Dan Roodt: Steve Hofmeyr se besoek maak deure in Nederland oop

Deel op

Wie sou kon dink dat ‘n besoek van Steve Hofmeyr aan Nederland feitlik voorbladnuus in beide daardie land en Suid-Afrika kon wees? Gewoonlik skryf Beeld, Netwerk24 en ander Media24-media – synde anglofiel en polities korrek – skaars oor Nederland en daarom weet Afrikaners so te sê niks van al die interessante debatte in die Nederlandse politiek nie. Die frase “eigen volk eerst” weerklink al tot in die VSA waar mnr. Jared Taylor van American Renaissance dit tydens die onlangse konferensie naby Nashville, Tennessee, gebruik het. Die meeste Nederlanders hou vas aan die tradisie van “Zwarte Piet”, Sinterklaas se swart handlanger wat jaarliks aan die begin van Desember gevier word, ondanks linkse krete van “rassisme”.

Ironies genoeg is Afrikaners – ten minste ons joernalistieke en akademiese elite – vandag links, selfs ekstreemlinks, terwyl Nederlanders soos tienmiljoene ander Europeërs weer hul wortels, taal en tradisie ontdek. Vandaar dan ook die groep “Europa vir nasies en vryheid” in die Europese parlement waartoe beide Geert Wilders en Marine Le Pen se partye behoort. Steve Hofmeyr was insgelyks die gas van die ENV – Europa vir nasies en vryheid. Hier by ons is die heersende ideologie politieke korrektheid, “Madiba”-aanbidding en alles wat daarmee saamgaan. Die vraag is: Hoe verander ons dit en hoe belyn ons ons meer met Nederland en die res van Europa, en lande soos Frankryk, Swede en Oostenryk waar tot ‘n derde van alle kiesers deesdae regs stem en onder die jeug selfs die helfte?

Nederland is ‘n klein, besige landjie waar ‘n magdom dinge gebeur: boeke, sport, politiek, sake. Afrikaners behoort veel meer daarvan kennis te neem, op dieselfde wyse as wat die meer behoudende Nederlanders reeds volg wat ons hier in Suid-Afrika ondergaan. Ek het daaraan gedink dat ons ten minste een keer per jaar ‘n “Nederlandse week” moet hê waartydens ons Nederlandse kaas (!) eet, Nederlands lees, iets van ons gemeenskaplike tradisies soos die V.O.C., Calvinisme en boerdery vier, Nederlanse produkte leer ken, maar ook nader kennis maak met die huidige politieke en maatskaplike debat in Nederland. Dinge soos immigrasie, die bedreiging van Islam, die tradisie van Zwarte Piet – wat van links as “rassisme” aangeval word – en waaroor die Nederlandse media daagliks berig. Dis die voordeel van Nederlands: elke Afrikaner kan Standaardnederlands met gemak volg en verstaan, en andersom met Standaardafrikaans. Vele Nederlanders lees reeds Afrikaanse boeke of webwerwe aanlyn, en ons behoort dieselfde te doen.

