het kapt. Mohamed Hussein van die polisie gesê nadat veiligheidsmagte die gewapendes doodgeskiet het wat as sluipskutters stelling op die dak van die Naso-­Hablod-hotel ingeneem het. Volgens die polisie was minstens vier mans in die aanval betrokke en twee is doodgeskiet.

Minstens 14 burgerlikes is in die aanval dood.

Die veiligheidsmagte het die meeste gyselaars bevry, maar teen druktyd was dit nie bekend of enige van hulle in die aanval dood is nie. Volgens mediese personeel is nege mense in die voorval gewond.

Die polisie sê die aanval het begin toe ’n selfmoordbomaanvaller homself in ’n voertuig, volgelaai met plofstof, by die ingang van die hotel op­geblaas en die hek aan flarde geskiet het. Ge­wapende mans het hul pad na die hotel oopgeveg en ooggetuies­ sê hulle het wild op hotelgaste begin skiet. Die hotel se vloer was met bloed bevlek en die mure het gate in gehad waar dit deur koeëls getref is.

Al-Sjabaab, met sy bande met Al-Kaïda, voer ’n dodelike insurgensie in Somalië en maak dikwels van selfmoordaanvallers met motorbomme gebruik.

Die aanval in die hoofstad beklemtoon die uitdagings wat die Somaliese regering en die magte van die Afrika-­unie in die gesig staar om die land te beveilig. ’n Aanval in Februarie op nog ’n hotel in Mogadisjoe het die lewe van minstens nege mense geëis en in April het ’n motorbom buite ’n restaurant in die hoofstad tot die dood van minstens vyf mense gelei.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.