Karel Combrinck: Die dodelikste sweer is Anti-Afrikaner-Afrikaners

Deel op

Oor die naweek het een van die walglikste stukkie anti-Afrikanerskap, geskryf deur ene M.C. Botha , wat ek ooit onder oë gehad het op Netwerk24 verskyn. Die Netwerk24-redaksie maak nie melding van wie dié M.C. Botha dan kan wees nie, dus moet ons maar raai. Daar is, soos ek verstaan, iemand met die naam M.C. Botha wat glo romans skrywe. Persoonlik het ek nog nooit iets van hom gelees nie en ek voel my ook nie om daardie rede juis geestelik veel armer nie raai. Dan is daar ook nog ‘n M.C. Botha, wat redakteur is van een van Naspers se publikasies. Is dit dalk dieselfde persoon? Ek gaan nie my kop daaroor breek nie. Kom ons kyk maar na wat hierdie M.C. Botha te sê het, wie hy ook al mag wees.

Sy stuk is ‘n aanval teen kampvegters vir Afrikaans wat hy die «taalbulgilde» noem. Die pogings van mense wat veg vir Afrikaans beskryf hy as ‘n «ge-oink in die moddertrog».

Botha se relaas is so skokkend verregaande dat dit eintlik geen kommentaar verdien nie. Kom ons beperk ons dus maar grootliks tot aanhalings daaruit wat min of meer vanself spreek.

Volgens hom is daar «geen einde aan die groepies bejaarde wit mans wat uit die dampkring van Afrikanernasionalisme hul verskyning maak nie». Dis nou mense wat Afrikaans probeer verdedig.

En terloops, ek wil raai dat Botha ook reeds bejaard is al probeer hy sy lyf jonglat hou. Ons het almal die manier om die een of ander tyd bejaard te raak. M.C. Botha is hierop tog seker geen uitsondering nie of hoe?

Botha meen voorts dat «Hitler en Mussolini vir hul uitdelgingsbeleid nie uitsluitlik van hul moedertaal afhanklik was nie». Daarenteen het «Malan ens. hul ganse beleid van afsonderlike ontwikkeling geskoei op die lees van daardie beminde begrip: moedertaal-nasionalisme».

Let dus daarop, die Afrikaners was, soos Hitler en Mussolini, ook verantwoordelik vir ‘n «uitdelgingsbeleid». Verdien so ‘n stelling ernstige kommentaar?

En dan nog: «Sonder Afrikaans was apartheid niks. Sonder apartheid was Afrikaans niks.»

Dus, as ‘n mens ‘n bietjie elementêre logika wil beoefen: Noudat apartheid nie meer daar is nie, is Afrikaans, volgens Botha, ook niks. Daar kan tog geen ander afleiding wees nie.

Dan haal Botha, met goedkeuring, ene Lovelyn Nwadeyi aan wat op die onlangse jaarvergadering van die US-konvokasie (asof dit ‘n getuigskrif is) sou gesê het dat «Afrikaners vir hierdie klaarblyklike sonde (van apartheid) tot dusver amper skotvry daarvan afgekom het». En dan voeg hy by dat hierdie stelling «vir die taalbulle (ons) wat slegs die samboktaal van hulle vaders ken, te subtiel is». Vir ons, met ons samboktaal, is Lovelyn Nwadeyi se stelling te «subtiel»!

Die noodwendige afleiding is dus weer eens: Ons as Afrikaners is nog nie genoeg gestraf vir die «sonde» van apartheid nie. En wanneer die straf kom, dan hoop M.C. Botha natuurlik dat hy uit erkentlikheid vir ‘n artikel soos hierdie, ongestraf sal bly. Die manne wat die straf uitdeel moet tog net nie die fout maak om M.C. Botha, die romanskrywer, te verwar met M.C. Botha, die redakteur nie. Dit sal tog alte naar wees. Al die gatkruipery verniet.

«Die simbiose tussen Afrikaans en apartheid» noem Botha ‘n «dodelike sweer wat in 1976 deur die jeug van Soweto geprik is». ‘n Veel meer dodelike sweer, wat nog nie geprik is nie, is die verskynsel van Anti-Afrikaner-Afrikaners soos M.C. Botha.

Verder was die Soweto-opstand «nouliks vroegtydig», m.a.w. net betyds om «die geboorte van die nuwe Suid-Afrika te verhaas» Die «pyn en lyding van die 197- opstand was net deur swartes gevoel, met die uitsondering van enkele Engelse simpatiseerders». L.W. Die Engelse simpatiseerders verdien eintlik ons bewondering.

Nog is dit die einde nie. «Die taal van die koloniseerders van Suid-Afrika was nie Engels nie, maar Nederlands – Afrikaans se stamtaal». Waar, in hemelsnaam, kry hy so ‘n stukkie snert vandaan? Waar en wanneer was daar ooit ‘n Nederlandse kolonie aan die Kaap? Die VOC het hoogstens ‘n verversingspos vir verbygaande skepe op ‘n nietige stukkie aarde rondom Kaapstad gevestig en bedryf.

En dan, uiteindelik iets waarmee ‘n mens kan saamstem: «Die Grondwet van Suid-Afrika is ‘n utopiese dokument wat Afrikaans net so min kan beskerm soos enige ander moedertaal – ook Engels.» Behalwe net dat Engels, soos Botha behoort te weet, geen beskerming nodig het nie.

En les bes is daar ook nog ‘n stekie na die Bittereinders van die ABO. «Almal moes na die ABO die mas opkom ten spyte van die Bittereinders se gekners van tande. Vandag is dit bekend wat hùlle op die lang duur nagelaat het: Twisgierigheid, agterdog en bitterheid.» M.a.w. die agterdog en bitterheid was nie die werk van die Engelse nie, maar van die Bittereinders! Dit slaan ‘n mens se asem weg. En met «vandag is dit bekend» bedoel hy seker vandag is dit bekend in die wandelgange van Naspers.

Mense soos M.C. Botha het natuurlik die probleem dat hulle FW de Klerk se oorgawe, aangestig deur Naspers, ten alle koste moet probeer goedpraat. Daarom moet die onvergelyklike moed en vasberadenheid van die «bittereinders» as agterlik en teenproduktief afgekam word. Hulle het ook die probleem dat die behoud van Afrikaners se selfrespek na die ABO grotendeels te danke was aan die uiterste offers wat die «Bittereinders» bereid was om te bring terwyl die meeste Afrikaners van die skandelike De Klerk-kapitulasie net vernedering en skaamte oorgehou het.

Gelukkig is daar darem ook nog Afrikaners, soos Steve Hofmeyr, wat bereid is om hulle nek uit te steek vir die Afrikaanse saak, maar dit wil amper lyk asof Steve ‘n beter ontvangs in Nederland het as in Suid-Afrika self.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.