SA kleremakers vrees ‘instroming’ van buitelandse tekstiel en ontwerp soos Zara en H & M

Die Suid-Afrikaanse klerebedryf vrees die “instroming van internasionale kleinhandelaars” soos Zara en H & M wat nie plaaslik aankoop nie, maar hul eie klere vervaardig. Dit het Dinsdag bekendgeraak by die jaarlikse bosberaad genaamd “Dra Suid-Afrikaans” vir die klere- tekstiel- en leerbedrywe. Die geleentheid is ook deur die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davies, bygewoon.

Die woordvoerder van TCI Apparel van Kaapstad, Herman Pillay, het gevra waarom daar nie ‘n “aankoopooreenkoms” met handelaars soos die Spaanse Zara en Sweedse Hennes en Maurits (H & M) gesluit kan word om ‘n bepaalde persentasie van hul voorraad plaaslik aan te koop nie, soortgelyk aan die ooreenkoms wat met WalMart aangegaan is toe dit MassMart gekoop het.

Nog ‘n teenwoordige by die konferensie, Anita Stanbury, wat aan die hoof staan van die Suid-Afrikaanse Modeontwerpersvereniging, het insgelyks haar kommer oor die buitelandse kleinhandelaars uitgespreek en watter gevolge dit vir die plaaslike bedryf sou hê.

Tans slaag die plaaslike bedryf nie eens daarin om plaaslike handelaars te oortuig om hul produkte aan te koop nie, want slegs 25 tot 40% van plaaslike kleinhandelaars koop hul voorraad hier aan.

Die minister het egter gewaarsku dat die regering se hande min of meer afgekap is om die proses te stuit en gesê: “Ons het nie ’n beleggingswet soos Australië waar hulle aan ’n maatskappy wat na die land kom, kan sê ons verwag dit en dat in ruil daarvoor nie. Ons het dit nie in dié stadium nie en ek verwag ’n bohaai as ons in dié rigting beweeg.”

Suid-Afrika gaan tydens die komende naweek ‘n nuwe Ekonomiese Vennootskap­ooreenkoms met die Europese Unie onderteken, wat wel toegang tot Europese maatskappye aan die plaaslike mark verleen, hoewel daar steeds invoertariewe van toepassing is. Die daling in die rand beteken egter dat sulke tariewe nou vir die Europese handelaars goedkoper geword het om te betaal, volgens ‘n berig in Business Day.

Die plaaslike klerevervaardigingsbedryf het Dinsdag baie vrae gehad aan dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, oor wat gedoen kan word dat groot internasionale kleinhandelaars wat in Suid-Afrika handel dryf, meer plaaslike klere aankoop.

Die jaarlikse Wear South African Imbizo vir die klere-, tekstiel- en leerbedryf is in Kaapstad gehou.

Herman Pillay, uitvoerende hoof van TCI Apparel van Kaapstad, wou weet hoekom ’n plaaslike aankoopooreenkoms nie met die internasionale kleinhandelaars Zara en H&M gesluit kan word soos met Walmart toe hy die Suid-Afrikaanse winkelgroep Massmart gekoop het nie.

Anita Stanbury, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Modeontwerpersvereniging, sê daar is kommer oor die reuse-instroming van internasionale kleinhandelaars na Suid-Afrika. Sy wou weet of die regering hulle nie kan aanmoedig om meer plaaslike klere aan te koop nie.

Suid-Afrikaanse kleinhandelaars koop tussen 25% en 40% van hul produkte plaaslik aan.

Volgens Patel sal die regering te vinde wees daarvoor om saam met die bedryf plaaslike aankope met internasionale kleregroepe te bespreek.

“Namate meer van die groot rolspelers hierheen kom, sal die vraag al hoe meer aan hulle gevra word hoeveel produkte van Suid-Afrika aangekoop word – nie net vir winkels in Suid-Afrika nie, maar ook vir hul internasionale verskaffingsketting.”

Davies sê daar is beperkte hefbome wat die regering kan gebruik om internasionale kleinhandelaars te oortuig om meer Suid-Afrikaanse produkte te koop.

Wat die VSA betref, bestaan daar die Agoa-handelsooreenkoms tussen Afrika en die VSA, wat geen tariewe hef op uitvoere vanaf Suid-Afrika na die VSA nie. Die probleem vir plaaslike uitvoerders is egter dat die VSA ook die materiaal wat in die vervaardiging gebruik word, reguleer. Sommige Afrika-lande mag van buitelandse materiaal gebruik maak, maar nie Suid-Afrika nie. Omdat daar plaaslik so min tekstielfabrieke oorbly, is die beskikbare materiaal uiters beperk en kan die land dus nie teen sy volle potensiaal na Amerika uitvoer nie.

Die modieuse winkelketting Zara wat vrees by Suid-Afrikaanse kleinhandelaars soos Edgars inboesem, behoort aan die Spaanse Inditex-groep wat oor 7 000 winkels in 88 lande beskik. Dit is in die vroeë sestigerjare deur Amancio Ortega en sy vrou in hul huis begin, waar hulle hemde begin maak het. Spanjaarde kon destyds nie die hoë pryse van ingevoerde Franse en Engelse klere bekostig nie, maar was wel modebewus en stylvol.

Ortega het dié gaping raakgesien en tot vandag toe plaas Zara ‘n hoë premie op skeppende ontwerp met ontwerpers wat neigings regoor die wêreld ontleed en dan in hul oorspronklike ontwerpe beliggaam. Sodoende het Zara eers vir Spanjaarde en toe vir die hele wêreld ontwerpersklere teen ‘n breukdeel van die prys van Franse of Italiaanse modename beskikbaar gestel en ‘n reuse-onderneming ontwikkel. Die wins na belasting van Inditex per jaar is €3 miljard (ongeveer R55 miljard).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Rifrug

    “Ons het nie ’n beleggingswet soos Australië waar hulle aan ’n
    maatskappy wat na die land kom, kan sê ons verwag dit en dat in ruil
    daarvoor nie. Ons het dit nie in dié stadium nie en ek verwag ’n bohaai
    as ons in dié rigting beweeg.”

    Dié aanhaling van mnr. Davies kom twee maal in die berig voor …

  • Bob

    Does the ANC still source their hundreds of thousands of yellow t- shirts from China? If so therein lies the hypocrisy and if we can’t produce simple T shirts then what should make the rest of local production attractive to local purchasers?

  • Riempies

    Net reg want almal is voos vir die luiddrugtige gillende
    kleure – my handoeke is 22 jaar oud want ek sal nie my standaarde laat val nie
    en my klere maak ekself – eers is n mens verpes met die swak smaaklose patrone
    en toe die Sjinese kort bolyfies en swak afwerking. Enige eerstewereld
    verandering kan tans net n verbetering wees op die agtergeblewe klere te koop in die
    NSA.