Laat die V.O.C. herleef! Bestaan daar nie in Afrikaans die spreekwoord wat lui: “En dan is die Kaap weer Hollands” nie? Die Kasteel in die Kaap is oorspronklik gebou om die Engelse uit te hou, iets wat helaas in die negentiende eeu nie meer moontlik was nie. Maar tussen die energieke, ryk Nederland van vandag en Afrikaners wat steeds ‘n uitgestrekte gebied in Suider-Afrika – dink maar aan Suidwes/Namibië – beset, is daar ‘n wonderskone sinergie moontlik. Via die internet is ons reeds verbind, en bestaan die groter “Dietse volk” van Nederland, Vlaandere en Afrikaner-Suid-Afrika reeds, ten minste virtueel. Terloops, die term “Suid-Afrika” gee my al so ‘n wrang smaak in die mond vanweë die oormatige gebruik van “South African” dat ek al ons land in my geestesoog as “die Afrikaanse Republiek” sien. Mag die Prinsevlag weer wapper as ons, die splinter van Europa in Afrika, weer van ons regmatige erfenis besit neem! Daardie sinsnede, “splinter van Europa”, is gemunt deur die skrywer W.A. de Klerk wat ‘n baie interessante geskiedenis van die Afrikaner in Engels, The Puritans in Africa, geskryf het. Daarin toon hy aan hoe die puriteinse gees wat ons dryf, ewe seer vir die welvaart en welslae van Nederland, maar insgelyks die grote VSA, verantwoordelik is. So pas het ek in Tennessee ‘n paar jong Amerikaners ontmoet wat dieselfde sê, dat die konserwatiewe Suide van Amerika wat juis tans so ‘n ekonomiese opbloei beleef, ook sterk deur Calvinisme beïnvloed is/word.

Self kon ek Steve Hofmeyr se praatjie in Den Haag maklik bygewoon het, want ek was vanaf Nashville af op pad terug Suid-Afrika toe via Frankfurt, met een van die Nederlandse politici wat selfs aangebied het om my op Maastricht naby die Nederlands-Duitse grens per motor te kom haal. Maar ongelukkig had ek geen Schengen-visum nie! Dis nog ‘n nadeel van die “nuwe Suid-Afrikaanse” paspoort: mens het oral duur visums nodig omdat ons nou finaal as behorende tot die derde wêreld gereken word. ‘n Epos na die Nederlandse konsulaat in Washington op die vooraand van my vertrek na Amerika, het tot die antwoord gelei dat ek ten minste twee weke en ‘n persoonlike afspraak by die Nederlandse konsulaat in die VSA nodig het om ‘n visum te verkry. Op Frankfurt wou-wou ek die kans waag om met my antieke Franse bestuurslisensie – wat steeds ‘n geldige vorm van identiteitsbewys oral in die EU is, het ek op die internet vasgestel – my as ‘n Franse burger voor te doen en sodoende verby die Duitse paspoortbeheer te kom, maar toe besluit om die redelike te doen en terug Suid-Afrika toe te vlieg.

Steve het hom in elk geval goed van sy taak gekwyt: hy het die Afrikanergeskiedenis in ‘n neutedop aan die Nederlandse gehoor en media oorgedra, tesame met ons huidige lyding onder plaasmoorde, rassekwotas, omgekeerde diskriminasie, waaronder diskriminasie teen die Afrikaanse taal en kultuur. Daaroor is wyd en syd in Nederland berig. Ek verstout my om te sê dat Steve sodoende met een besoek meer reggekry het as ons ambassade in Nederland onder die destydse NP-Broederbond oor dekades heen en teen ‘n koste van miljoene van ons “ou” Van Riebeeck-rande, wat gelykstaande is aan miljarde van die huidige “Madiba”-rande.

Daarmee het Steve vir ons deure in Nederland geopen wat nou oopgehou moet word. Martin Bosma van die Partij voor de Vrijheid verdien ‘n standbeeld in Suid-Afrika vir alles wat hy tot dusver vir Afrikaners gedoen het. Trouens, op Afrikaansdag 14 Augustus vanjaar moet ons PRAAG se TarenTAAL-prys aan hom uitloof vir al sy harde werk om die Afrikanersaak in Nederland te bevorder! Sonder hom sou Steve se besoek sekerlik nie plaasgevind het nie. Hy gebruik sy party se magtige mediamasjien om die Afrikanersaak in Nederland in die openbaar in te dra. As ons soos Nederland oor ‘n koningin beskik het, het sy sekerlik die man tot ridder geslaan. Op sy minste moet ons Martin Bosma tot ere-Afrikaner verklaar en aan hom die vryheid van Pretoria toestaan, sodra Pretoria bevry is, bygesê. As gebore Nederlander wat boonop in ‘n linkse huis grootgeword het, weet hy reeds veel meer van die Afrikanergeskiedenis as vele van ons tydgenote hier, en voel hom eens met ons stryd.

