Aanslag op Trump se lewe deur Britse burger

Deel op

‘n Negentienjarige is aangekla vir ‘n poging om ‘n geweer van ‘n polisiebeampte te gryp by ‘n byeenkoms waar Donald Trump in Las Vegas opgetree het.

Hy wou dit vermoedelik gebruik om die Republikeinse presidensiële kandidaat te vermoor.

Volgens ‘n klagte in die Amerikaanse Distrikshof in Nevada Maandag, het Michael Sandford probeer om die beampte te ontwapen by die 18 Junie-saamtrek in die Mystere-teater van die Treasure Island Casino voordat hy oorrompel is.

Daar word beweer dat die jong man, wat ‘n Britse bestuurslisensie besit, ná sy inhegtenisneming gesê het dat hy van Kalifornië gery het na Las Vegas om “Trump te vermoor” en ‘n dag vroeër gaan leer het om te skiet omdat hy nog nooit ‘n wapen voorheen gebruik het nie.

“Sandford het erken dat hy waarskynlik net in staat sou wees om 1 of 2 rondes af te vuur en het gesê hy is daarvan oortuig hy sou deur wetstoepassers doodgemaak word tydens sy aanslag op Trump se lewe,” lui die klagte.

Daar word voorts beweer dat Sandford aan ondersoekbeamptes gesê het dat hy ook kaartjies gekoop vir ‘n saamtrek in Phoenix, waar hy “weer sou probeer om Trump dood te maak” in geval sy plan in Las Vegas misluk.

Sandford is reeds aan die Geheimediens oorhandig en hy is borg geweier.

Las Vegas Now het berig dat Sandford onwettig in die land is en dat sy visum verstryk het. Britse burgers mag slegs korter as 90 dae in die VSA vertoef sonder ‘n visum.

Sandford het ‘n gesprek met ‘n polisiebeampte van Las Vegas, Ameel Jacob, aangeknoop en beweer dat hy ‘n handtekening van Trump wou kry, volgens hofstukke. Hy het toe glo die wapen van dié betrokke beampte gegryp omdat sy veiligheidsknip af was.

Volgens die hofrekords, sal die Amerikaanse Prokureurgeneraal se kantoor die Britse konsulaat van Sandford se arrestasie in kennis stel.

Sandford sal weer in die hof verskyn op 5 Julie na ‘n voorlopige ondersoek.

Hoewel Donald Trump beskerm word deur die Geheimediens, het Politico berig dat Trump sy eie “huursoldate” ontplooi tydens sy saamtrekke. Hierdie private sekuriteitsbeamptes dra gewone klere en lyk soos ondersteuners.

Vroeër Maandag, is Corey Lewandowski, Trump se veldtogbestuurder afgedank. Trump het hom intussen bedank vir sy harde werk.

In sy plek is ‘n gesoute strateeg wat Ronald Reagan aan bewind gebring het aangestel, by name Paul Manafort. Trump ken Manafort al jare lank.

In die laat 1980’s is Manafort se firma gehuur om Jonas Savimbi, leier van die guerrillaleër in Angola te verteenwoordig.

Savimbi het hulp van die Verenigde State van Amerika ontvang. Danksy die werk van Manafort is die Amerikaanse Senaat en Bob Dole oortuig dat die departement van buitelandse sake wapens moet stuur na Savimbi en sy groep.

Volgens Slate, het Manafort het ook gehelp om Savimbi se rol as ‘n vryheidsvegter te belig.

In 2010, het Manafort gedien as raadgewer van Janukowitsj, die Oekraïene se presidensiële kandidaat wat bande met Vladimir Poetin gehad het.

Hy het uiteindelik die verkiesing in 2010 maklik gewen, maar is uit sy amp onthef in 2014 deur ‘n Neocon-putsch.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.