Leon Lemmer: Koos Stadler, die oud-verkenningsoldaat, ‘n Recce

Deel op

Toe Koos Stadler se boek, Recce: Kleinspan-operasies agter vyandelike linies (Kaapstad: Tafelberg*, 2015, 332p, R225; Amazon Kindle $15,93 – ook in Engels verkrygbaar), gepubliseer is, het hy in ‘n onderhoud oor ‘n verkenningsoldaat gesê: “‘n Mens moet heeltemal wees waar jy is” (Kindle 2084). Dit is so ‘n treffende waarheid dat ek besluit het om sy boek te lees. Dit blyk toe dat dit nie sy eie raak sêding is nie, maar die van ‘n karakter, Oom Albertus, in Dana Snyman se boek, Op die agterpaaie (2008). Oor sy recceskap skryf Stadler: “Ek het die keuse uitgeoefen om daar te wees – en sou volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar” (1252). “Recce” is nie ‘n sinspeling op “reckless” nie, maar ‘n variasie van “reconnaissance”, dus verkenning. [* Tafelberg is ‘n Naspers-uitgewery. Hier onder word verduidelik waarom Tafelberg ‘n boek gepubliseer het wat oor die lofwaardige uitroeiing van terroriste handel.]

stadler_recceStadler is in 1960 in Upington gebore, waar sy pa ‘n onderwyser was. Later het sy pa sewe jaar lank teologie aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy was daarna ‘n predikant van die NG Kerk op Ariamsvlei in Suidwes-Afrika (nou Namibië) en van die NG Kerk in Afrika vir die swart en bruin Paballelo-gemeente by Upington. Stadler se pa was lief vir jag en Koos het gevolglik ‘n liefde vir die veld ontwikkel. Hy dink ook dat hy swartes toe beter as die meeste blankes leer ken het. Op skool het hy as ‘n “kafferboetie” bekend gestaan (245). Na skool het hy van 1978 af twee jaar lank militêre diensplig gedoen en daarna net langer as ‘n jaar op Stellenbosch as teologiestudent deurgebring; as’t ware as bevestiging van sy onderwysers se mening dat hy “nie in ‘n akademiese reus sou ontwikkel nie” (268).

Stadler was 26 jare lank in die Suid-Afrikaanse Weermag en meer as ‘n dekade hiervan in die afdeling Spesiale Magte as veral ‘n Kleinspan-operateur. Laasgenoemde 10 jare is die onderwerp van sy boek. Meer as 3 jare hiervan (November 1978 tot Desember 1981) was hy in die verkenningsvleuel van 31 Bataljon in die Caprivi en van Mei 1983 tot 1989 as Kleinspan-operateur in die 5 Verkenningsregiment, by bv 53 en 54 Kommando as offensiewe subeenhede. Hierdie verkenningsregimente is alom as die Recces bekend. Aanvanklik het verkenningspatrolies uit vier tot ses mans bestaan, maar dit is later dikwels tot twee mans verklein. Van die begin af was Stadler se voordeel dat hy die veldlewe geken en daarvan gehou het, hy goed kon skiet en baie fiks was. Hoewel hy nie in die gewone skoolsportsoorte uitgeblink het nie, het langafstandsport soos die maraton in sy kraam gepas, wat op deursettingsvermoë dui.

In die Caprivi was hy op Omega gestasioneer, met die verkenningsvleuel se opleidingsbasis by Fort Vreeslik, 14 km suid van Omega. Boesmans het die Suid-Afrikaanse troepe met bv spoorsny ondersteun, maar Boesmans is nie goeie valskermspringers of swemmers nie. “Meer as 4 000 Boesmans het op Omega gewoon. Hiervan was 800 soldate en die res van hulle familielede” (691). “Daar was sowat 250 wit mense op Omega, van wie die meeste enkellopende mans was” (697). Oor ‘n spesifieke Boesman skryf hy: “Hy kon ‘n spoor soos ‘n storieboek lees” (577). Makkerspare het dikwels uit ‘n Boesman en ‘n wit spanlid bestaan. Patrollies is in Zambië en Angola onderneem om Swapo se Plan-magte en die Angolese MPLA-regering se Fapla-magte op te spoor en Jonas Savimbi se Unita-magte te ondersteun.

