Leon Lemmer: Georges Pompidou oor die studente-onrus, ens.

Deel op

Toe die Afrikaanse skrywer Hennie Aucamp (1934-2014) 75 jare oud geword het, het hy besluit dat dit tyd was om sy besittings op te ruim. By voltooiing sou hy, so het hy gespot, ‘n opgeruimde mens wees. Ek het om dieselfde rede begin opruim en vind dit bitter swaar. Voorheen het ek ingepak omdat ek die vooruitsig gehad het dat ek iewers heen sou gaan. Hierdie keer sou ek graag in my geheel, as liggaam en gees, na ‘n goeie plek (bv een sonder kamerade) wou gaan, maar dit lyk asof dit onmoontlik is. Ek het skielik so oud geword dat ek dit nie meer waag om groen piesangs te koop nie. My toekoms lyk net so duister soos dié van die nuwe Suid-Afrika, wat voortwoeker na mislukkings in die vorm van bv rommelstatus.

Maar opruiming het voordele. Ek het bv Georges Pompidou (1911-1974) se boek, Om ‘n knoop deur te hak (Sandton: Valiant Publishers, 1976, 88p), herontdek en herlees. Die teruggetrokke en konserwatiewe* (bv nie-sosialistiese, sterk anti-kommunistiese**, Rooms-Katolieke) Pompidou was die eerste minister van Frankryk (1962-1968) en Charles de Gaulle (1890-1970) se opvolger as president (1969-1974). Gaston Palewski (1901-1984), De Gaulle se regterhand gedurende en na die Tweede Wêreldoorlog, was die minister van wetenskap in Pompidou se kabinet. Palewski was ‘n rokjagter en die katelknaap van die Britse skryfster Nancy Mitford (1904-1973). Lisa Hilton het ‘n interessante boek oor die Palewski/Mitford-verhouding geskryf: The horror of love (London: Weidenfeld & Nicolson, 2011, 304p; Amazon Kindle $9,58). Hoewel Pompidou lank ‘n Gaullis*** was, was hy later meer buigsaam in sy verhouding met Brittanje en Amerika**** en het hy bv Brittanje se toetrede tot die Europese Gemeenskap in 1973 moontlik gemaak. Brittanje se lidmaatskap van die Europese Unie is tans opnuut in omstredenheid gehul.

[* Pompidou se boek is sprekend van sy konserwatisme. Hy verwys bv na die begrip “vaderland” wat aan waarde verloor het maar nie werklik met die begrip “Europa” vervang kan word nie (p 85). Ook: “Die buurman se ellendes” moet nie vergeet word “onder die voorwendsel dat jy omsien na die ellendes in afgeleë lande nie” (81).
** “Op ekonomiese gebied … bewys die kommunistiese stelsel sy minderwaardigheid teenoor die kapitalistiese … stelsel” (38). “Niemand kan Rusland besoek sonder dat hy getref word deur die bekoring wat die doeltreffendheid en die voorspoed van die Amerikaanse ekonomie vir die Russe inhou nie” (39).
*** Pompidou noem die aanhang van Gaullisme “intellektuele getrouheid” (20).
**** “Daar is steeds ontsaglike verskille tussen die lewenswyse en die mentaliteit van ‘n Amerikaner en dié van ‘n Europeër” (71).]

