Irakse magte dring Fallujah binne

Deel op

Irakse elite teenterreur-magte het Woensdag dieper in die stad Fallujah, wat onder beheer van die Islamitiese Staat (ISIS) is, inbeweeg, net meer as twee weke nadat die offensief begin het om die stad te herower.

Die stad het simboliese betekenis vir die militante groep en was vir ‘n geruime tyd ‘n vesting van militante wat, sedert die 2003 Amerikaans-geleide inval in Irak, teen die besetting gekant is.

Nadat hulle Sondag die suidelike rand van die stad binnegedring het, het Irakse magte Woensdagoggend die woonbuurt Shuhada binnegegaan, het AP berig.

Volgens genl.maj. Hadi Zayid Kassar, adjunkbevelvoerder van die teenterreur-magte in Fallujah, het artillerievuur en vuurpyl-aanvalle die weg gebaan sodat die eerste kolom swart Humvees in Shuhada, in die suide van Fallujah, kon inbeweeg.

Fallujah is een van die laaste ISIS-vestings in Irak. Die militante Soenni-groep beheer reeds die afgelope twee jaar die stad, wat 65 kilometer wes van Bagdad geleë is.

Irakse magte het reeds sterk teenstand in die stryd om Fallujah teëgekom. Uitgebreide tonnels, goed opgeleide sluipskutters en bomme langs die pad wat deur ISIS geplant is, het die aanvanklike aanslag op die stad belemmer.

Ná ‘n blitzkrieg regoor die land in die somer van 2014, word die gebied nou stadig van die ISIS-militante gesuiwer.

Die operasie om Fallujah te herwin, is glo een van die moeilikstes nog, maar ISIS is reeds op die agtervoet in Libië sowel as Sirië waar Koerdiese magte op die punt staan om Raqqa te herower.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.