Toe Stadler se boek vrygestel is, was die resensies baie gunstig. Dit kan onder meer toegeskryf word aan die vloeiende skryfstyl en die interessante verteltrant. Daar is nie ‘n enkele sin wat twee keer gelees moet word om die betekenis te snap nie. Die eerste hoofstuk handel oor ‘n spannende insident waarvan die uitkoms eers in die laaste hoofstuk aangebied word; ‘n bekende maar nogtans slim truuk. Daar is ook heelwat eerlikheid in die boek. Stadler vertel van die foute wat hy gemaak het en van die Mao Zedong-taktiek: “vlug eerder vandag en oorleef om later weer te veg” (562). Hy het geleer “dat weghardloop eenvoudig ‘n deel van jou mondering móét wees” (567). Ook dat vrees ‘n natuurlike verskynsel is wat eerder beheer as afgeskud kan word. Hy was blykbaar ietwat van ‘n ongeluksvoël, wat soms ‘n verandering in die planne van militêre operasies genoodsaak het, deur bv malaria (1286) en later diarree op te doen (1882) of twee keer sy enkel te verstuit (2071, 2924) of deur ‘n doringdraadheining gewond te word (2767) of deurdat die raam van sy rugsak gebreek het (3986). Later het hy 10 meters van ‘n krans geval, wat hom maande lank buite aksie gehou het (4243).

Maar as ‘n mens die teks krities lees, is daar hinderlike teenstrydighede. Hy noem dat ‘n spesifieke operasie “myns insiens heel uitvoerbaar” was (3687) net om kort daarna op te merk “dat die taak byna onmoontlik was weens die uiters lang afstande” (3700). Hy skryf dat die Recces weens hulle toerusting tussen ander soldate “soos ‘n seer duim uitgestaan” het net om in dieselfde paragraaf te skryf: “Ons het dus nie buitengewone aandag getrek nie” (3914). Voor ‘n operasie: “Ek het probeer slaap, maar was heeltemal te opgewonde”, maar in die volgende paragraaf staan: “‘n Ongekende kalmte het, vreemd genoeg, van my besit geneem” (3950). Van ‘n ander ontplooiing vertel hy: Ek was “besonder blootgestel op die oop teerblad, sigbaar teen die sterrehemel agter my” (4136) maar daarna skryf hy van homself in dieselfde posisie: Die vyand “kon my nie duidelik sien nie” (4140).

Oor Stadler se ideologiese ingesteldheid is daar sover ek weet nog nie geskryf nie. Juis hiermee het ek probleme. Stadler skryf hy het “daar in die hartjie van 5 Recce … begin verstaan dat die meeste bevrydingsbewegings – minstens vanuit hul perspektief en ook in die oë van die wêreld – vir ‘n edel saak geveg het” (1780). Hy noem hulle nie terroriste nie; eerder guerrillas, bevryders of vryheidsvegters, met “vry” en “vryheid” wat positiewe assosiasies het. Dat hierdie elemente daarop uit was om politieke mag te bekom, dus magsbehep was, word nie genoem nie. Ook nie dat wanneer hulle in hulle doel geslaag het en in beheer van ‘n land kom, hulle dit nie doeltreffend kan bestuur en administreer nie; des te meer omdat die terroriste dermate dislojaal en vandalisties was dat hulle bereid was om ‘n land tot in die grond af te breek ten einde hulle doel te bereik. Die onberekenbare skade wat Westerse/Europese beskawing en blanke kultuur, by name die van die Afrikaner en Afrikaans, in so ‘n “bevrydingsproses” ly, word glad nie verreken nie.

Let op hierdie eienaardige rede om van iets te hou: “Ek het ook dadelik van 5 Recce gehou. Dit was ‘n eenheid wat hoofsaaklik bestaan het uit swart soldate van oor die hele Suider-Afrika, insluitende Rhodesië, Angola en Mosambiek” (1795). Daar was ook swart Swapo-soldate wat “gedraai” het en saam met die Suid-Afrikaanse oorwegend blanke weermag geveg het, hoewel Stadler maar ongemaklik en onoortuig oor sommige van hulle se werklike lojaliteit was. Blanke lede van bv die eertydse Rhodesiese Selous Scouts en Special Air Service (SAS) het ook ‘n belangrike rol as operateurs en ook in bv opleiding gespeel. Maar hierdie (oorspronklik) nie-Suid-Afrikaners wat hulle by die SA Weermag geskaar het ten einde terroriste uit te roei, asook die Boesmans wat ‘n substansiële bydrae in hierdie stryd gelewer het, word sedert 1994 uiters stief deur die ANC-regering behandel. Dit kontrasteer skerp met die oud-MK-terroriste wat talle voordele (bv pensioen) ten koste van die belastingbetalers geniet. Hieroor skryf Stadler (doelbewus) nie.