Pompidou se boek is in 1974 in Frans gepubliseer en deur Jan Boyazoglu in Afrikaans vertaal. In die voorwoord beklemtoon die klassikus Gerrit Viljoen (1926-2009) dat ons nie net moet weet wat in die Anglosaksiese wêreld gebeur nie, maar ook moet kennis neem van wat in bv Frans gepubliseer word. Pompidou was volgens Viljoen ‘n kultuurmens wat sterk klem op Europese waardes* gelê het. Viljoen het sy professoraat aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in 1967 opgesê en met hoë ideale die eerste rektor van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) geword. Destyds is ‘n Afrikaanse universiteit in Johannesburg as teenhanger van die Engelse Universiteit van die Witwatersrand (Wits) tereg as noodsaaklik geag. In die omgedopte Suid-Afrika het die RAU in 2005 die Universiteit Johannesburg (UJ) en oorwegend swart en Engels geword. Maar die RAU, die publikasie van Pompidou se boek in Afrikaans en Viljoen se voorwoord getuig van die status wat Afrikaans eens gehad het. [* Dit is “noodsaaklik dat waardes wat as grondslag vir die gemeenskap kan dien en terselfdertyd die morele ewewig van individue kan verseker in ere herstel word” (75).]

Viljoen noem dat hierdie boek geskryf is tydens “die windstilte” van ‘n aantal maande, toe Pompidou nie meer die eerste minister was nie en voordat hy die president geword het (xi). Pompidou skryf in sy inleiding dat die teks eintlik onvoltooid is maar dat lesers tog sy “gedagtegang kan volg” (vii). Die oorgang van De Gaulle na Pompidou as staatshoof het plaasgevind na die studente-opstand van Mei 1968. “Geen mens is dieselfde voor en na ‘n beproewing nie” (ix). Só skryf Pompidou oor die studente-opstand. ‘n Mens kan dieselfde oor die roemlose politieke magsoorgawe van 1990/1994 in Suid-Afrika sê. [Die leidende Britse konserwatiewe filosoof, Roger Scruton (gebore in 1944), het die Paryse studente-opstand eerstehands meegemaak. Dit het hom lewenslank van progressiewe, liberale neigings genees. “The rational pursuit of liberty, equality, fraternity [die slagspreuk van die Franse Revolusie van 1789] … are actually forms of militant irrationality” (Gentle regrets: Thoughts from a life, London: Continuum Books, 2006, 256p; Amazon Kindle $17,84, 691).]

Pompidou noem dat helde sedert die dood van die ikoniese De Gaulle (19) skaars geword het (16). “Die volk verwag dat sy leiers opreg en menslik moet wees en dat hulle onder alle omstandighede bestendig sal bly … die volk wil altyd ‘n leier hê wat opreg en menslik is. Opreg omdat die leier sake moet verduidelik soos dit werklik is en nie die indruk skep dat hy hulle om die bos wil lei nie en ook nie dat hy nie self glo dat dit wat hy doen reg is nie. Menslik omdat hy die probleme van die nederige en gewone burgers moet verstaan” (16). Maar De Gaulle word nie deur almal vereer nie, allermins deur die blankes wat in die jare sestig uit Algerië moes vlug nadat De Gaulle Franse militêre steun beëindig het. Dominique Venner, wat in Algerië geveg het, sê van De Gaulle: “He severely lacked any noble-mindedness himself” (Praag 23.04.2016). ‘n Mens kan ook wonder of terroriste wat bereid was om ‘n land tot in die grond af te breek ten einde self die politieke mag te bekom ooit met reg op ikoniese heldestatus aanspraak kan maak. “‘n Ekonomie [kan] nie uit niks geskep … word nie” (47).

“Om te regeer, is om altyd algemene belange bo persoonlike belange te plaas … Om te regeer, is ten slotte om die mense gesamentlik op ‘n lewenspad en na ‘n doel te lei wat vir hulle onnatuurlik en skaars sigbaar is en glad nie ooreenstem met hul onmiddellike begeertes nie … volke wat maklik goed regeer kan word, gewoonlik volke is wat nie baie dink nie … hoe meer individualisties ‘n volk … is en hoe meer die individu se regte vir hom beteken, hoe meer sal hy rebelleer teen die begrip ‘regering'” (17). Meerderheidsregering sal sekerlik nie sonder meer deur eiesoortige minderheidsgroepe aanvaar word nie. Die meerderheid kiesers in Suid-Afrika dink nie oor gevolge oor die langtermyn nie en dring dus op die bevrediging van onmiddellike behoeftes en begeertes aan. Boonop het ons ‘n korrupte regering wat persoonlike belange najaag.

