Karel Combrinck: Sterk koffie nodig vir Max

Dit is so dat die meeste mense vir Max Du Preez nie op ‘n nugter maag kan hanteer nie. Tog kan ‘n mens die ding ook nie heeltemal ignoreer nie want, danksy die Naspers kry hy weekliks die geleentheid om die gedagtes van duisende goedgelowiges met sy toksiese skryfsels te besoedel. Drink dus maar ‘n lekker koppie sterk koffie voordat u verder lees.

Iemand wat  meer wil weet oor Max Du Preez se «vormingsjare» moet  gerus die jongste stuk van Du Preez self op die Naspers se Netwerk24 lees. Dié stuk wat oënskynlik oor die Soweto-onluste van 1976 gaan, handel eintlik net oor M du P self. «As niemand anders dan my biografie wil skryf nie, dan doen ek dit maar self».

Die artikel is ryklik versier met foto’s uit die Soweto-jare – foto’s wat vir twintig jaar nie meer deur selfs die linksste publikasies in Europa en Amerika gepubliseer word nie. Hulle word wel nog iewers geplaas – in die Naspers natuurlik.

En les bes verskyn ‘n foto, die pronkstuk as’t ware in die Soweto-bloemlesing, van die hoë priester van linksheid self en nogal toe hy jonk was, ingeval iemand dalk vergeet dat M du P ook êrens in die gryse verlede jonk was. Dit bly egter maar, oud of jonk, ‘n kom-foeter-my gesig.

Maar kom ons kyk liewer na een of twee van die ander foto’s:

Een foto beeld ‘n wit soldaat uit met ‘n traanrookgeweer teen die agtergrond van brandende bande. Die byskrif sê : «In rook en vlamme». Tog weet ons mos almal die brandende bande was juis die handelsmerk van Soweto-jeugdiges en wat betref die traanrookgeweer: As die Soweto-gebeure nou so’n bloedbad was waar die wit polisiemanne ten alle koste onskuldige Soweto jeugdiges om die lewe wou bring, waarom dan traanrook gebruik?

Hierdie vreemde foto toon hoe 'n oproerige swarte deur 'n blanke polisieman agtervolg word terwyl die netjies geklede swart man ongestoor verbystap. Foto: Netwerk24
Hierdie vreemde foto toon hoe ‘n oproerige swarte deur ‘n blanke polisieman agtervolg word terwyl die netjies geklede swart man ongestoor verbystap. Foto: Netwerk24

Nog ‘n foto toon ‘n soldaat wat ‘n oproerige swart Soweto-jeugdige agternasit terwyl ‘n netjies geklede swart man ongestoord verbyloop (foto regs). Dit wys tog dat die polisie-optrede nie gerig was teen swartes as sodanig nie, maar teen swartes wat oproerig, gewelddadig en vandalisties was. Met die ordentlike swart man wat op ‘n wetsgehoorsame manier sy gang gaan, het die polisie vrede.

Interessant genoeg, maak Du Preez se artikel geen melding van mense wat deur die afgryslike halssnoermetode doodgebrand is en van ander wat met klippe doodgegooi is nie. Van hierdie gebeure is daar immers ook honderde foto’s beskikbaar. Maar, soos die ou gesegde lui, ‘n mens wil tog nie ‘n goeie storie bederf met die waarheid nie.

En dan die teks: In hoofsaak is die teks ‘n eensydige betoog dat alles wat in Soweto gebeur het die skuld van Afrikaners was. As sodanig is dit ‘n klakkelose herhaling van breinspoeling oor baie jare in linkse propagandamedia in Europa en Amerika, al is die Naspers nou die enigste media-instansie wat nog daarmee volhard. Op ‘n bepaalde oomblik sê Du Preez dat «Afrikaans as verpligte onderrigtaal die sneller was vir die opstande van Junie 1976». Sover my kennis strek, het dit nie gegaan om Afrikaans as verpligte onderrigtaal nie, ‘n blote voorstel om Afrikaans as bykomende taal by sekere vakke te gebruik – ‘n reuse-onderskeid. Max du Preez is op die oog af hier besig om vir die bruikbare idiote te lieg.

As Max du Preez dan werklik glo dat Afrikaans as verpligte onderrigtaal die vonk in die kruitvat was, wat sal hy dan nou daarvan sê dat die regime Engels as verpligte onderrigtaal in ons kele wil afdruk? Dink hy nie dit kan dalk ook ‘n vonk in ‘n kruitvat word nie? Of sien hy die saak nie van daardie kant af nie?

Max du Preez propagandeer voorts soos volg: Op ‘n stadium gedurende die Soweto-onluste val die skille van sy oë af en vra hy homself af: «Watter stelsel het tot gevolg gehad dat my ganse ervaringswêreld soveel ligjare van die jongmense (van Soweto) s’n is, terwyl ons maar ‘n paar kilometer van mekaar woon». Wat Max du Preez se gekondisioneerde verstand nie kan, of wil begryp nie, is dat ons ervaringswêrelde wat so verskil, niks met «’n stelsel» te make het nie. Ons ervaringswêrelde verskil omdat ons verskillend ís. Ons verskil omdat ons kulturele en geskiedkundige ervaringswêrelde en ons sielkundige samestelling nie dieselfde is nie. Dis net M du P wat hierdie elementêre waarheid nie kan snap nie.

Vandag leef ons twintig jaar nadat die «stelsel» verkrummel het. Beteken dit ons ervaringswêrelde het nou nader aanmekaar beweeg? Het ons vandag veel meer in gemeen met die jeug van Soweto as twintig jaar gelede? Die antwoord is klaarblyklik nee. Die «stelsel» het verdwyn, maar nog steeds brand en vernietig en plunder dit. Wat het dus eintlik verander? Of gaan hulle nog steeds hulle barbaarse reaksies regverdig aan die hand van ‘n «stelsel»?

Hierdie artikel van Max du Preez wys maar net weer, indien enige verdere bewys nodig is, dat wanneer die anti-Afrikanervlammetjie ‘n bietjie laer begin brand, dan sal die Naspers telkens daarvoor sorg dat dit weer van voor af aangeblaas word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.