Na Woensdagaand se dodelike aanval in Tel Aviv, het die Israeliese weermag Palestynse toegangspermitte na Israel opgeskort.
Die Israelse polisie het gesê twee gewapende mans was vir die klaarblyklike terreuraanval verantwoordelik.
Vier mense is Woensdagaand dood en talle gewond in ‘n skietvoorval naby Tel Aviv se gewilde Sarona-mark naby die Israeliese verdedigingshoofkwartier.
Behalwe die twee mans en twee vroue wat omgekom het, is minstens nege mense beseer.
Beide aanvallers is deur wetstoepassers geskiet en daarna ontwapen. Een van die aanvallers het glo van die toneel gevlug.
In reaksie op die aanval het die Israeliese weermag intussen permitte vir meer as 80 000 Palestyne opgeskort wat vir Ramadan sou deurrreis om die Al-Aksa-moskee te besoek.
Die Moskee is in die hart van die ou stad van Jerusalem en het in die verlede tot spanning tussen Israel en die Palestyne gelei.
Niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.
Die aanvallers was geklee in pakke met dasse en het hulle as kliënte van die restaurant voorgedoen voordat hulle met outomatiese aanvalswapens op die gaste losgebrand het.