“In werklikheid beteken regeer om die volk te verseker van ‘n maksimum geluk binne die grense van die nasionale moontlikhede en die sameloop van omstandighede in die buiteland” (87). Daar behoort die minimum regeringsinmenging in sy burgers se sake te wees: “Die staat … moet … probeer om sy inmenging te beperk. Hy moet soveel moontlik ruimte laat vir private inisiatief” (53). “Die staat kan nie die plek van alles en almal neem nie” (63). “Sodoende kan die burgers hul eie sake beheer, hul persoonlike lewens; hulle kan hul geluk soos hulle dit vertolk, self reël met die doel om die verderflike neiging om hulle doodeenvoudig soos ‘n kudde te laat lei, onder die voorwendsel van samehorigheid, vry te spring” (87). Die kudde-instink en solidariteit ten alle koste mag kenmerkend van die meerderheid Suid-Afrikaners wees, maar die blankes en veral die Afrikaners kan hulle kwalik met gesentraliseerde burokratisering vereenselwig en behoort myns insiens die grootste moontlike mate van selfregering en selfbeskikking na te streef.

“Deurdat die volk nou self, en nie die parlement nie, die president kies, het hy [De Gaulle] dit probeer bewerkstellig dat elke Fransman die staatshoof sien as sy persoonlike verteenwoordiger” (19). Die staatshoof moet “die direkte vertroue van die volk geniet” (20). “Om jou te bekwaam om te regeer, moet jy naby die mense wees” (87). Ook in bv Amerika word die staatshoof direk deur die kiesers aangewys. In Suid-Afrika, met sy veel geroemde “beste grondwet in die wêreld”, word die staatshoof egter deur die meerderheidsparty benoem, wat uiteraard meebring dat die staatshoof seker altyd swart sal wees en daarby altyd ‘n mens wat eerder die belange van die meerderheidsparty as dié van al die inwoners najaag. Byvoorbeeld, Nelson Mandela het by die aanvang van sy laaste jaar as staatshoof gesê dat hy sy pos tot sy uitrede wou gebruik om die ANC se heil te bevorder. As staatshoof veroorloof Jacob Zuma hom die bewering dat al Suid-Afrika se probleme begin het toe die eerste blankes hulle in 1652 hier gevestig het.

Die omvang en gehalte van Pompidou se insig is opvallend beter as bv dié van enige Suid-Afrikaanse staatshoof sedert 1994. Die hedendaagse Frankryk sal hoogs waarskynlik nooit ‘n staatshoof kry wat nie naasteby matriek het nie; iets wat tans ‘n onverkwiklike meevallertjie in Suid-Afrika is. “Frankryk glo aan die intellektuele en Frankryk glo aan opvoeding. Iemand wat homself verhef het en ‘n hoë pos beklee, maar geen universitêre opleiding of intellektuele aansien het nie, sal ons verdra maar nie respekteer nie” (7).

“Baie mense, en veral baie intellektuele, se houding teenoor die kommunisme is soos dié van [Jules] Michelet [1798-1874] as hy die geskiedenis van Frankryk van die begin af vertel asof dit ‘n lang wedloop is wat by die revolusie van 1789 eindig. Die res meen hulle is net ‘n voorwoord, voorbereiding, vooruitgang wat min of meer teenoor mekaar gestel word tot by hierdie onvermydelike en reddende uiteinde” (37). In die nuwe Suid-Afrika word die land se geskiedenis onder ANC-invloed herskryf* sodat sy eintlike geskiedenis nie met Jan van Riebeeck of voor 1652 begin nie, maar veel eerder met die stigting van die ANC of selfs met die aanvang van terrorisme of die politieke magsoorname in 1994. Die beeld van ‘n bloedjong land word voorgehou; geen wonder nie dat hy kwalik op sy eie voete kan staan. [* “Die Thabo Mbeki-stigting onderhandel met die departement van onderwys om die volumes wat dié stigting oor die geskiedenis van die vryheidstryd skryf in die geskiedenisleerplan van skole in te sluit” (Die Burger, 29.04.2016, p 4). Blykbaar het hierdie vermetele voorneme geen verontwaardigde protes uit enige oord ontlok nie.]

