‘n Bekende en geliefde inwoner van Karasburg, in die suide van Namibië, is in hospitaal in Suid-Afrika oorlede aan beserings wat hy gedurende ‘n gewapende roof opgedoen het.
Die 63-jarige mnr. Tillian Walters is op Afrikadag, 25 Mei deser, deur sy broer in sy huis gevind waar hy vasgebind in sy kamer gelê het. Walters was ten tyde van die voorval alleen by die huis.
Hy is per ambulans en vliegtuig na ‘n hospitaal in Kimberley vervoer waar hy tot en met sy dood in ‘n koma was, het die Republikein berig.
Walters word op Saterdag 25 Junie op Karasburg begrawe.
Walters word oorleef deur sy vrou, twee seuns, ‘n dogter, vier broers en ‘n suster.
Desmond Vries en Daniel Nuyoma is in verband met die aanval op Walters in hegtenis geneem. Hul borgtogaansoek is tot 21 Junie uitgestel en hulle bly in aanhouding.