Die polisie in die Vrystaat het nog niemand in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n haarkapper van Riebeeckstad in Welkom nie.
Die liggaam van die 53-jarige André Gebhardt is ontdek op die vloer in sy huis.
Hy het sy eie haarsalon vanuit sy woning bedryf. ‘n Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê alle leidrade word opgevolg nadat Gebhardt se pa sy liggaam Maandagoggend ontdek het teen omstreeks 07:30.
Gebhardt se pa het hom na die huis van sy seun gehaas nadat hy hom nie kon bereik via selfoon nie.
Thakeng sê die ouer moes ‘n leer van ‘n buurman leen om oor te klim oor die geslote hek na sy eiendom. Volgens Thakeng was die voordeur en veiligheidshek oop.
Daar was ‘n tou om sy nek en sy hande was vasgebind met skoenveters aan die voorkant van sy liggaam.
Die huisraad was omgekeer. Thakeng sê die kluis is oopgebreek en ‘n onbekende bedrag geld en die oorledene se selfoon word vermis.