VN reël droogtekonferensie in Windhoek

Deel op

Meer as 600 deelnemers word by die eerste Afrika Droogtekonferensie verwag wat vanaf 15 tot 19 Augustus in Windhoek sal plaasvind.

Die konferensie sal ’n tegniese sessie insluit waaraan kenners sal deelneem, gevolg deur ’n hoëvlaksessie waartydens ministers in Afrika en verteenwoordigers van VN-agentskappe teenwoordig sal wees.

Die tema is “Die verbetering van veerkragtigheid teen droogte op die Afrika-vasteland”

Die kerndoelwitte van die konferensie is om ’n strategiese raamwerk vir droogtebestuur op te stel wat die veerkragtigheid teen droogtes vir die hele Afrika-vasteland sal verbeter; om streeks- en internasionale aandag op die kwessie te fokus om veerkragtigheid te kan verbeter; behoeftes en tekortkominge sowel as goeie praktyke te identifiseer en vennootskappe en samewerking tussen lande te versterk.

Die projekkoördineerder het tydens die bekendstelling gesê Afrika is kwesbaar vir die impak van droogtes, wat na verwagting as gevolg van klimaatveranderinge meer dikwels gaan voorkom.

Suider-Afrika is juis kwesbaar vir droogte weens die totale gebrek aan staatshulp vir sukkelende boere, ‘n nuwe verwikkeling onder die ANC wat eerder op “rassisme” fokus. Na verwagting gaan voedselpryse met ten minste 25% styg en 5 miljoen ton mielies sal ingevoer moet word.

“Die kwesbaarheid is beklemtoon deur die voortdurende El Niño-weerverskynsel. Oos-Afrika ervaar die ernstigste droogte in 60 jaar en die Verenigde Nasies (VN) het hongersnood in Somalië verklaar. Suider-Afrika word ook ernstig geraak en die droogte is in Maart vanjaar as ’n streekramp verklaar,” het Kauna ­Schrö­der gesê.

“Die groot verwagte uitkoms van die konferensie is ’n strategiese raamwerk om Afrika se veerkragtigheid teen droogtes te verbeter. Dit geniet reeds die volle steun van die Afrika-unie (AU). Ons kan nie resultate hê as ons nie al die feite bymekaar het nie,” het Schröder gesê.

Terselfdertyd soek die ministerie na borgskappe van en vennootskappe met die private sektor ten einde die droogte te verlig.

Schröder het gesê langtermynvennootskappe is ook moontlik op gebiede soos die verbetering van vroeë waarskuwingstelsels vir droogtes in Namibië, die ontwikkeling van versekeringsmeganismes teen droogtes asook water- en energiebesparingstegnologie.

Die Landbounavorsingsraad (LNR) van Suid-Afrika, het op die LNR se voorlegging oor sy strategiese plan tot 2020 aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye verslag gedoen oor 10 000 pakkies witmieliebaster sade wat in 2014/’15 gratis aan kleinboere in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal uitgedeel is om te toets.

Die twee sade WE3127 en WE3128 is nie geneties gemodifiseer nie en word onder die handelsnaam DroughtTEGO verkoop. Die eerste droogteverdraagsame witmieliebastersaad wat deur die LNR se Wema-projek (Waterdoeltreffende mielies vir Afrika) ontwikkel is, is in 2014 bekend gestel.

Nege kleinboere van die boerevereniging Mokaba in Mokopane, Limpopo, het te midde van die ergste droogte in 20 jaar hul opbrengs tot 1,14 t/ha van die vorige seisoen se 0,6 t/ha (toe hulle ander mieliekultivars geplant het) verhoog.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.