Duisternis oor dele van Pretoria nadat oproeriges Eskom verjaag

Eskom het Dinsdagaand gesê dat ‘n hoogspanningstransformator by Mapopane-Oos se elektrisiteit-substasie omstreeks 18:00 onklaar geraak het, wat dele van Pretoria in duisternis gelaat het.

Pretoria gaan tans gebuk onder die grootste enkele vlaag van geweld sedert die ANC aan bewind gekom het.

Die kragvoorsiener het gesê ‘n aantal substasies regoor die Tshwane-gebied word daardeur geraak, insluitend Vuka, Winterveld, Nonyane en Makgatho se substasies, wat ongeveer 25.000 verbruikers van krag voorsien.

Eskomtegnici is na bewering weggejaag deur die oproerige massas toe hulle probeer om te reageer op die probleem by die substasie.

“Ons wil graag dit op rekord plaas dat dit dieselfde substasie is waar ons personeellede deur die gemeenskap weggejaag is vroeër as gevolg van die protesaksie wat vandag [Dinsdag] in Tshwane gebeur,” het Eskom in ‘n verklaring gesê.

“In die belang van hierdie soort uitdaging, is sekuriteit sedertdien saamgestuur om ons veldspan in hul ondersoek te begelei.”

Tshwane-inwoners in Atteridgeville, Soshanguve, Hammanskraal en Mamelodi, het Dinsdagoggend op ‘n brandstigting- en plundertog uitgevaar, waar voertuie en winkels geplunder en gebrand is uit protes teen die burgemeesterskandidaat van KwaZulu Natal.

Die besluit van die ANC om die voormalige minister Thoko Didiza te ontplooi as Tshwane se burgemeesterskandidaat voor die komende plaaslike regeringsverkiesings in plaas van die gevestigde Kgosientso Ramokgopa het tot etniese spanning gelei.

Die SABC het berig dat plundery Dinsdagaand in Mabopane toegeneem het namate meer en meer winkels gevandaliseer is.

“Mabopane se inwoners het begin om buitelanders se winkels en ander winkels te plunder insluitend PEP en Barnetts,” het joernaliste getwiet.

‘n Lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee, Nomvula Mokonyane sê die voortgesette gewelddadige betogings in die Tshwane Metropool vererger die verdeeldheid binne die regerende party op streekvlak.

Geweld het in sommige gebiede in en om Pretoria uitgebreek omdat die betogers eis dat die huidige burgemeester, Kgosientso Ramogkopa (foto hierbo), behou word.

Die ANC vergader tans met al sy takke in die streek om Didiza aan hulle op te dring. Mokonyane het die keuse van Didiza probeer regverdig.

Die ministers in die Veiligheidsgroepering sê hulle weet wie betrokke is by die gewelddadige betogings in die Tshwane metropool.

Volgens bronne het 12 ANC-lede by Court Classique Hotel ontmoet om die geweld te beplan as “Sputla”, die huidige burgemeester, nie aangewys word nie.

Hulle sê ondersoek word ingestel na spesifieke individue, ná sowat 20 busse aan die brand gesteek is.

Die ministers het die geweld bestempel as ongekend, maar het besluit om nog nie die weermag te ontplooi nie.

Die minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula sê hulle sal die situasie daagliks monitor voor ‘n besluit geneem word. Die weermag is nogtans op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas om in te gryp.

Die Minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo, het vroeër ‘n beroep op politieke partye en individue gedoen om hulle daarvan te weerhou om paniek te saai op sosiale media oor die situasie in die metropool.

Mahlobo sê sommige mense gebruik die sosiale media om die situasie uit te buit. Die minister sê hulle is ook bewus van sekere politieke partye wat paniek probeer veroorsaak.

Hy sê slegs die regering sal inligting oordra oor enige bedreigings wat kan voorkom. Die SABC berig egter nie uitvoerend oor die openbare geweld nie.

Honderde pendelaars noord van Pretoria is gestrand weens busdienste in die gebied wat opgeskort is.

Inwoners van Hammanskraal sê hulle kan nie by die werk kom nie, aangesien hulle nie taxi’s kan bekostig nie.

Die situasie in Pretoria-Wes is steeds gespanne en ‘n polisievoertuig is vroeër met klippe bestook.

Motoriste is gewaarsku om Van der Hoff-weg in die gebied te vermy. Die meeste skole is steeds gesluit.

In Atteridgeville is die situasie gespanne en min busse en taxis is in bedryf. Die polisie het die situasie deur die nag gemonitor in Mamelodi en is steeds op die toneel.

Pendelaars moet van alternatiewe vervoer gebruik maak aangesien die busdiens opgeskort is.

In Mabopane is skole gesluit.

Die Tshwane metroraad het inwoners intussen gemaan om waaksaam te wees nadat geweld volgens berigte laasnag voortgeduur het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.