Ergste opstand sedert einde van Apartheid duur voort

Deel op

Die Verkiesingskommissie het die politieke geweld in dele van die land in die aanloop tot die munisipale verkiesing op 3 Augustus, veroordeel.

Die voorsitter van die kommissie, Glen Mashinini sê die verkiesing kan nie as vry en regverdig verklaar word indien huidige toestande so voortduur nie, maar die ANC weier steeds om die ongewilde burgemeesterskandidaat van KwaZulu Natal vir Tshwane te onttrek.

Mashinini het die media toegespreek by ‘n geleentheid waar politieke partye die verkiesings-gedragskode onderteken het.

Hy het partye gewaarsku dat geweld nie geduld sal word nie, en dat partye wat die gedragskode oortree, nie aan die verkiesing sal kan deelneem nie.

Twee mense is reeds dood in die openbare opstand, die ergste sedert die einde van Apartheid, oor ‘n omstrede burgemeesterskandidaat in Pretoria.

‘n Splinternuwe skool is intussen deur plunderaars gestroop. Behalwe 21 busse is verskeie polisievoertuie aan die brand gesteek. ‘n Joernalis van die SABC is ook aangeval.

Alle partye moet die gedragskode onderteken voordat hulle aan die verkiesing kan deelneem, maar die geweld is hoofsaaklik tussen faksies van die ANC en nie soseer tussen partye nie.

Spanning tussen die Patriotic Alliance en die DA het RSG se verkiesingsdebat in Mitchells Plein effens ontwrig, en sekuriteit moes tussenbeide tree. Die twee groepe het handgemeen geraak.

Maar die opstand in lokasies in en om Pretoria duur voort nadat Thoko Didiza as die ANC se burgemeesterskandidaat vir die Tshwane Metro in die komende verkiesing aangekondig is.

‘n Swart joernalis van die SABC is deur oproeriges in die Boikuthsong-plakkerskamp in Mabopane, noord van Pretoria aangeval en beroof.

Die joernalis, Horisani Sithole was teenwoordig toe ‘n winkel geplunder is, en hy is aangeval.

Daar is intussen steeds ‘n groot polisieteenwoordigheid by die Gomora-plakkerskamp, wes van Pretoria, waar ‘n skare van sowat tweeduisend betogers vroeër saamdrom.

Meer as veertig polisiebeamptes en ‘n polisiehelikopter monitor die situasie.

Bykomende beamptes van die polisie se openbare orde-eenheid, die honde-eenheid en metropolisiebeamptes is vroeër in die gebied ontplooi.

Die polisie het motoriste gewaarsku om die gebied te vermy, nadat motors vroeër met klippe bestook is.

Inwoners van die Malusi-plakkerskamp, wes van Pretoria sê Thoko Didiza sal nie die huidige burgemeester, Kgosientso Ramokgopa se bestaande projekte deurvoer nie.

Hulle het vroeër slaags geraak met die polisie wat hulle as Didiza se handlangers beskou.

‘n Gemeenskapsleiers sê hulle is bekommerd dat die huidige ontwikkeling tot stilstand gaan kom onder die nuwe burgemeester.

‘n Vergadering tussen ANC-leiers en takke binne die Tshwane-metrogebied moes ondertussen uitgestel word.

Alhoewel partyleiers ooreengekom het om brandpunte te besoek en inwoners se klagtes te bespreek, is die situasie steeds te gespanne met verskeie ANC-leiers wat uitgejou is.

Die party wou nie redes vir die uitstel openbaar maak nie, waarskynlik om hulle die verleentheid te spaar.

Die polisie het toegekyk hoe oproeriges winkels plunder in Mamelodi-Wes, oos van Pretoria.

Winkels wat deur buitelanders besit word, is oornag geteiken. Eienaars moes ook hulpeloos toekyk hoe oproeriges hulself aan voorraad help sonder dat die polisie ingryp.

Buitelanders uit ander Afrika-lande, moes soortgelyke aanvalle in April verlede jaar trotseer, toe skares hulle blameer het vir die hoë werkloosheid.

Ontleders het gewaarsku teen verdere onrus in die kommersiële spilpunt van Gauteng, wat Pretoria en Johannesburg insluit.

“Intra-ANC-faksiegeweld met die komende verkiesing word geïgnoreer deur markte wat handel oor eksterne faktore, maar is kommerwekkend,” sê Nomura se ontleder vir ontluikende markte, Peter Attard Montalto in ‘n nota.

Intussen moes die Jubilee-winkelsentrum in Hammanskraal, noord van Pretoria inderhaas ontruim word nadat ‘n wenk ontvang is oor oproeriges wat daarheen op pad is.

Die sentrum vir die studie van geweld en versoening sê die geweld wys hoe gefrustreerd armes is omdat hulle uitgesluit word van die politieke proses.

Die sentrum het die onvermoë van die ANC om toepaslik te reageer op die gemeenskap se klagtes gekritiseer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.