Steve Hofmeyr: Waarskuwings uit Afrika: as jy ‘n minderheid word in jou eie land

Deel op

Wat kan mens doen met net 48 uur in Europa? Met ander woorde, geen tyd vir inkopies nie – wat fataal is as jy jou onderklere vergeet het. Maar ware diplomatieke betrekkinge beteken ‘n vriendelike Vlaamse staatsman pak sy noodreistassie op die sypaadjie langs die Europese Unie uit en leen my twee splinternuwe onderbroeke. En, nee, hulle was nie oranje nie.

Ek doen vlugtig toesprake by die Vlaamse en Europese Unie se parlemente en staan verstom oor die kundige vrae waarmee ek gepeper word. My ontnugtering kon ek later verwoord as “die Meerderheid van Minderhede”. Dit het vinnig ‘n gewilde definisie geword vir oënskynlike redes. Daar bestaan nie ‘n land ter wêreld met mense wat nié soos ek en jy voel nie, staatlose volke wat regeer word deur mense wat hul eer, erfenis, taal, opinie en waardes verwerp of minag.

Tuis woed Suid-Afrika se negatiewe beriggewing voort, dat die “Nederlanders” my glo boikot. Nie ‘n woord oor die feit dat dit die Nederlanders is wat my genooi het nie! Die “boikot” is maar dieselfde “Suid-Afrikaner” as laas. Hy verag dalk vryspraak, maar hierdie keer het dit gelei tot ‘n beter venue en groter belangstelling. Hierdie is Nederland, nie Suid-Afrika nie. Ruimte vir vryspraak is hier sommer baie. Moslem-imams se opruiery hier laat my geselsies soos kleutertelevisie lyk. Die pragtige eetplek genaamd PROEF, was net soos die teater wat TREURGROND vertoon het, stampvol en uitverkoop. Die plek was gepak, met wittes, swartes, Grieke, Irakese en tientalle Suid-Afrikaners; nugter mense wat wil hoor en saampraat. As jy, as ‘n ANC-gatgabba, dink jy kan andersdenkendes daar stilmaak, sal jy harder moet werk. As jy Suid-Afrikaanse vroue wat lê en bloei nog een ekstra skop in die gesig wil toedien, moet jy soos Rian van Heerden en Sloet de Villiers ander se pogings om hul pyn te belig, snoer en ondermyn. Jy kan dit doen met woorde of met wegkyk, soos die ANC doen. Ek hou hulle almal ook van vandag af aandadig vir plaasmoorde en verkragtings. Hoekom? Want hulle is agente van verlamming toe ons dit die minste benodig het. As ek plaasmoorde noem, word die gesprek verplaas na Steve Hofmeyr. As ‘n regter kinderverkragtings noem, word die gesprek verplaas na Mabel Jansen en as iemand publieke varksug onderstreep, word die gesprek verplaas na Penny Sparrow. Raai wat word nooit opgelos nie… sterftes, verkragtings en varksug.

Ontkenning is die Suid-Afrikaanse manier. Tuis berig Beeld dat ek sou sê Suid-Afrika is pateties. Dit was nie in my toespraak nie. Maar, ja, Suid-Afrika se leierskap en ander indeksprestasies is wel pateties en ek het dit beslis genoem. As Suid-Afrika iemand soek om die ANC se beeld in die buiteland te poets, stuur gerus iemand anders. Daardie iemand is nie ek nie. My volk word uitgemoor en my nasie se vroue, kinders en oumas word verkrag. Ons het boonop ongekende armoede onder ons mense, ‘n ekstra 400 000 wit plakkers, sonder dat daar ‘n duik gemaak word in die nasionale werkloosheidsyfer. Ek het genoem dat daar bykans geen Afrikanergeskiedenis meer geduld word nie, maar het verwys na die Turning Points in History-skoolsillabus. Natuurlik staan monumente van Paul Kruger en Louis Botha nog, maar hulle word regop gehou deur die verf van vandaliste.

Ek het grappenderwys vertel hoe gereeld ons ons waghonde vervang oordat ons vorige waghonde vergiftig is en dat ek nie verbaas sal wees as dit nie ook ‘n Suid-Afrikaanse wêreldrekord is nie! Ek het genoem dat daar ‘n plaasaanval sal wees voordat ek weer terugkeer – daar was! – en vier verkragtings voor die einde van my toespraak – daar was! Ek het gou duidelikheid gebring oor die verwarring tussen Afrikaan, Afrikaner en Afrikaanses. Ek het ook ons unieke band met die Lae Lande benadruk, veral deur ons herkoms, taal en waardes. Ek kon noem dat hofmeiers (hofmeesters) al duisende jare bestaan en dat die Hofmeyrs in die 17de eeu uit Ibbenbüren deur Rotterdam na Kaapstad gereis het. Ek het beklemtoon dat wit Suid-Afrikaners, bekend vir hul werksetiek, sukkel om buitelands te werk terwyl miljarde spandeer word op vreemdelinge en vlugtelinge wat onwettig uit bootjies deur die heinings klim.

Ek het nie geskroom om Europa aan te vat nie. My woorde was: “My mense sou nooit droom om terrorisme in Europa te finansier nie – hoekom het julle dit aan ons gedoen…?” ‘n Yslike stilte het geheers. Net Martin Bosma (PVV) het sy kop geknik. In sy boek Minderheid In Eigen Land vra hy dieselfde vrae as ek.

Die plaaslike media het nie ‘n woord gerep oor hoe ek by elk van my drie toesprake en vier onderhoude volhard het dat toerisme, beleggings en ontwikkelingshulp nie sonder meer gestaak moet word nie, dat daar steeds geen ander land vir my is nie, dat ons s’n tog die beste, mooiste en goedkoopste vakansiebestemming in die wêreld is en dat ek alle Suid-Afrikaners bitter lief het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.