Milovan Djilas (1911-1996) word soos volg aangehaal: “Kommunisme as ideologie is besig om te ontbind en as gemeenskap is hy altyd oproerig … Dit is duidelik dat die politieke en sosiale struktuur van die Sowjetunie volkome teenstrydig is met die moderne idees en die hedendaagse feite” (43). Byvoorbeeld, “95% van Moskou se vars groente word deur boere voorsien wat grond tot hulle beskikking het om te bewerk soos hulle wil – dit is 5% van die totale bewerkbare grond” (43). In die nuwe Suid-Afrika met sy regering wat sterk deur kommunisme beïnvloed word, is daar geen einde aan oproer en die herhaaldelike bevestiging van die onvervreembare reg van protes nie. Vandalistiese geweldpleging het die nasionale sport geword. Op bv Jeugdag (16 Junie) word die 1976-geweld deur spreker na spreker en skrywer na skrywer goedgepraat.

“Voorstanders van sosialisme in Frankryk is oppervlakkig en in werklikheid nie begaan oor die ekonomie nie, maar oor die verdeling van rykdom … Wanneer ‘n mens dan ook die sosialistiese program van nader beskou, besef jy dat dit opgesom kan word in minder werk, hoër salarisse, vroeër aftrede en groter pensioen met so hier en daar iets kleins wat genasionaliseer moet word om die volk daaraan te herinner dat hulle anti-kapitalisties is, sonder dat die sosialiste dit self juis glo” (45). In soverre die ANC-regering nie blatant kommunisties is nie, is hy sosialisties. By die pas genoemde lysie van dwaashede kan die groot getal ekonomie-ontwrigtende, ANC/swartmag-vererende, openbare vakansiedae gevoeg word en dat grootskaalse nasionalisering ingevolge die Vryheidsmanifes van 1955 in die vooruitsig gestel word. Anders as die ANC-regering se voorliefde vir beslaglegging op die plase van blankes, pleit Pompidou “om die familieplaas ten alle koste te behou” (65).

Pompidou noem tereg dat “volkome gelykheid … tog net ‘n ydele waandenkbeeld” is (60). ‘n Klas van “nuwe armes” is in Frankryk geskep (61, 67), soos ook in Suid-Afrika, waar die tradisionele armes verder verarm het en ‘n groot skeut blankes, grootliks weens blatante rassediskriminasie, by hierdie armes gevoeg is. Pompidou verwys na “die stille en verborge ellende van baie ou mense. Dit is op hierdie terrein waar ons moet optree, hier lê ons werklike maatskaplike prioriteit” (68). Hierteenoor verminder die ANC-regering progressief die subsidiëring van ouetehuise en word die lewenskwaliteit van bejaardes aangetas deur verpligte, opgedringde, kulturele inklusiwiteit; juis in daardie geledere wat tereg op enkele gerieflike laaste jare van rus en vrede aanspraak kan maak. Die ANC-regering se gebrek aan simpatie met ouetehuise is gegrond op swartes se leefwyse waarvolgens bejaardes deur familielede, wat parasiteer op die bejaardes se staatstoelaes, gehuisves word.

