Soektog na vermiste vrou afgeskaal

Deel op

Die soektog na die vermiste Annetjie Myburgh van die Elanzeni-distrik naby Barberton is afgeskaal.

Myburgh is Woensdag as vermis aangegee nadat sy nie by die werk opgedaag het nie.

Daar was in die afgelope sewe weke twee inbrake en vier pogings tot inbrake by haar huis.

Myburgh werk by ‘n prokureursfirma in Witrivier. Nadat sy Woensdagoggend spoorloos verdwyn het, word daar geglo dat sy by die hek van haar kleinhoewe in Curlews naby Rocky Drift gekaap en ontvoer is.

Twee kapmesse is by die hek gevind sowel as haar bril. Twee stelle spore is langs die heining van Myburgh se kleinhoewe gevind.

Die vermeende kapers het in haar wit Pajero met die registrasienommer CHF 482 MP gevlug.

Haar twee selfone het in ‘n stadium na die Swalala Trust-selfoontoring ‘n sein gestuur, maar is sedertdien afgeskakel.

Soekspanne het in die lokasies inbeweeg met ‘n nuwe taktiese aanslag.

Kapt. Pottie Potgieter van die duikeenheid op Witrivier, koördineer die soektog en het by navraag gesê dat talle mense al ingebel het met inligting sedert daar nou ‘n beloning van R31 000 uitgeloof is.

“Ons volg alle leidrade op. As mense beweer hulle het haar Pajero in ‘n bepaalde area gesien, gaan stel ons dadelik ondersoek in,” het hy gesê.

Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice, het by navraag gesê dat, hoewel die soektog nou afgeskaal is, hulle nog reg deur die nag na haar gesoek het.

Intussen stroom aanbiedinge van hulp steeds in van regoor die land om te help met kospakkies en vervoer vir die soekgeselskap.

Boodskappe van bemoediging en gebede word ook telkens op die Facebook-groep, Bid vir Annatjie Myburgh, geplaas.

Haar man, Wendell Myburgh, het almal bedank vir hulle gebede en ondersteuning.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.