Topdiplomaat in Namibië aangeval, sakeman vermoor

Deel op

‘n Topdiplomaat is Woensdagaand in Swakopmund, Namibië aangeval en vir dood agtergelaat. In ‘n ander voorval is ‘n bekende sakeman doodgeskiet.

Merete Dyrud sou waarskynlik nie die aanval oorleef het as ‘n vryskutjoernalis, Linette Smit Russell, haar nie oor die beseerde vrou se welstand bekommer het nie.

Dyrud is tweede in bevel in die Norweegse ambassade, en is tans werksaam in Kaïro, Egipte. Sy was met vakansie in Namibië.

Volgens omstanders is ‘n Franse vrou die vorige week op dieselfde plek en op dieselfde manier aangeval.

‘n Bus vol toeriste het ook stilgehou waar die beseerde diplomaat gelê het, omring deur nuuskieriges.

Dyrud (52) is verlede Woensdagaand naby die Tug-restaurant aangeval toe sy en ‘n vriend na ‘n ander restaurant, Tiger Reef, gestap het.

Volgens die polisie is sy deur ‘n onbekende persoon met ‘n onbekende voorwerp oor die kop geslaan. Haar beursie met N$3 000 en buitelandse geld is gesteel.

Dyrud kon eers in die hospitaal se intensiewesorgeenheid weer tot verhaal kom en het uitgesien daarna om weg te kom uit Namibië.

Blykbaar is die vrou ‘n swaar voorwerp oor die kop geslaan en beroof. Toe Smit Russell op haar afgekom het, kon sy niks onthou nie en het nie geweet waar sy is nie.

Daar was ‘n yslike besering aan die agterkant van haar skedel en bloed het langs haar slape afgeloop, het Smit Russell gesê. Sy was heeltemal verward en erg verswak en het nie verstaan wat aangaan of waar Namibië is nie.

Sy kon slegs haar naam onthou en dat sy van Noorweë kom. Sy het haar naam herhaaldelik gespel.

Die paramedici wou haar egter nie na die hospitaal neem sonder bewys van identiteit en betaling nie. Sy is deur die joernalis op Facebook opgespoor. Dit is nie bekend wat van haar metgesel vir die aand geword het nie.

Haar regering het onmiddellik in­gestaan om vir haar mediese onkostes te betaal nadat hulle van die aanval te hore gekom het, en haar hotel het haar dokumente aan die joernalis besorg.

Intussen is drie swart mans wat in verband met die onlangse moord op ‘n wit sakeman van Walvisbaai in hegtenis geneem is, se sake in die landdroshof bymekaar gevoeg.

Walvisbaaiers het handtekeninge op ‘n versoekskrif ingesamel om druk op die howe uit te oefen sodat borgtog nie toegestaan word aan die vermeende moordenaars nie.

Die twee mans is onder ­­swaar polisiebewaking na die stampvol hofsaal begelei waar hulle voor landdros Liwayo Sindano verskyn het.

David Shekudja en David Tashiya staan op klagte van moord, huisbraak met die doel om te roof, gewapende roof en poging tot moord tereg.

Nadat dié klagte deur die landdros aan hulle in die hof voorgelees is, het Shekudja­ gesê hy sal om regshulp aansoek doen terwyl Tashiya gesê het hy sal homself tydens die verhoor verteenwoordig.

Hoewel borgtog nie aan die twee mans toegestaan is nie, het Sindano hulle nogtans ingelig dat ‘n formele aansoek om borgtog by die hof ingedien mag word.

Sindano het die twee beskuldigdes se saak met dié van nog ‘n beskuldigde, Panduleni Gotlieb, bymekaargevoeg.

Gotlieb het sy eerste verskyning op klagte van moord, huisbraak met die doel om te roof en poging tot moord in die landdroshof gemaak.

Die klagte teen die beskuldigdes hou verband met ‘n aanval op 17 Junie wat op Walvisbaai plaas­gevind het.

Tydens die voorval het die drie beskuldigdes en nog drie vermeende rowers glo by die oor­ledene, Hans-Jörg Möller, se huis in­gebreek. Möller is in die maag geskiet en sy vrou, Carol-Ann, ernstig aangerand.

Hans-Jörg Möller is ‘n dag ná die voorval in ‘n hospitaal op Swakopmund oorlede.

Gotlieb is Vrydagaand in ‘n minibus-taxi op pad na die Noorde tussen Ondangwa­ en Omuthiya vasgetrek.

Shekudja en Tashiya is in Windhoek deur die polisie in hegtenis geneem en het Maandagmiddag in ’n ­uitkenningsparade op Walvisbaai verskyn.

Carol-Ann was ook by die hofverskyning. Haar oë is nog blou van die beserings wat sy tydens die aanranding op haar opgedoen het.

Die drie beskuldigdes se saak is tot 2 Augustus uitgestel sodat die polisie se ondersoek voltooi kan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.