Geweld in Pretoria versprei verder

Deel op

Ten minste 21 busse is tot as verbrand in verkiesingsgeweld in Pretoria.

Berigte is ontvang dat sake-ondernemings in Atteridgeville, wes van Pretoria, geplunder word.

Groot skares het reeds versamel waar ‘n helikopter die gebied monitor.

Vroeër is ‘n patrollievoertuig van die Metropolisie in die middestad omgekeer, ook vermoedelik deur ontevrede ANC-lede, hoewel die polisie dit nog nie kon bevestig nie.

Polisie sukkel om die geweld in swart gebiede rondom Pretoria te onderdruk. Oproer het nou versprei na Atteridgeville, Garankuwa en Hammanskraal Dinsdag waar inwoners paaie afgesper het en motoriste onder klippe steek.

Strate wat in en uit Atteridgeville loop, is met doringdraad afgesper.

Pendelaars en skoolkinders kon nie die gebied verlaat nie. Slegs ‘n paar taxi’s is buite die gebied bedrywig.

Daar was ook verslae van voertuie wat met klippe bestook is in verskeie dele.

Vanoggend is twee vragmotors en ‘n bus in Hammanskraal, noord van Pretoria aan die brand gesteek.

Die polisie het motoriste gevra om van alternatiewe roetes gebruik te maak omdat die R101 tussen Hammanskraal en Pretoria asook die N1-Suid deur Hammanskraal, afgesper is.

Inwoners is ontevrede oor die keuse van die ANC-LP en voormalige minister van openbare werke, Thoko Didiza as burgmeesterkandidaat vir die Tshwane-metrogebied.

‘n Aantal busse is Maandagnag in Mamelodi oos van Pretoria aan die brand gesteek, vermoedelik deur inwoners wat gekant is teen die nuutaangekondigde burgemeesterskandidaat.

Verkeer is kwaai ontwrig op die langste straat wat die oostelike en westelike dele van die lokasie met mekaar verbind.

Die onrus volg nadat ‘n ANC-lid oor die naweek by die Tshwane Uitstalsentrum tydens die keuringsproses vir die burgemeesterskandidaat doodgeskiet is.

Intussen is wetstoepassers oor ‘n groot gebied in en om Pretoria ontplooi om orde te handhaaf.

‘n Bus is ook naby die Kalafong Hospitaal in Atteridgeville, wes van die stad aan die brand gesteek.

Verkeersontwrigting is digby die Daspoort-tonnel aangemeld. Die beplande stygings in bustariewe die einde van dié maand is blykbaar ook ván die redes vir die onrus.

Die regering het die onrus en geweld skerp veroordeel en ‘n beroep om kalmte gedoen.

Die waarnemende hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel, Donald Liphoko sê geen kwessie kan nié opgelos word deur middel van demokratiese prosesse en gesprekvoering nie.

Hy sê lede van die publiek moet hulle ontevredenheid deur die regte kanale opper.

Liphoko het die skuldiges gewaarsku dat hulle met die volle mag van die reg te doen sal kry.

Die burgemeester van die Tshwane metroraad, Kgosientsho Ramokgopa het ‘n beroep op inwoners van die metro se townships gedoen om hulle van geweld en vandalisme te weerhou.

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee tesame met Gauteng se provinsiale leierskap, sal na verwagting môre met die Tshwane ANC-takke vergader.

Die polisie in Delmas in Mpumalanga ondersoek ‘n saak van poging tot moord nadat ‘n twaalfjarige seun gewond is tydens ‘n betoging oor die ANC se kandidaatlys vir die komende verkiesing.

Volgens die seun se familie het sy pa hom winkel toe gestuur toe die skietery plaasgevind het.

Oproeriges het opgeruk na die huis van ‘n ANC-kandidaat, wat hulle daarvan beskuldig dat hy bo hulle keuse van kandidaat benoem is.

‘n Polisiewoordvoerder sê ‘n verdagte is nog nie geïdentifiseer nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.