Afriforum sê US-besluit teen Afrikaans is ongrondwetlik

Deel op

Die besluit deur die raad van die Universiteit van Stellenbosch om in 2017 ‘n taalbeleid te aanvaar waarvolgens Engels die enigste primêre onderrigtaal van die universiteit sal wees, is deur AfriForum as “ongrondwetlik” beskryf.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (foto hierbo) het bygevoeg dat “die bevordering van private tersiêre onderrig in Afrikaans” toenemend belangrik geword het.

Sy sê alle Suid-Afrikaners se taalregte word aangetas en nie net Afrikaners s’n nie.

“Met hierdie stap is bewese beste opvoedkundige praktyke, soos die aanbied van moedertaalonderrig (en dit juis die moedertaal van die meerderheid Wes-Kapenaars) nie in ag geneem nie. Ook is ‘n gees van wedersydse erkenning en respek nie onder studente wat onverdraagsaam teenoor Afrikaans is, bevorder nie. Inteendeel, hul dreigemente van onverdraagsaamheid en geweld is met toegewings begroet,” sê Bailey. “Dit voorspel niks goeds wat nasionale stabiliteit en polarisasie in die toekoms aanbetref nie.”

Die enigste van vier universiteite in die provinsie wat Afrikaans as ‘n verstektaal gebruik het, word hiermee uitgerangeer het Baily gesê.

“Dit kom voor asof die besluit ‘n daad van politieke gedienstigheid en ‘n kniebuiging voor anargie is.”

Gevolglik sal geen Wes-Kaapse Afrikaanse matrikulant van volgende jaar af meer in sy of haar eie provinsie in sy of haar eie taal as primêre taal van onderrig kan studeer nie.

“Deur hierdie jongmense van hul taalregte te ontneem, word niemand bemagtig nie en geen ander inheemse taal uitgebou nie. Die besluit is strydig met die gees van die Suid-Afrikaanse Grondwet en internasionale taalregte. AfriForum sal met ons regspan en AfriForum Jeug, asook ander belangegroepe gesels oor verdere stappe om dié regte wel te beskerm.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.