Karel Combrinck: Anti-Afrikaner-Afrikaner

Deel op

Hierdie is eintlik by wyse van kommentaar op Leon Lemmer se skitterende stuk oor Afrikaners se kruispaaie wat almal behoort te lees . Wil Praag nie daaraan dink om van die rubrieke en briewe wat hier verskyn saam te bind en in boekvorm uit te gee nie ? Miskien in Afrikaans en Engels.

Leopold Scholtz kan in die eerste plek nie van die Naspersideologie losgemaak word nie. Eintlik behoort hy aan ‘n familiedinastie wat reeds vir baie jare die toon in Naspers aangee. As sodanig is hy medeverantwoordelik vir die breinspoelingsproses wat tot die skandelike oorgawe van 1994 gelei het. As ‘n mens wil weet wat is Naspers, dan moet jy vra wat is die Scholtze en as jy wil weet wat is die Scholtze, dan moet jy vra wat Naspers is.

…om ‘n Afrikaner te wil wees en ‘n Afrikaner te wil bly, verg ‘n stryd waarvoor nie almal opgewasse is nie.

Wat betref die beswaar van lesers wat voel ons slaan te veel ag op mense soos Max Du Preez en Leopold Scholtz : Enige politieke standpunt benodig ‘n ander waarteenoor hy kan reageer , ‘n soort teenpool as’t ware. Anders verval ons in ‘n dodelike kringloop waar almal net saamstem en beaam en mekaar die rug krap. ‘n Mens wil tog nie soos Naspers net maar selfbestuiwing toepas nie. In hierdie sin bewys Scholtz en Du Preez en ander, soos Anton van Niekerk, ons dus eintlik ‘n guns. (Croucamp met sy rioolvulgariteit sluit ek hierby uit). Kortom, wat ons betref, is die bestaansreg van Naspers dat hulle ons iets gee om van te verskil.

Nou wat is Naspers ? Kom ons kyk maar net na ‘n paar berigte van vandag (29 Mei) wat illustreer hoe Naspers se hart klop:

Onder die opskrif, «So vorder ons na rasse-integrasie» skryf Gerrit van Rooyen onder meer :

“Suid-Afrika maak stadig maar seker vordering met die rasse-integrasie van woonbuurte, hoewel die nalatenskap van apartheid steeds baie sigbaar is.

Verreweg die meeste van die land se 234 munisipaliteite het tussen 1996 en 2011 meer geïntegreerd geraak.

Van die 234 munisipaliteite het 218 in hierdie tydperk wat ras betref meer gemeng geraak, terwyl rassesegregasie toegeneem het in 16.

Kaapstad is die sesde mees gesegregeerde munisipaliteit in die land. In 1996 was Kaapstad die vierde mees gesegregeerde munisipaliteit maar sedertdien het sy integrasiesyfer tot die sesde plek verbeter.” (L.W. Verbeter)

Met ander woorde, rasse-integrasie in woonbuurte is «vordering» . Hy keur dit goed en feit is, Naspers plaas die berig sonder verdere kommentaar en Van Rooyen se berig verteenwoordig dus hulle sienswyse ook.

In nog ‘n lang en goedkeurende berig oor Allister Coetzee se «nuwe» Springbokspan skryf Hendrik Cronjé :

«Rapport het ook vasgestel dat die Bokgroep voor gisteraand se aankondiging aan ­Fikile Mbalula, minister van sport, voorgelê is.»

Net dít, so half in die verbygaan, sonder enige kritiek of kommentaar. Daar is geen ander redelike gevolgtrekking nie as dat die minister van die spelers in die Springbokspan aangewys het. Waarom sou hy anders voor die tyd omtrent die samestelling van die span ingelig wou word? Maar Naspers sê niks. Hulle is tevrede daarmee dat die minister ‘n Springbokspan aanwys. Hulle slaap by die monster wat hulle help skep het.

In nog ‘n berig op 29 Mei skryf Hendrik Cronjé voorts :

«Allister Coetzee het as die nuwe afrigter van die Springbokke Saterdagaand met die aanwysing van sy eerste Springbokgroep van 31 spelers ’n helder sein uitgestuur dat hy Springbokrugby gaan verander en vernuwe.

Die Bokgroep versinnebeeld ’n dubbeldoor-transformasie, want met 12 spelers van kleur in die groepverteenwoordig dit die grootste getal swart spelers in die Bokspan tot nog toe ».

Hoe walglik kan hulle raak? Die Springbokke het ‘n roemryke verlede oor baie dekades. Wat wil hulle nou «vernuwe» ?

En oor die beoogde oprigting van ‘n koshuis vir Afrikanerstudente by die Universiteit van Pretoria skryf die redakteur Waldimar Pelser op dieselfde dag :

«Is dit in enige van ons se belang om in ons slaap-, werk- en leerplekke net ons eie mense te sien en hoor? Hoe berei ’n wit, Afrikaanse kamermaat jou voor op ’n land wat nie wit en Afrikaans is nie? Hoe op aarde gradueer jy uit so ’n laer met ’n groter begrip vir swart mense se aspirasies, terwyl jy hulle ook ontneem van die kans om jóú hartstogte en griewe te leer ken en verstaan?»

