Thys Human: Soweto-jeugdag – die ware oorsprong

Op hierdie 40ste herdenking van die Soweto-opstand, is dit gepas en nodig dat die werklike oorsaak van daardie opstande weer eens duidelik gestel word: Dit was nie die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal soos vandag steeds valslik beweer word nie. Dit was ‘n regstreekse gevolg van PW Botha se onwettige en uiteindelik mislukte aanval in Angola wat tot gevolg gehad het dat die wêreld vertel is dat die Suid-Afrikaanse soldate uit Angola verslaan en weggejaag is en die indruk wêreldwyd, maar veral in Afrika en hier in Suid-Afrika geskep is dat die Afrikaner kwesbaar is.

In vandag (16 Junie) se Naspers-blaaie is daar weer ‘n artikel onder die opskrif “Bloed vloei oor Afrikaans”. Dit is ‘n liegstorie wat nou al 40 jaar lank verkondig word en wyd geglo word – veral danksy die soort berigte in Afrikaanse media. Maar dit bly ‘n liegstorie en ‘n verdoeseling van die ware feite.

Die liegstorie probeer veral oor die jare steeds vir dr. Andries Treurnicht, latere leier van die KP, die skuld gee vir die opstand van Soweto se jeug. Feit is dat Treurnicht slegs die adjunk-minister van Bantoe-onderwys op daardie tydstip was en dat die besluit dat Afrikaans saam met Engels en waar moontlik die swart kind se moedertaal, as onderrigtaal gebruik moet word vir sekere vakke, reeds aan die begin van 1975 – LW ‘n goeie 18 maande voor Junie 76 – geneem is en geleidelik geïmplementeer is. Treurnicht was bloot die adjunk aan wie die taak toegeken is.

Die vraag kan met reg gestel word hoekom daar nie dadelik na die Kabinetsbesluit oor Afrikaans opstande begin het nie? Die antwoord moet egter teruggevoer word na die einde van 1975 toe Angolese troepe op SA wagtroepe by die Calueque-dam net noord van die Suidwes-Angola-grens geskiet het.

Met totale minagting van ‘n kabinetsbesluit vroeër in 1975 dat slegs wapenhulp aan Jonas Zavimbi en Holden Roberto gegee mag word en geen, herhaal geen, SA troepe in Angola ingespan mag word nie, het PW en sy tog so gretige weermaghoof Magnus Malan, ‘n mengelmoes van taamlike flentergat swart Portugese soldate en ‘n klompie Boesmans in Angola ingestuur om die Angolese te verjaag.

Hulle het dit ook goed gedoen, maar hulle toe in die Kubaanse soldate vasgeloop. Net daar is PW en sy generaals gedwing om SA troepe met pantserkarre en selfs Mirage-vliegtuie in te span. Angola is behoorlik binnegeval – maar sonder die medewete laat staan nog goedkeuring van John Vorster en die kabinet. (Sien nota onderaan)

Ondanks uiters moeilike omstandighede met vol riviere en ook sterk weerstand deur die Kubane, het die Suid-Afrikaanse gevegsgroep tot op die drumpel van Luanda beweeg. PW het aan Vorster en kie vertel dat dit net ‘n verkenningsgroep, ‘n “recce group” is totdat Lang Hendrik met een sy besoeke aan die CIA se man in Zaïre hoor wat aangaan en toe na Vorster is met die inligting dat dit ‘n hele brigade is wat PW daar ingestuur het en dat dit Suid-Afrikaanse troepe is wat Angola feitlik beset.

Vir iets soos drie weke of langer kamp die SA soldate uit net buite Luanda voordat die Amerikaners by monde van die State Department amptelik aankondig dat hulle die Suid-Afrikaanse optrede afkeur. Vorster en kie besluit om hul troepe terug te trek en dit word ook gedoen. Daar is ordelik teruggetrek met enkele agterhoede-gevegte wat deeglik gevoer is – en daarvoor moet Magnus en sy topbevelvoerders erkenning kry. Van vlug en uit Angola gejaag was daar hoegenaamd geen sprake nie – maar dit sou SA se vyande, buite én binne die land – nie afsit nie.

Benewens die feit dat die MPLA en die Kubane toe tot teenaan die Kunene trek en Swapo se terroriste kort op hulle hakke kampe in die suide van Angola en net noord van die Suidwesgrens kan inrig, gaan daar dwarsdeur die wêreld en ook in SA ‘n koor van stemme op wat jubelend juig: Die Boer is kwesbaar! Die Boere is deur Afrika in Angola verslaan en uit die land gejaag!

Daar moet ook onthou word dat die gewone man in Suid-Afrika nie van hierdie dinge geweet het nie totdat Vorster vroeg in 1976 ‘n openbare aankondiging daaroor gemaak het. PW het met sy wette wat enige berigte oor weermagaksies verbied het, gesorg dat die kiesers nie weet van sy oorlogeskapades nie. Om presies te wees, selfs die volle kabinet het nie geweet dat SA troepe in Angola geveg het nie.

