Politieke geweld verhewig na Sanco-leier se moord

Deel op

Politieke binnegevegte is vermoedelik die oorsaak vir die moord op ‘n leier van die burgerregte-organisasie, Sanco in Madibeng naby Brits in Noordwes.

‘n ANC-sameroeper in die streek, Lawrence Maluleka sê Thabo Moroa is deur vier aanvallers by sy huis in Maboloka doodgeskiet, het RSG berig.

‘n Familiewoordvoerder, Aaron Moroa sê Thabo Moroa is in die hart en bene getref. ‘n Vriend is in die rug geskiet.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Maluleka sê ANC-lede in die gebied leef in vrees. Vergaderings word glo met vuurwapens en panga’s bygewoon.

Maluleka sê hulle het die ANC-leierskap gevra om ‘n verklaring uit te reik, maar dat dit nog nie gebeur het nie.

Die ANC-woordvoerder, Zizi Kodwa sê intussen die voormalige minister van Openbare Werke, Thoko Didiza is nie as die burgemeesterkandidaat vir die Tshwane Metropool aangewys nie.

Berigte op sosiale media het glo van die media mislei.

Volgens vroeëre berigte gaan die huidige burgemeester, Kgosiento Ramokgopa ‘n adjunkministerspos kry.

Geweld het uitgebreek waar duisende ANC-ondersteuners by die Pretoriase Skougrond op die ANC se aankondiging gewag het.

Kodwa sê die gebeure in Pretoria, waaronder ‘n skietvoorval, word deur die polisie ondersoek en dat hulle nie in dié stadium kan bespiegel nie.

Die polisie het orde herstel ná geweld tussen strydende faksies binne die ANC in Pretoria, terwyl besprekings aan die gang was om die burgemeesterskandidaat vir die Tshwane Metro aan te wys.

‘n Man is gewond toe vier skote afgevuur is.

Sowat 3000 ANC-lede het gewag vir die nasionale en provinsiale leierskap om die aankondiging oor die burgemeesterskandidaat te doen.

Dit wil voorkom of die skietvoorval direk met die politieke saamtrek verband hou, wat dui op uitgebreide verkiesingsgeweld.

Ontevrede ANC-lede is besig om die paaie by Ginsberg in King Williamstown in die Oos-Kaap te versper.

Die oproeriges het Sondag na die ANC-provinsiale hoofwartier opgeruk en beweer dat daar bedrog met die benoeming van Bongani Dyonase as kandidaat vir wyk 39 was.

Niemand kon egter na hulle klagte luister nie en daar is met oproer begin.

Onrus kom ook voor op die R409 tussen Butterworth en Ngqamakwe waar mense betoog.

Twee mense is dood en nog twee beseer nadat onbekende gewapende mans ‘n huis op Ngangelizwe in Mthatha in die Oos-Kaap aangeval het.

Volgens die oorlewendes het drie mans die huis bestorm en op die inwoners geskiet.

‘n Broer en suster is in die voorval dood, terwyl die ma en nog ‘n kind gewond is. Die oorlewendes is in die hospitaal opgeneem en die polisie ondersoek die voorval.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.