Sowat ‘n derde van Suid-Afrika se bevolking ontvang staatstoelaes; meesal mense wat jonk genoeg is om te werk. Pompidou noem dat dit ‘n “belediging vir hul waardigheid is” as mense betaal word “om niks te doen nie” (51). “Die mens is gemaak, of glo in elk geval dat hy gemaak is, om gelukkig te wees en die eerste voorwaarde vir sy geluk is dat hy van sy werk moet hou” (79). Dít mag by tradisionele Franse die geval wees, maar baie Suid-Afrikaners voel blykbaar geregtig op owerheidsondersteuning sonder om enige teenprestasie van hulleself te verwag. Charles Pierre Baudelaire (1821-1867) het gesê: “Daar kan geen (ware, dit wil sê morele) vooruitgang wees as dit nie in die individu is en deur die individu self tot stand gebring is nie” (82).

Pompidou wil hê “dat die staat ‘n goeie voorbeeld moet stel” (63). “Dit is sinneloos om te dink dat die armes die bestaan van rykdom ignoreer en dat hulle aanvaar dat die ongelykhede wat so opsigtelik is, altyd sal voortduur” (62). Daar is diegene wat ‘n tweede revolusie na FW de Klerk se “onderhandelde revolusie” voorspel. Oor Frankryk en spesifiek die hoofstad Parys, “die tradisionele vaderland van revolusies” (72), skryf Pompidou: “Die kleinboer of die arbeider van die verlede wat so lank gewerk het as wat hy homself moontlik kon wakker dwing, en dit net om genoeg geld te verdien om sy gesin te voed en te klee, het skaars tyd gehad om oor die lewe en die dood na te dink. Hy het óf die hoop wat die kerk hom gebied het, aanvaar sonder om te redekawel, óf hy het ander hoop in die revolusionêre ideologie gesoek” (75). “Op maatskaplike terrein kan niemand slegs van hoop lewe nie” (67).

Soos in Suid-Afrika se skole en universiteite is die studente in Frankryk ouer as voorheen maar hulle intellektuele vermoëns is nogtans nie beter nie (25). Soos plaaslik, het die akademiese standaarde in Frankryk gedaal. Angel-Saksiese universiteite word nagevolg pleks van die tradisionele Europese model. Dissipline het verdwyn en daar word met strafmaatreëls die gek geskeer. Studente verklaar hulleself tot leiers, vernietig alle hiërargieë en eis “die reg van wanorde” op (28). Volgens Pompidou moet die rektor die reg hê “om ‘n student die universiteit te belet, en indien nodig, vir altyd te belet” (35). In Suid-Afrika is die afgelope jaar of twee miljoene der miljoene rande se skade aan universiteitseiendom aangerig. Geen poging is aangewend om die verliese van die misdadigers te verhaal nie. Daar bestaan geen skadevergoedingsmeganisme in die vorm van bv lewenslange hardepad vir oortreders nie. Selfs die skorsing van misdadige studente is uitsonderlik en (sover aan my bekend) is geen tronkstraf opgelê nie. Dít lyk na ‘n onverbeterlike resep vir voortgesette gewelddadigheid; des te meer omdat die vernietingsywer waarmee bv die Soweto-onrus in 1976 gepaard gegaan het deesdae ongekwalifiseerd geloof word.

“Om die deure oop te gooi sonder enige vorm van beheer oor studente wat doodeenvoudig sal druip of wat niksseggende diplomas sal verwerf, is die swakste moontlike oplossing” (31-32). Maar dit is presies wat in die nuwe Suid-Afrika gebeur. By universiteitstoelating en studiebeurstoekennings word voorkeur aan voorheen benadeelde/tans bevoordeelde studente bo akademies beter blanke studente gegee. Pompidou beveel aan dat elke universiteit “self sy studente moet keur” (34). Die ANC-regering se sterk kommunistiese department hoër onderwys eis egter al hoe meer die reg op om sentraal oor sowel universiteitstoelating as studenteplasing te besluit. Anders as in Suid-Afrika geskied indiensneming in die Franse staatsdiens “slegs op grond van meriete” (35). Pompidou is sterk ten gunste van selfbestuur vir universiteite (34, 35). Edwin Hertzog, wat jare lank voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) was en Afrikaans toe groot skade aangedoen het, het pas erken dat ons universiteite die opdragte van die ANC-regering sonder meer uitvoer (Die Burger, 17 Junie, p 15). Van universitêre outonomie is daar nie meer sprake nie; nie eens die wil daartoe nie. ANC-gedienstigheid is die wagwoord. Hierdie houding is akademies hoogs destruktief, maar die universiteitsbesture wek die indruk dat dit glad nie saak maak nie.

