Sewe swartes, wat van veediefstal verdink word, sal na verwagting aansoek doen om borgtog in die landdroshof op Ventersburg in die Vrystaat nadat hulle verlede maand in hegtenis geneem is toe hulle beweerde gesteelde beeste probeer verkwansel het.
Die verdagtes is Mc Donald Tladi (42), Samuel Ralenki (35), Innocent Thabethe (21), Hendrik Thekiso (29), Mohaeka Kamohelo (26), Ntsokoane Motsoloane (23) en Motiki Tseisi (23).
‘n Veespekulant het onraad vermoed toe hy telefonies deur ‘n man genader is wat beeste ter waarde van sowat R400 000 aan hom te koop aangebied het.
Die veespekulant is toe deur ‘n onbekende man na die plaas buite Winburg vergesel, waar die beeste in ‘n weikamp aangehou is.
Hy het egter snuf in die neus gekry toe hulle ‘n alternatiewe hek na die plaas gebruik het, omdat die hek by die hoofingang gesluit was.
‘n Lid van die polisie se veediefstaleenheid sê die veespekulant het daarna die polisie genader.
Ná ‘n polisieondersoek het dit aan die lig gekom dat die beeste nie aan die mans behoort nie. Dit is ook nie die swartes se plaas nie.
Al die verdagtes, waaronder drie Lesotho-burgers, is op die plaas in hegtenis geneem toe hulle die diere aan die veespekulant en ‘n polisiebeampte, wat hom voorgedoen het as ‘n vennoot van die veespekulant, wou verkoop.
Die polisie het ‘n beroep op boere en vee-eienaars gedoen om op hul hoede te wees vir booswigte wat onwettige veetransaksies wil aangaan.
Mense moet bedag daarop wees wanneer hulle telefonies genader word om vee te koop. Sodra voornemende kopers by die transaksies betrokke raak, moet hulle versigtig wees en seker maak dit is nie gesteelde diere wat aan hulle verkoop word nie.
Diere moet gebrandmerk word kragtens die wet op diere-identifikasie.