«Slaap- werk- en leerplekke» is natuurlik ‘n oordrywing.

Die wêreld oor assosieer mense met hulle eie. Wie sou ooit droom om Jode te kritiseer dat hulle skole en ander geriewe het net vir Jode? Vryheid van assosiasie is een van die hoekstene van ware vryheid en demokrasie. En meen Pelser wit Afrikaanse studente sal in ‘n Afrikaanse koshuis so afgesonder wees van die wêreld dat hulle onvoorbereid sal wees vir die werklikhede van die Suid-Afrikaanse samelewing? Kom nou, ‘n koshuis is ten slotte nie ‘n klooster nie.

‘n Kwessie wat miskien nog nie genoeg aandag gekry het nie, is die een na wat eintlik die beweegredes of agenda is van die Du Preez’s, Van Niekerks, Amanda Gouwse, Naspers ens., om die Afrikaner af te kraak en te verguis. Daar moet tog ‘n rede wees waarom mense dinge doen? Kan dit wees dat hulle beweegrede bloot pragmaties is, m.a.w. dat hulle Engels sien as ‘n wêreldtaal en dus as ‘n beter kommunikasiemiddel tussen mense? Waarom dan die bitsigheid en haatdraendheid wat daarmee gepaard gaan?

Is dit bloot politieke gedienstigheid of dalk ‘n begeerte om in die mode wees, d.w.s. in pas met wat hulle meen die internasionale wêreld dink?

Moontlik moet die verklaring op ‘n ander vlak gesoek word, op die politieke en ideologiese vlak ja, maar miskien veel meer nog op die psigologiese vlak. Leon Lemmer verwys na Leopld Scholtz se boek waar dit gaan om die Afrikaners se skaamtegevoel oor apartheid wat tot hulle ineenstorting in 1994 gelei het. Hy (Lemmer) wys tereg daarop dat die Afrikaner groter skaamte ervaar oor die skandelike oorgawe van 1994 en oor die wyse waarop hulle deur hulle eie leiers bedrieg en mislei is, as oor apartheid. Maar tog wil dit voorkom asof skaamte- en skuldgevoelens een van die beweegredes moet wees van die genoemde Afrikanerintellektuele se anti-Afrikanerkruistog. Op die een of ander verwronge manier meen hulle die skuldgevoelens wat hulle oor apartheid koester, kan besweer word deur anti-Afrikaans te wees.

Of miskien is dit net dat Engels die eenvoudigste uitweg is, want om ‘n Afrikaner te wil wees en ‘n Afrikaner te wil bly, verg ‘n stryd waarvoor nie almal opgewasse is nie.

Net nog ‘n laaste woordjie oor die kleurlingmense en Afrikaans. Daar bestaan ‘n knaende refrein dat ons die Kleurlinge van Afrikaans vervreem het deur ons onmenslike apartheidbeleid. Leon Lemmer se artikel wys daarop dat die Kleurlinge simpatiekgesind was teenoor Engels lank voor daar nog van apartheid sprake was. Miskien was dit omdat die Engelse meer suksesvol was as ons om van die Kleurlinge bondgenote te maak.

Tog het Kleurlinge, sedert die vroegste dae aan die Kaap Afrikaans gepraat en is dit in oorweldigende mate nog steeds hulle taal. Die verskil is dat ons nog altyd trots daarop was om Afrikaans te wees en hulle nie. Die storie dat ‘n mens vyandig kan word teenoor ‘n taal (jou eie daarby) omdat jy ‘n werklike of vermeende onreg aangedoen is deur ander sprekers van daardie taal gaan net nie op nie. Persoonlik is ek in my lewe meer leed aangedoen deur mede-Afrikaners as deur enigiemand anders, ondermeer oor my verset teen die Nasionale Party se kapitulasiebeleid, maar dit het my nog steeds nie ‘n vyand van Afrikaans gemaak nie.

En regoor die wêreld praat mense Engels ten spyte daarvan dat skokkende onreg teenoor hulle gepleeg is – deur Engelse, om by die slawehandel maar te begin.

Dus Kleurlingvriend, as jy Afrikaans wil praat, sal dit gaaf wees, dis ten slotte jou taal ook of jy nou daarvan hou of nie. Maar as jy Engels verkies, is dit ook goed. Moet my tog net nie ‘n guns wil bewys deur Afrikaans te praat nie, of my probeer vermaak daarmee dat jy liewer Engels wil wees nie, want, meneer, wat jy verkies is my werklik om’t ewe. Laat jou tog net nie aan die neus lei deur « Afrikaner-intellektuele » wat jou probeer wysmaak dat die Afrikaner jou iets skuld nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.