‘n Turksvy neffens die EU

Mev Angela Merkel is vinnig besig om die vrot appel van Europa te word in haar strewe om die nuwe Sultan van Turkye Recep Tayyip Erdogan ter wille te wees. Turkye se opportunistiese uitbuiting van Mev Merkel se ruggraatloosheid word by die dag meer aktueel en van sleutelbelang vir die veiligheid en voortbestaan van Europa en die Westerse wêreld as geheel.

‘n Tydjie gelede was Turkye in die nuus oor die afskiet van ‘n Russiese vegvliegtuig oor Siriese grondgebied. Die gebeurtenis was ernstig en sensasioneel genoeg sodat die westerse zombiemedia verplig gevoel het om daaraan aandag gee. Sedertdien gaan die Turke egter voort met hulle duistere gekonkel in die troebel waters van die Midde-Ooste sonder dat die zombiemedia veel slaap daaroor verloor.

Tog is daar tekens dat Turkye se skaduagtige rol in die Europese politiek toenemende aandag begin trek.

Turkye het uit die staanspoor van sy geskiedenis sy mag gegrond op volksmoord en die uitwissing van etniese minderhede. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Turkye die universele chaos gebruik om die Armeniërs, ‘n Christenvolk, op die mees brutale manier denkbaar uit te delg, ‘n volk wat reeds duisende jare op grondgebied gewoon het wat vandag deel uitmaak van Turkye.

Na berekening is tussen 1,5 en 2 miljoen Armeniërs voor die voet koelbloedig afgemaai en die res van honger laat sterf. Toe die Turke die gebied wat in Bybelse tye bekend gestaan het as Klein Asië oorrompel het, was daardie wêrelddeel reeds 1500 jaar lank ‘n Christenbeskawing.

Die Sankt Sofia-basiliek in Istanboel (Konstantinopel en voorheen Bizantium) is een van die oudste Christenmonumente ter wêreld en terselftertyd ook een van die indrukwekkendste.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was die Turke ‘n bondgenoot van Duitsland wat maak dat die Duitsers tot vandag toe nog ‘n soort van morele verpligting voel teenoor Turkye. Dit maak ‘n wesenlike deel van die problematiek uit. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Turke neutraal gebly.

Turkye het veral van belang geword vir die Weste sedert die Koue Oorlog toe die Amerikaners van Turkye ‘n Navobondgenoot gemaak het ten einde militêre basisse daar te vestig. Op dié manier het hulle van Turkye ‘n soort “aanvaarbare” staat gemaak. En hul skaduagtige gekonkel moes dus noodgedwonge geregverdig en verdedig word. So is dit nog steeds vandag.

Die Turke word gereken as “aanvaarbaar” ten spyte van Turkye se betreurenswaardige vertoning op die gebied van mensereregte, vryheid van spraak, van die pers, ens..

Daar gaan bykans geen week verby nie sonder dat Turkye se magshebbers ‘n nuwe opposisieparty verbied en etniese minderhede meedoënloos onderdruk.

Onlangs het die Turkse regering weer sy rampokkeraard geopenbaar deur die situasie in Sirië en omgewing uit te buit ten einde die Koerdiese gemeenskappe in Irak, Sirië en Turkye self aan te val en uit te moor en hulle dorpe te vernietig. Die afgelope jare reeds voer Turkye ‘n stelselmatige etniese suiweringsveldtog teen die Koerde.

In hulle jongste aanvalle teen die etniese minderheid het die Turke op burgerlike teikens soos woonbuurte en woonstelgeboue losgebrand met grofgeskut, normaalweg iets wat teen vegvliegtuie, gepantserde voertuie en tenks gebruik word en daar is berigte van honderde mense wat in geboue vasgekeer en doodgebrand is.

En natuurlik kom die Turke skotvry daarvan af danksy die westerse zombiepers wat verkies om die stilswye te bewaar oor die barbaarse brutaliteit van ‘n Navobondgenoot. Die selektiewe moraliteit en dubbele standaarde van die westerse intelligentsia, pers, kerk en akademie is om van te walg.

