VK-gesant na Namibië

Deel op

Die Verenigde Koninkryk se minister belas met Afrika, James Duddridge, het dié week besoek aan Namibië gebring.

Duddridge is die ondersekretaris van buitelandse sake in die buitelandse sake en Statebondkantoor.

Voor hy in 2005 tot die politiek toegetree het, was hy onder meer tien jaar lank in die bankwese in Afrika en Londen waar hy op finansiële sake van nywerhede gefokus het.

Tydens sy besoek het hy die premier, die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, die minister van werke en vervoer asook die minister van finansies ontmoet.

Luidens ‘n verklaring deur die Britse hoë kommissariaat in Windhoek, is Duddridge gretig om die Namibiese regering se agenda vir ekonomiese groei en armoedevermindering te ondersteun.

Hy het ook Britse en Namibiese sakeleiers ontmoet vermoedelik om oor Britse belastingvrye beleggings te gesels.

Voor sy besoek het Duddridge gesê: “Die Verenigde Koninkryk is gereed om meer in Afrika te belê en ek hoop my besoek sal help dat dit gebeur.”

Oorsese gebiede van Haar Majesteit val nie onder die Britse reg wat vereis dat maatskappye geregistreer word nie.

Daar is ook geen vereiste vir ‘n openbare toeganklike databasis van eienaarskap nie, maar na die onthullings van die Panama Papers, is die Verenigde Koninkryk onder druk om amptenare in staat te stel om die inligting van diensverskaffers te inspekteer.

Duddridge is direk gemoeid met sulke pogings nadat die Britse premier, sy baas, geïmpliseer is in belastingontduiking.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het verlede week die nuutste verwikkelinge oor die Suid-Afrikaanse owerhede se ondersoek na die Panama Papers bekend gemaak.

Die bank het saam met die tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in die parlement se portefeuljekomitees oor die onwettige finansiële uitvloei toegespreek.

Volgens SAID is daar ongeveer 1 700 individuele Suid-Afrikaners, 56 Suid-Afrikaanse tussengangers en 79 oorsese entiteite wat bande met 81 Suid-Afrikaners het, wat uit beskikbare data geïdentifiseer is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.