Let op hierdie gelaaide bewoording: “In 1984 het PW Botha Suid-Afrika se staatspresident geword. Die poging om die land te verenig teen die sogenaamde [!] Totale Aanslag teen Suid-Afrika – ‘n vermeende [!] allesomvattende bedreiging deur kommunistiese magte binne en buite die landsgrense – het stelselmatig veld gewen. Botha was natuurlik ‘n groot voorstander van dié teorie” (2095). Hoewel propaganda sekerlik deel hiervan was, was dit myns insiens funksioneel regverdigbaar omdat daar werklik ‘n kommunistiese bedreiging was. Dit was nie ‘n verbeeldingsvlug nie, soos deesdae feitlik daagliks duidelik blyk uit die ANC se talle kommunistiese wesenskenmerke. Stadler erken self dat baie van Suid-Afrika se “buurlande ná hul onafhanklikwording ‘n kommunistiese bewind gekry het. Die Sowjetunie, Kuba en Oos-Duitsland het hierdie regerings ondersteun en guerrilla-magte opgelei wat Suidwes en Suid-Afrika sou infiltreer. Teen 1984 is minstens 6 000 guerrillas deur die Sowjetunie en lidlande van die Warskou-verdrag, soos Tanzanië en Ethiopië, opgelei en bewapen. Sowat 30 000 Kubaanse troepe is in Angola ontplooi” (2100). Dit wás ongetwyfeld ‘n allesomvattende bedreiging. Die ANC was en is ‘n euwel.

Koevoet word “die polisie se kontroversiële taakspan” genoem (2226). Hierdie gevegseenheid het uit 300 wit offisiere en 900 Ovambo operateurs bestaan (volgens die Wikipedia) en het uitstekende resultate teen Swapo behaal. EMLC, elektriese, meganiese, landboukundige en chemiese ingenieurskonsultate, word deur Stadler ‘n “later omstrede” maatskappy genoem (51, 4501). In werklikheid het EMLC uitsonderlik vindingryke werk vir die destydse SA Weermag gedoen. Dit is in ANC-geledere dat daar oor Koevoet en EMLC bedenkinge is omdat hulle so suksesvol teen terroriste was. Daar is myns insiens geen beduidende weersin in hierdie twee instansies in behoudende blanke geledere nie.

Daar word na die “professionaliteit” van die SA Weermag verwys (37), wat blykbaar ook op die toestand van die weermag in die nuwe Suid-Afrika toepaslik gemaak word. Maar Stadler het as instrukteur sekerlik eerstehands kennis gemaak met die groot verskil in die (akademiese) gehalte van die rekrute wat die Militêre Akademie op Saldanha deesdae lewer in vergelyking met wat in die vorige eeu uit hierdie oord gekom het. Stadler het die gebrek aan dissipline by Swapo-terroriste verpes (2230), maar dit is ook een van die opvallendste kenmerke van die nuwe SA Weermag.

Die weermag is veronderstel om polities neutraal te wees en bloot die opdragte van die regering van die dag uit te voer. Maar die beheer van die SA Weermag is in 1994 heeltemal deur MK-terroriste oorgeneem en daardie houvas is sedertdien verstewig deurdat ‘n stortvloed uiters bekwame blanke lede die Weermag verlaat het. Hierdie blankes het ten minste ideologies die regte ding gedoen. Een en dieselfde mens kan nie met opregtheid twee sulke radikaal verskillende here (enersyds die NP van weleer met sy beleid van afsonderlike ontwikkeling en andersyds die terroristies-kommunistiese ANC) dien nie.

Wat die naïewe FW de Klerk tydens die politieke oor- of ondergang in Suid-Afrika gedoen het, is om te aanvaar dat die ANC sy woord gestand sou doen. Dit is nie iets wat met reg van ‘n terreurbeweging verwag kan word nie. In die konflik met Swapo was daar die plegtige internasionale ooreenkoms dat nadat die SA Weermag uit Angola onttrek het, dit nie toegelaat sou word dat Swapo-terroriste die vakuum vul nie. In werklikheid het Swapo dadelik in Suid-Angola inbeweeg (2457). Later was die ooreenkoms dat Swapo-magte nie oor die grens uit Angola sou kom nadat die SA veiligheidsmagte met die oog op die verkiesing uit Suidwes-Afrika onttrek het nie. Weer is die ooreenkoms blatant deur Swapo verbreek. ‘n Mens sou dink De Klerk sou hieruit leer. Nadat hy alle goeie raad in die wind geslaan het, het De Klerk samesprekings met die ANC gevoer sonder dat hierdie instansie terreur afgesweer het. Die ANC het gesprekvoering en geweld eenvoudig gelyktydig bedryf. In 1990/1994 is in Suid-Afrika heel moontlik meer terroriste opgelei as in al die voorafgaande jare in die buiteland. Terselfdertyd het De Klerk ingestem om die veiligheidsmagte (polisie en weermag) in ‘n groot mate te neutraliseer. Is groter dwaasheid denkbaar? Stadler noem dat die SA Weermag nie openlik sabotasie in buurlande kon pleeg nie omdat dit “‘n verbreking van internasionale konvensie” sou wees (3452). Die ANC en ander terreurbewegings het egter in sabotasie uitgemunt en skotvry daarvan afgekom.