Maar ek het daarvan geweet want ek het toe in Londen gesit as Perskor se Europese korrespondent. Ek het elke dag die vloedgolf berigte in die Britse pers gesien. Veral die Financial Times in Londen het besonder goeie kontakte in Zaïre en Zambië – en waarskynlik met die CIA in daardie lande – gehad en sy berigte was deurentyd in die kol. Ek het feitlik elke dag berigte na Suid-Afrika geteleks (geen e-pos, ens. in daardie dae nie!), maar dit is nie gebruik nie weens PW se sensuur. En ná die aankondiging dat die troepe teruggetrek word, het die berigte oor die “neerlaag” van die SA troepe en die “kwesbaarheid” van die Afrikaner in oorvloed in die buitelandse media verskyn.

Soweto ’76

Enkele weke na Vorster se aankondiging, het die onrus onder swart skoliere begin. Berigte oor wanneer die eerste skoolboikotte en opstande begin het, verskil, maar volgens Wikipedia was daar reeds in April 76 betogings, klasboikotte en selfs geweld, soos skole wat afgebrand is. Die storie is versprei dat die swart skoliere in opstand gekom het teen regeringsbesluite dat Afrikaans saam met Engels die onderrigtaal in sekere vakke moet wees. Daar was baie duidelike bepalings dat moedertaalonderrig eintlik die belangrikste was, maar die feite rondom die hele kwessie is so verdraai dat baie mense in Suid-Afrika en selfs ondersteuners van die NP geglo het dat die taalstorie waar was.

Maar ek dink nie daai taalstorie was ooit die ware of hoofrede nie. Ek dink dit was, tipies van swart Afrika, bloot ‘n handige verskoning om hul werklike oogmerke te verdoesel, nl. om die Boer, die Afrikaner-regering wat na hulle mening kwesbaar was, te vernietig. Dit is tog so tipies van swart Afrika om hul eintlike oogmerke so te verdoesel. Dit word vandag nog gedoen met liedjies soos “Kill the boer” wat eintlik teen wittes en in besonder Afrikaners gemik is.

Die onrus en geweld het veral in Junie 1976 opgevlam en daar is ‘n hele aantal mense gedood – sommige van hulle wittes en selfs ‘n paar wit polisiemanne wat glo met assegaaie doodgesteek is, maar ook ‘n hele aantal swartes wat doodgeskiet is in reaksie deur die polisie. Vreemd dat die dood van wittes en polisiemanne vandag totaal verswyg word!

Die onrus en geweld is egter betreklik gou deur die veiligheidsmagte vasgevat, maar wat gebeur het, het Suid-Afrika dwarsdeur die wêreld oneindig groot skade aangedoen. Die wêreld is vertel dat die wit regering sonder meer swart skoliere doodskiet en doodmartel – soos in Steve Biko se geval.

Soweto ’76 het ook groot skade aan John Vorster se premierskap aangerig. Daar was baie duidelik bitter min vertoue in sy oordeelsvermoë en in sy durf om sterk op te tree. Dat hy versuim het om sterk teen PW Botha op te tree oor sy totaal onwettige en onnosele misbruik van SA troepe, het sterk teen Vorster getel in die binnekringe. En Vorster se swakheid het PW en sy trawante se hand versterk om met hulle finale uitklophou te kom om Vorster en sy kroonprins Connie Mulder uit die kussings te lig en beheer oor die NP-regering te verkry.

Slotsom

Dit was dus nie Afrikaans as onderrigtaal wat tot Soweto 76 aanleiding gegee het nie. Dit was PW en sy gereelde pogings om die bynaam Piet Wapen “waardig” te wees, wat regstreeks en onregstreeks daartoe aanleiding gegee het. En dit was helaas die begin van die einde van Afrikanerbeheer oor die land. Van daar af was dit net een steil afdraande na 1994.

Nota oor inval in Angola

Daar is verskeie bewyse dat Vorster en die Kabinet nie van die inval geweet het nie.

My goeie vriend en kollega van destyds, At de Beer, wat Perskor se man in Washington was, het blykbaar by Pik (wat toe ambassadeur in die VSA was) gehoor dat die ding selfs vir die kabinet stilgehou was.

Eschel Rhoodie vertel in sy boeke, “Die Ware Inligtingskandaal” en “PW Botha, The Last Betrayal” dat sy minister, Connie Mulder, en van sy kabinetskollegas nie amptelik daarvan geweet het tot kort voor Vorster se aankondiging nie.

Met my terugkeer na SA einde 1979, het ek as redakteur van Oggendblad direksievergaderings van Perskor bygewoon. Op een daarvan het ek kans gekry om met MC Botha, destydse minister van swart sake, hieroor te gesels. Hy het bevestig dat die kabinet nie ten volle ingelig was nie. Hy self het eers van die SA troepe in Angola gehoor toe hy ‘n vergadering van die SA Veiligheidsraad moes bywoon en iemand dit toe daar ophaal. “Ek was diep geskok dat PW en sy generaals sulke dinge kon doen en toegelaat was om dit te doen,” het hy toentertyd aan my gesê. Ek wou baie graag oor hierdie dinge skryf toe PW en sy handlangers met hulle “nuwe bedeling” idees begin het, maar ek is afgeraai om dit te doen want PW en sy manne was in totale beheer en hulle sou my op een of ander manier die stilswye opgelê het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.