Ons weet reeds van Turkse tweeslagtigheid in die oorlog teen Daech of ISIS. Oënskynlik is hulle bondgenote van die Weste teen die terroriste, maar intussen gaan hulle voort om die moslemterroriste se posisie te versterk deur ondermeer olie van hulle te koop en te vervoer en wapens en ander toerusting aan hulle te verskaf. Ons weet ook van die genoemde skurkagtige neerskiet van die Russiese vegvliegtuig oor Siriese grondgebied sonder enige wettige gronde daarvoor en met die stilswyende goedkeuring van die Amerikaners en hulle lakeie.

Ook die onderduimsheid van die Turke ten opsigte van die vlugtelingkwessie is ter sake. Byna weekliks is daar konferensies tussen die Turkye en die Europese Unie oor die migrasieprobleem waar die Turke telkens die Europeërs om die turksvybos lei.

Soos tevore opgemerk, het die Europese Unie, onder leiding van mev Merkel, pas hulp van 6 miljard Euro aan Turkye goedgekeur om die vlugtelinge op Turkse grondgebied te huisves. Eers het die Duitse kanselier beweer die migrante is ‘n “geleentheid” vir Duitsland, maar sedert sy openbare steun begin verloor het, het hulle skynbaar ‘n “probleem” geraak.

Die resultaat van die finansiële ondersteuningspakette aan Turkye is altyd dieselfde: Turkye vat die geld maar laat nog steeds die migrante deur.

Terselfdertyd word visumvereistes vir Turkse inwoners na die EU verslap tot dié mate dat alle Turke binnekort op Europese visums geregtig sal wees. En daar is ook nou weer sterker sprake van Turkse toelating tot die Europese Unie. Vir die Europese leiers is dit net te veel om te verstaan dat as die Turkse staat tot die EU toetree, dan kom die migrante ook saam.

En wat die verslapping van visumvereistes aan Turkse burgers betref: Die oo grense sal vir die vlugtelinge ook geld. Turkye maak gretig gereed om langs die weg van Europese visums van die onwelkome instromers ontslae te raak.

Die Turke gaan selfs sover as om die teenwoordigheid van die migrante op hulle grondgebied te gebruik as ‘n hefboom om toegewings van die Europesese Unie af te dwing. Of julle doen dit of dat, of ons laat die migrante deur, is die refrein. Die hele situasie is net so gek dat dit alle verstand te bowe gaan. Geen wonder nie mnr Trump het mev Merkel onlangs beskryf as “waansinnig”. Dit is nou een Amerikaner waarmee ‘n mens nie kan verskil nie.

Met die Nuwe Koue Oorlog teen Rusland, kunsmatig aangestig deur Amerika en sy brakhonde in Europa soos mev Merkel en mnr Hollande en gerugsteun deur hulle handlangers in die media, word die militêre basisse in Turkye nou weer van die uiterste belang, ‘n situasie wat Turkye gewetenloos benut om sy strategiese en politieke oogmerke te bevorder en met die Europeërs woer-woer speel.

Die nasionale psige van die Turkse volk is op sigself skisofrenies van aard en vandaar ook die tweegesigpolitiek wat hulle op die wêreldtoneel bedryf. Enersyds is hulle ‘n reaksionêre Moslemland en andersyds die een Moslemland wat die naaste lê aan die Europese beskawing. Turkye is ‘n tweeledige samelewing met een voet in Europa en die een in Klein Asië. Die Asiatiese voet is net ‘n bietjie groter en platter.

Een van die direkte gevolge van mev Merkel se rampsalige beleid jeëns Turkye is haar eie ongewildheid onder die Duitsers asook dié van haar agterryer, Hollande in Frankryk. In beide Frankryk en Duitsland is die bevolking vir ongeveer 75% teen die toelating van Turkye tot die EU gekant. En desnieteenstaande dreun Angela nog op daardie weg voort. Onbegryplik.

Mev Merkel gaan selfs sover as om gesprekke agter geslote deure met senior Turkse amptenare en regeringslui te voer sonder oorlegpleging met haar vernaamste Europese vennote. Daarna sien sy boonop haar weg oop om allerlei verklarings uit te reik oor wat die “EU” besluit het ten opsigte van kwessies soos finansiële hulp aan Turkye, verslapping van visumvereistes vir Turke en moontlike toelating van Turkye tot die Europese Unie.

Dit word haas tyd dat die Europese bevolkings van hulle ongeluksalige leiers ontslae raak en weer hulle selfrespek herwin. In Oostenryk was dit so pas naelskraap.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.