Stadler erken nêrens dat hy ‘n terroris gedood het nie. Wanneer ‘n militêre groep waarvan hy deel was sukses behaal het, is sy kommentaar: “Op ‘n manier het ek jammer gevoel vir wie ook al omgekom het” (2638). Hoe motiveer so ‘n soldaat hom om die vyand uit te roei? Blykbaar was Stadler se Recce-loopbaan bloot ‘n spel wat hy graag in die bos/natuur gespeel het. Een van sy kollegas het inderdaad die goeie raad gehad dat hy “na die groter prentjie” moet kyk, maar Stadler reken hierdie man het “dieselfde mate van skuldgevoelens rondgedra” (2644).

Ek kom nou by die kersie op Stadler se koek van politieke korrektheid. In Augustus 1987 sou die ANC-hoofbestuur in Mazimbu naby Morogoro in Tanzanië byeenkom; ‘n plek waar terroriste opgelei is. Top ANC-snare soos Oliver Tambo, Thabo Mbeki, Jacob Zuma en Chris Hani sou daar wees. Die Recces moes “op die ANC toeslaan en hul hele topstruktuur uitwis” (3682). Hierdie militêre operasie is sorgvuldig beplan en suksesvol tot baie naby die terroristenes in Tanzanië uitgevoer. Op die laaste nippertjie het sake weens ‘n kommunikasieprobleem skeefgeloop en kon hierdie taak nie voltooi word nie. Wat is Stadler se reaksie? “As ek vandag aan die operasie dink, is ek verlig dat dit afgestel is. Ek kan my nie eens indink watter gevolge dit vir Suid-Afrika sou inhou as die ANC-leierskorps daardie dag uitgewis is nie. Dit sou waarskynlik die vredesinisiatief laat ontspoor en onderhandelinge vir ‘n vreedsame [!] oorgang in die wiele gery het” (3771). Met ander woorde, ons moet dankbaar wees vir die nuwe Suid-Afrika, die ANC-regering en die Grondwet waarmee ons opgesaal sit.

Kortom, Stadler en sy boek is deurtrek van politieke korrektheid. Soos hy tereg by geleentheid skryf: “Al wat ek kon doen, was om maar net aan te hou kruip” (3791). “Ek het besef dat tye verander het en dat ons moes aanpas” (4264). Daarom het hy in die nuwe Suid-Afrika sy loopbaan in die SA Weermag voortgesit. Maar baie lede van die destydse SA Weermag het eerder elders gaan werk as om onder die ANC-regering te dien. Byvoorbeeld, Stadler se beste Recce-makker het hom eerder in die private sekuriteitsbedryf gevestig (4264). Ek weet van talle ander wat dieselfde gedoen het. Stadler het verkies om ‘n ander en myns insiens minder eerbare pad te loop.

“Aan die einde van 1989 is ek ook na 1 Recce in Durban verplaas, en het bevel van die Spesiale Tegnieke-tak oorgeneem” (4275). In 1991 het Stadler bevelvoerder van die opleidingskommando in Durban geword (4280). Toe was die roemlose politieke magsoorgawe reeds in aantog. “In 1994 is ek na die HK [Weermaghoofkantoor] in Pretoria verplaas om alle opleiding in Spesmagte te koördineer. Daarna, in 1999 en 2000, het ek ‘n kort maar interessante tyd as 2IB [tweede in bevel] by 4 Recce op Langebaan beleef, maar moes toe weer oppak en terug noorde toe trek omdat ek as Senior Stafoffisier Operasies (SSO Ops) by Spesmagte-HK aangestel is” (4295). “In 2003 … is besluit om ‘n Spesiale Magte-skool … by Murrayhill noord van Pretoria te begin. Ek het bevel van die nuutgestigte eenheid aanvaar … In 2007 is ek vir vier jaar as militêre attaché na die Suid-Afrikaanse ambassade in Saoedi-Arabië gestuur … die hoogtepunt van ‘n baie bevredigende loopbaan van 26 jaar in die weermag” (4300).

Dit behoort duidelik te wees waarom ‘n Naspers-uitgewery hierdie boek gepubliseer het. Ten spyte van die onderwerp, te wete terrorisuitroeiing, het die onverdunde politieke korrektheid van die outeur, soms aanpasbaarheid genoem, myns insiens die deurslag gegee. Stadler het lewend uit uiters gevaarlike militêre operasies gekom net om weens politieke korrektheid later op te hou om as ‘n egte Afrikaner te oorleef.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.