Die Sentrale Energiefonds het sy verkope van olie verdedig, en sê Suid-Afrika het toegang tot 90 dae se brent ru-olie reserwes.
Die Fonds het gereageer op ‘n berig deur die Business Day-koerant dat die fonds tien miljoen vate ru-olie in ‘n geslote transaksie verkoop het sonder om toestemming van die Nasionale Tesourie te kry.
Die koerant beweer dat dit byna die hele reserwe-voorraad was.
Die Fonds sê egter die land het toegang tot drie maande se oliereserwes, wat Suid-Afrika sal toelaat om enige markskommelings te absorbeer.
Die direkteur van die fonds, Tseliso Maqubela sê die olie is in Desember aan ‘n eenheid van Glencore, Vitol and Taleveras, teen 28 dollar per vat verkoop.
Die Tesourie sal genader word deur opposisiepartye om strafregtelike aanklagte aanhangig te maak.
Intussen is ‘n klagte van wanbesteding by die Openbare Beskermer ingedien na berigte dat die polisie luukse voertuie ter waarde van miljoene rand vir die vroue van President Jacob Zuma gekoop het.
Die polisie het bykans nege miljoen rand van sy begroting aan voertuie vir Zuma se vyf vroue bestee.