In Mei 1968 het studente-oproer in Parys uitgebreek en oor die hele land en na ander lande, bv Amerika, versprei. Die vakbonde het by hierdie protes aangesluit en die hele Frankryk met stakings lamgelê. Dit herinner aan die onlangse studente-onrus in Suid-Afrika waarin veral swart werkers saam met hoofsaaklik swart studente universiteitskampusse op horings geneem het. Enersyds word laer studiegeld en selfs gratis onderrig geëis. Andersyds word geëis dat ongeskoolde werkers teen hoër vergoeding deur universiteite ingekontrakteer moet word; twee moedswillig teenstrydige eise.

In Frankryk het die oproer op die Nanterre-kampus van die Universiteit Parys begin en dadelik weerklank aan die Universiteit Sorbonne gevind. Soos dwarsoor die wêreld was sosioloë aan die voorpunt van die opstokery. Oor sosiologie skryf Pompidou: “Dit kan ‘n stotterende wetenskap wees waarin baie van die sogenaamde deskundiges met die minste kennis die meeste selfvertroue het … Met hul verstand en lis kritiseer hulle ‘n gemeenskap waarin hulle self van geen ware nut is nie” (1). Pompidou het oor die studente-opstand, ‘n “gewetens- en beskawingskrisis”, in die Nasionale Vergadering gesê: “Tradisioneel was die jeug onderhewig aan dissipline en inspanning ter wille van ‘n ideaal … Die vordering op tegniese gebied en die verhoging van die lewenstandaard het daartoe gelei dat baie mense nie meer besef dat dit noodsaaklik is om hulself in te span nie. Dit is dus glad nie verbasend dat die mens se behoefte om in iets te glo, en om sekere basiese beginsels geanker in hom te hê, nou in die wiele gery word nie omdat alles waarop die mensdom eeue lank gesteun het nou in twyfel getrek word: die familiebande word dikwels verbreek of verslap, die vaderland word betwis of verloën, God bestaan vir baie nie meer nie en die kerk self begin hom afvra watter paaie gevolg moet word en gooi sy eie tradisies omver” (2).

“In dié omstandighede is die jeug verward … omdat hulle weet hoe moeilik dit is om hul brood te verdien … Die bestes is soekend, bekommerd en hulle eis ‘n mikpunt en verantwoordelikhede. Ander … wend hulle tot negativisme, algehele verwerping en ‘n drang om te vernietig. Om wat te vernietig? … enigiets wat byderhand is, en vir die studente is dit die universiteit” (2-3). Hy skryf van “kinderagtige speletjies en voorliefdes om speelgoed te breek” (72) omdat “dit vermaaklik is om te vernietig” (85). Volgens Pompidou behoort dit te gaan “om die herskepping van ‘n lewenspatroon wat vir almal aanneemlik is en om die versoening van orde en vryheid, gees en oortuiging, stedelike beskawing en persoonlikheid, materiële vooruitgang en die erkenning van die noodsaaklikheid om te werk, vrye mededinging en geregtigheid, individualisme en samehorigheid” (3).

