Brief: Is daar nog hoop vir ʼn volkstaat vir Afrikaners?

Deel op

Die volkstaatgedagte vir Afrikaners bly sluimerend en ontlok die spesifieke vraag of Afrikaners nog enigsins in onafhanklikheid belangstel. Daar is weliswaar ʼn “klein” groepie Afrikaners wat dink en glo sesessie is die enigste oplossing vir oorlewing en bewaring van volksidentiteit. Die saamwerk- en saamboumentaliteit is oorheersend by Afrikaners ten koste van selfregering. Statisties is daar sedert 1994 ʼn deurlopende afname in steun vir ʼn volkstaat.

Volksbelang is tans gesetel in so ʼn klein groepering dat dit vir alle praktiese doeleindes geen bedreiging inhou vir die huidige regime nie. Internasionaal is daar geen minimumgetallebasis vir ʼn onafhanklike staat nie, maar noemenswaardige ondersteuning moet gedemonstreer kan word om genoegsame druk nasionaal en internasionaal uit te oefen om ernstig opgeneem te word.

Met rassisme meer in die kollig, word daar onverpoos gewerk om blankes as die bron van alle kwaad te etiketteer. Dit is ʼn wêreldwye neiging met die verskil dat anti-blanke aktiviste sterker teenstand kry in Europa en die VSA. Rassisme neem die vorm aan van die denkskool (of afwesigheid van denke) wat dit formuleer. Sommige beweer dit is ʼn sosiale konstruk? As jy pro-wit is, is jy ʼn rassis. As jy jou eie mense in diens neem, is jy ʼn rassis. Die reaksies op sogenaamde rassisme in Suid Afrika is ligsinnig, oppervlakkig en skoorsoekend.

Ras dui op biogenetiese verskille. Kulturele verskille is sekerlik ook ʼn onderskeidende aspek. Ras manifesteer hoofsaaklik in fisiese fenotipes soos velkleur, vorm van die oë, haartekstuur, beenstruktuur en beklemtoon ook gedragsverskille wat deur kultuur en tradisie begrond word. Daar kan selfs onderskeid getref word by aspekte soos intelligensie of voorkoms van misdadigheid. Om allerhande teorieë oor die nie-bestaan van rasse te formuleer en dit as ʼn sosiale konstruk voor te hou, is onsinnig. Goeie grense maak goeie bure, of dit nou spreekwoordelik of letterlik is, dit is die oplossing vir die rassehisterie. Om pro-eie-ras te wees, is natuurlik en behoort deur rasgenote bevorder te word.

Die antitese van segregasie is integrasie. Met segregasie behou ʼn spesifieke bevolkingsgroep sy homogeniteit en kan sy kultuur, tradisies en waardesisteme uitleef. Met gedwonge integrasie word ʼn spesifieke volk sy waardesisteme ontneem en word lede van daardie groep onderwerp aan vreemde simbole, leefwyses, aanneem van die waardes van ʼn nasiekultuur, ens. Met ander woorde, gedwonge integrasie is volksmoord.

‘Daar is inderdaad ʼn slagting aan die gebeur juis as gevolg van die prysgawe van soewereiniteit’

Enkele artikels is geskryf oor selfbeskikking se onhaalbaarheid in die huidige tydsgreep. Sterk argumente word aangevoer wat soms irriterend korrek is binne die konteks van die internasionale reg en uitgangspunte van die VN oor selfbeskikking. Mens moet sekerlik die volkereg en deklarasies van die Verenigde Nasies respekteer, maar die vryheid van ʼn volk word nie gemeet aan reëls nie. Vryheid gaan eerstens oor die volkswil om vry en selfregerend te wees. Daar is geen instansie, nasionaal of internasionaal waar mens aansoek doen vir selfbeskikking nie. Goedkeuring word van die volk verkry, nie van state of geregshowe nie.

Hoe lank wil Afrikaners nog hoop op herstel en help bou aan die reeds verrotte Suid-Afrika en lojale onderdane van die regering wees? Hoe lank gaan wittes nog wetteloosheid ondersteun deur hul apatie en ywerig bou aan die reënboognasie terwyl daar verskillende vorme van volksmoord plaasvind? Daar heers ʼn kultuur en klimaat van willoosheid om standpunte te stel en te veel aanvaar die daaglikse gruwels op Afrikaners asof dit onaanvegbaar is. Om die verantwoordelikhede en werksaamhede van mislukte owerheidsinstellings oor te neem, is nutteloos vir Afrikaners.

Die enigste werkbare of eerder oorleefbare opsie vir Afrikaners is eksterne selfbeskikking. Dit is die enigste ware vorm van selfbeskikking en word beskryf deur primêre en remediërende regsteorieë. Die enigste probleme waarmee die Afrikaner te make het, is geïdentifiseerde grondgebied en die wil om onafhanklik te wees. Dit is ‘n kwessie van ‘n besluit te neem. Sonder besluite gaan niks gebeur nie en sal die huidige volksmoord, marginalisering, uitsluiting en gedwonge integrasie vernietigend wees.  In dié opsig is die Afrikaner sy eie vyand deur apaties te wees.

Buiten teorieë wat selfbeskikking en regverdiging vir eksterne selfbeskikking definieer en omskryf, is daar ook doktrines soos erga omnes en jus cogens wat regverdiging bied vir aansprake op selfbeskikking binne die konteks van volksmoord. Sou die Afrikaners in Suid-Afrika wel aanspraak maak op eksterne selfbeskikking of selfs grondgebied beset en eensydig onafhanklikheid verklaar sal die uti possidetis-beginsel die grootste regstruikelblok wees om te oorkom. Die handhawing van staatsoewereiniteit en integriteit van nasionale grense is ʼn universele norm. Dit gee uiteraard ook die regering van die dag die reg om enige opstand wat sy soewereiniteit bedreig met geweld te onderdruk.

Afrikaners het hul staatsoewereiniteit prysgegee met die inklusiewe verkiesing van 1994. Voormalige president De Klerk het die prysgawe van soewereiniteit verdedig met die aanvoering dat die aanslag op Suid-Afrika tot ʼn slagting van die Afrikaners sou lei. Daar is inderdaad ʼn slagting aan die gebeur juis as gevolg van die prysgawe van soewereiniteit. Afrikaners is uitgelewer aan verskeie vorme van volksmoord as gevolg van die NP-regering se kapitulasie. Afrikaners ervaar toenemende marginalisering en degradering onder die nuwe demokratiese bestel. Demokrasie in Suid-Afrika het reeds ontaard in ʼn tirannie vanweë die regerende party se oorweldigende steun.

Die vraag is wat vorentoe? Gaan die klein aantal Afrikaners wat voorstanders van ʼn volkstaat is die projek gestruktureerd en eendragtig aanpak? Gegewe die demografiese realiteite en bevolkingsaanwassyfers, sal Afrikaners nooit weer binne die demokratiese bestel enige noemenswaardige verteenwoordiging geniet nie. Hierdie klein minderheid het net twee opsies om te oorleef: Volkstaat of emigrasie. Totale verswelging/integrasie is ophande.

– Johan Wiggill

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.