Brief: Transnet se hantering van pensioenfondse grens aan misdaad

Deel op

Om onlangse koerantberigte te lees dat die trustees van die twee Transnet-pensioenfondse winste van hierdie fondse tot die bedrag van R309 miljoen aan Transnet geskenk het, grens aan misdaad.

Hierdie is deel van ‘n totale eis wat tussen R60 miljard en R100 miljard beloop en is die resultaat van talle – en klaarblyklik bedrieglike transaksies waarvan die enigste doel blyk te wees om die maatskappy tot hulp te wees en die pensioenarisse te beroof.

Soos ek verstaan, is daar 5 trustees van hierdie twee fondse, waarvan almal vorige werknemers van die maatskappy was. Almal van hulle is onder verpligting om na die welsyn van die pensioenarisse (en hulleself) om te sien. Dit is gewetenloos om te dink dat hulle ten gunste van so ‘n mosie sal stem, tensy hulle betaalde speelpoppe van die maatskappy is.

Om dit anders te stel: ‘n Vriend gee vir jou geld om te belê en wanneer hy dit na ‘n paar jaar wil terughê, sê jy vir hom: “Jammer, my vriend, ek het dit aan ‘n maatskappy gegee wat vrygewig teenoor my was.”

Die pensioenarisse se eis – as ‘n geheel – oorskry Transnet se jaarlikse omset, en dit sal interesant wees om te weet hoe Transnet ‘n eis van hierdie grootte sal kan betaal, en wat Transnet in dieselfde kategorie as SAL, E-Toll, Eskom en meeste ander ondernemings wat deur hierdie regering wanbestuur word, sal plaas.

Dit is vertroostend vir die pensioenarisse dat hulle oor ‘n regspan van onbetwisbare reputasie en ondervinding beskik, wat daartoe gelei het dat die regter meeste van die verweerders se besware in hierdie groepsgeding verwerp het en die pensioenarisse se regspan twee weke gegee het om antwoorde oor ‘n paar kleiner besonderhede waaroor hy meer duidelikheid verlang, te verskaf.

Mens kan maar hoop dat wanneer dit gedoen is, sal die regter empatie met die pensioenarisse betoon deur te beveel dat hierdie saak met die dringendheid wat dit verdien, sal voortgaan.

Dit sal ‘n mate van hoop laat ontstaan dat die oorblywende ontvangers (meer as tien van hulle sterf elke dag af) van hierdie fonds – wat regmatig aan hulle behoort – eendag aan hulle gegee sal word.

– Carl Hammersen

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.