Dan is daar Geert Wilders, wat vir die hele Westerse wêreld ‘n simbool van verset teen “multikul” en Islamitiese kolonisering geword het, en vir seker dra alles wat Martin Bosma vir ons doen ook sy en die Partij voor de Vrijheid se stille goedkeuring weg.

Vandag berig Netwerk24 dat iemand in Nederland tydens Steve se besoek sou gesê het: “Afrikaners, kom terug na jul stamland.” Oral ter wêreld waar ek kom, het ek egter die teenoorgestelde boodskap: laat al die werklose jong Europeërs ons liewer kom help om ons land terug te kry deur boere op hul plase te beskerm. In die VSA kos dit R300 000 per jaar om aan die geringste universiteit te studeer, selfs R1,5 miljoen per jaar as jy mediese klasse wil volg. Waarom kom studeer jong, regse wit Amerikaners nie by Tukkies of Stellenbosch in Engels en help om skanse teen Afromarxisme en politieke korrektheid op te werp nie? Hulle is so geesdriftig oor ons, hulle sal sommer Afrikaans ook leer, anders as plaaslike Engelse wat saam met swartes (en bruines) op die Rooitaal ten koste van Afrikaans aandring. Dan praat ek nie eens van jong Swede, Franse en Nederlanders nie, wat in Afrikaans net nog ‘n “Europese” taal sien waarmee hulle ewe instinktief as met hul eie identifiseer nie. In Tennessee het ek ‘n bloedjong Fin raakgeloop wat ewe seer in Afrikaans belangstel en alles op die internet volg wat ek skryf. Ek het selfs iemand onlangs al hoor sê dat jong Europeërs soos tydens die Spaanse burgeroorlog in die 1930’s by ‘n Afrikaner-“bevrydingsleër” behoort aan te sluit om hier teen kommunisme en swart oorheersing te kom veg. As ek so na al die “identitêre” jeugbewegings in Europa kyk, asook die Amerikaanse meisies wat my op Twitter volg, dan moet die selfversekerde ANC met sy antiwit haat wat daagliks op ons uitgegiet word, pasop. Dalk is so ‘n scenario van ‘n rasseoorlog in Suid-Afrika waarin jong Europeërs en Amerikaners sy aan sy met ons kom veg, dalk nie so vergesog as wat dit tans klink nie… Die wit Portugese vanuit Mosambiek en Angola, asook Rhodesiërs kon Suid-Afrika toe vlug, maar suid van ons is net die Indiese oseaan en Antarktika. Ons staan met ons rug teen die muur, en daarom sal ‘n toekomstige aanval of volksmoord deur die aspirant-Afrika-krygsheer Julius Malema en sy rooihemp-rebellegroep weerstaan móét word.

Daar is op aarde seker nie nog so ‘n vredeliewende volkie soos Afrikaners nie, maar ons sou dom wees as ons nie die oorlogsugtige geluide rondom ons van die EFF, en selfs linkse verloopte Afrikaners soos Marx du Preez of die Stellenbosch-akademici verreken nie. As die beplande plaasbesettings geskied en hongersnood volg, gaan daar in elk geval anargie en geweld uitbreek. Só het dit in elke postkoloniale Afrikaland gebeur, en Suid-Afrika is mos nou “net nog ‘n Afrikaland” soos ons elke dag verseker word.

Die stryd om Westerse en Europese oorlewing woed wêreldwyd; dit was juis die tema van my praatjie in Nashville, Tennessee. Daarom is kruisbestuiwing en onderlinge saamstaan tussen blankes dwarsdeur die wêreld nodig. Nog nooit het ons egter so ‘n groot behoefte daaraan tussen bloedverwante Nederlanders, Vlaminge en Afrikaners gehad nie!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.