Wat gebeur in Suid-Afrika, bv aan die Universiteit Stellenbosch? Pleks van akademiese oorwegings voorop te stel, word ras- en geslagsteikens nagejaag. In ooreenstemming daarmee word studente gewerf en van studiebeurse voorsien. Baie van die swart studente kom na die US nie omdat hulle gemotiveerd is om verder te studeer nie, maar doodeenvoudig omdat hulle gratis kos en verblyf in Stellenbosch verkies bo werklose krepering in hulle huise. Weens opsweping en verveeldheid* wend hulle hulle geredelik tot protesaksies en gewelddadigheid terwyl veral misleide blankes, bv in die universiteitsbestuur, redes ter regverdiging van hulle onsosiale gedrag fabriseer. Dít gebeur aan wat veronderstel is om ‘n opvoedkundige inrigting te wees. Daar word gevolglik nie streng teen hierdie misdadigers opgetree nie. Hulle word op die kampus gekoester, deurlopend van onderhoudsmiddele voorsien en bemagtig om opnuut moles te maak. Daarteenoor het daar in Frankryk, in soverre dit steeds ‘n beskaafde samelewing is, spoedig teenstand teen die chaos opgebou en was daar “die weiering om wanorde en revolusie te aanvaar” (72). Wanneer kos gesteel word, soos onlangs by die eeufeesviering van die Universiteit Fort Hare, of as ‘n universiteitskafeteria gestroop word, dan kom ‘n opvoedkundige soos Michael le Cordeur met die storie dat die studente honger was. Wanneer winkels deur die gepeupel geplunder word, wat glad te dikwels gebeur, moet veral drankwinkels dit ontgeld. Hier sal seker geredeneer word dat die arme misdadigers dors was. [* “Aangesien hulle baie vroeg reeds alles weet, alles probeer het, alles uitgeput het, tree verveeldheid in” (76).]

Pompidou noem dat hierdie jong mense “juis teen hierdie gemeenskap wat so goed vir hulle sorg in opstand kom … bevoorregtes en bedorwe brokkies. Maar baie revolusies en opstande word juis deur ontevrede bevoorregtes veroorsaak” (4). Om as jong mens voltyds op ander mense se koste te studeer, is moeilik oortrefbare bevoorregting. “Hierdie jong mense [is] gevoed, gehuisves, onderhou, het baie min werk gehad en ook nie die minste begeerte om ‘n produktiewe lewe in die oë te kyk nie” (4). Hy verwys na “vet en dikgevoerde belhamels” wat “hul eie kleinlike eersug dien deur met vuur te speel” (4). Desnieteenstaande het daar “lofliedere” vir “die helde van Mei” opgeklink (5), soortgelyk aan wat ons jaarliks met Jeugdag vir die “helde van 1976” moet verduur. In werklikheid is hierdie misdadigers “uitbuiters van ‘n gemeenskap” (5) en “duiwels van verwoesting” (88).

Die onlangse plaaslike vlaag van studente-onrus het ten diepste met die verbrokkeling van (beskaafde) waardes te make. Dit dui op ‘n ontsaglike geestelike probleem. Wat noodsaaklik is, is dat die pateties ondoeltreffende skoolonderrig opgevolg moet word met die deeglike algemene vorming/opvoeding van studente aan universiteite (in die humaniora, sosiale en natuurwetenskappe, en tegnologie). Dit behoort op hoogs gedissiplineerde kampusse plaas te vind waar geen onbeskaafde gedrag geduld word nie. Studente moet ten aanvang geleer word om behoorlik te kan lees en skryf; om inligting te versamel, verwerk en dokumenteer; om te kan dink en verstaan; om ingelig te wees oor wêreld- en lewensbeskouings, asook oor die globale geskiedenis van die mens en sy omgewing. Daarna kan studente toegelaat word om in beroepsrigtings te spesialiseer. Hierdie voorstel behels ‘n herwaardering van die tradisionele wortels van die universiteitswese; dus ‘n verstandige terugkeer na wat universiteite was voordat hierdie inrigtings onder veral Amerikaanse invloed so haas onherkenbaar ontaard het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.