Dan Roodt: Tyd om op te staan vir Afrikaans!

Deel op

Die nuus wat elders berig word, dat sowel Maties as Tukkies van Afrikaans ontslae raak op ‘n swart dag vir Afrikaans, stel Afrikaners voor ‘n onverbiddelike keuse: óf ons moet voortgesette politieke, kulturele en talige oorheersing aanvaar, óf ons moet daarteen in opstand kom. Soos die filosoof Carl Schmitt gesê het:

“Sê my wie jou vyand is, en ek sal jou sê wie jy is.”

Die taaloorlog is verklaar. Oor die afgelope tyd het die vyande van die Afrikaner en veral van ons taal, Afrikaans, openlik na vore getree. Dis nie nodig om hulle hier te lys nie, want ons vermoed almal wie hulle is. Sommige van hulle dra rooi hemde en barette; ander kruip weg agter mooi klinkende frases soos “demokrasie”, “die grondwet”, “toegang vir almal”, en dergelike meer. ‘n Ander groep bestaan uit verloopte Afrikaners wat reeds hul kinders in Engelse skole geplaas het en uit hoofde van hul persoonlike keuse met buitenissige venyn teen Afrikaans organiseer, en eintlik die “vuilwerk” van die meer tradisionele vyande van Afrikaans doen.

Teen hulle almal sal ons ons moet begin verset. Oor die aard en omvang van hierdie verset, moet daar taamlik koud en klinies gedink word. Sekerlik moet daar voortgegaan word met ‘n stryd in die howe en op elke moontlike wettige manier. Hoewel, as ons eerlik is, moet ons erken dat die stelsel dermate teen ons gelaai is, dat wetlike middele haas uitgeput is. Daar word implisiet aanvaar, ook in die howe, dat die Afrikaner so magteloos en skaakmat gestel is dat ons vyande so te sê kan maak wat hulle wil. Demografie is alles en getalle troef elke beginsel.

Oor die verskynsel van Boerehaat in Suid-Afrika – en waarskynlik in Groot Brittanje – kan daar boeke vol geskryf word. Voeg daarby die nuutgevonde vermetelheid van sekere Pedi’s en Zoeloes, en ons sit met ‘n galery vol jillende vyande wat in optrede teen Afrikaans ‘n simboliese manier sien om Afrikaners grondig te verneder. Nie net te verneder nie, maar ons ook te laat verstaan dat ons nie langer in die land of in die samelewing welkom is nie.

Wat PRAAG betref, sal ons aanhou om die goeie stryd te stry en die misnoeë wat die meerderheid Afrikaners voel te verwoord. As een van die openbare gesigte van Afrikaans, moet ons ons by die gehate Engelse grondwet met sy Engelse en swart voorkeure hou, asook by die aardige hoeveelheid wette en maatreëls wat toenemend ons spraakvryheid beperk. Terwyl die ekstremistiese uitlatings en selfs oproepe tot volksmoord van ons vyande natuurlik geduld word, indien nie aangemoedig word nie…

Maar om die spreekwoordelike braaivleisvure, tussen vriende, familie en vertrouelinge, sal elke Afrikaner moet besin oor wat hom volgende te doen staan. Gaan ons dié naakte oorheersing aanvaar waarmee Afrikaans met ‘n pennehaal vanuit die tersiêre stelsel – en volgende uit die skole – verwyder word?

Gaan ons, wat nie die oorheersing van die Britse empaaier wou aanvaar nie, die dwingelandy van die Bantoe-empaaier duld? En indien nie, wat gaan die beste manier wees om dit van ons af te skud? Dis alles kwelvrae waarvoor elkeen van ons sy eie antwoord moet vind.

Gaan daar weer soos in die laat dertigerjare ‘n spontane beweging onder Afrikaners ontstaan, dié keer om die saak van Afrikaans te veg? Ons was al voorheen hier, by dié punt wat Van Wyk Louw in daardie tyd só in ‘n gedig verwoord het:

Julle is die oorheersers en júlle die vertrappers
van ons wat sterk is, maar magteloos verneder;
julle maal ons soos koring; julle eet ons soos brood.

Daarom moet julle tot needrigheid genees word,
gebreek word deur ons in ons magtige opstand
tot eenvoudig vreugdes, tot die heilige lye,
tot ’n nuwe onmiddellikheid van die heldere aarde;

Maak geen fout nie: daar word tans tot in die hart van Afrikaans geskiet. Die taal het nog altyd oorleef danksy sy hoë funksies wat hy moeisaam oor langer as ‘n eeu verwerf het. Met die summiere afskaffing van Afrikaans op universiteit, is die stryd in die howe en op bykans elke ander terrein eensklaps óók verlore.

Uit selfverdediging sal ons moet begin dink op watter manier ons Engels – want ongelukkig word die oorlog teen Afrikaans in die naam van Engels gevoer, hoe goedgesind vele Engelssprekendes hier maar veral oorsee ons ook al mag wees – kan seermaak. Dit mag vir ons moeilik wees om die status van Engels as staatstaal en as handelstaal deesdae in ons land aan te tas, maar moontlik is die fisieke infrastruktuur van Engels kwesbaarder as wat ons dink.

Is daar ander meer subtiele maniere om sowel die Britse as die Bantoe-imperialis tot sy sinne te bring, daardie vandale wat tydens die tweede vryheidsoorlog ouerhuise en kerke in ligte laaie gelaat het? Of is ons gedoem om hul resep te volg?

Die staat, die effers en die universiteitsowerhede wat almal uit een mond praat, is besig om ons onberekenbare skade aan te doen deur ons geliefde moedertaal van ons weg te neem. Hiermee ontneem hulle ons ook van ons grootste en mees kosbare ideaal, die strewe om van Afrikaans dié kultuurtaal van Afrika te maak.

As ons aan Engels net vyftig persent van die skade kan aanrig wat daar nou teen Afrikaans gepleeg word, sou ons al baie bereik.

Daar kom ‘n tyd in die lewe van elke volk dat hy teen onreg moet opstaan. Daardie tyd is nóú.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.